Pak jou tasse om jou droom na te jaag

09/09/2024
| Deur AfriForum Wêreldwyd
Pak jou tasse om jou droom na te jaag

Om medies te studeer in Riga, Letland

Deur Marelize Vermeulen

In Augustus 2019 klim ek grootoog en met ’n woeste poniestert op ’n vliegtuig na Riga in Letland. Nou, vyf jaar later, kan ek nie glo hoe die tyd gevlieg het nie.

Toe ons in Riga land, is dit baie warmer as wat ek verwag het, en kort daarna sak daar baie harder reënbuie uit as wat ek verwag het. Dit reën behoorlik, nie net ’n laatmiddagbui soos dié waarvoor ek in Pretoria lief geword het nie. So my eerste groot aankoop is ’n goeie reënbaadjie. Ek leer vinnig dat daar nie iets soos slegte weer is nie, net slegte klere.

Ek trek in by ’n Duitse meisie en ’n Sweedse ou wat ek op ’n Facebook-groep ontmoet het en ’n week later begin my mediese studies aan Riga Stradiņš Universiteit (RSU). My studiegroep bestaan uit diverse studente uit Duitsland, Swede, El Salvador en selfs nog ’n Suid-Afrikaner uit Johannesburg. Ná ’n dol oriënteringsweek begin die studies op ’n hoë noot. Ons ry regoor die stad met busse en trems na ons verskillende klasse toe. Anatomie word aangebied in die Theatrum Anatomicum naby die ou stad, ’n voormalig Grieks-Ortodokse kweekskool wat dateer uit 1877. Noodhulp is in Paul Stradiņš Clinical University Hospital wat in 1910 geopen is, fisika en Latyn in die Medical Educational Technology Centre (METC) en ons oorblywende basiese wetenskappe in die RSU-hoofgebou.

Die eerste semester vlieg verby, en voor ek my kom kry, is die strate wit van die sneeu en die reuk van Kersmarkte vul die lug. Net toe die sneeu gesmelt het en die lente sy kleure begin wys, kry Covid-19 ’n houvas op ons alledaagse lewe – in die middel van my tweede semester. Te midde van die paniek vlieg ek huis toe en help by my plaaslike Mediclinic met triage terwyl my lesings aanlyn voortgaan. ’n Paar maande later vlieg ek terug Letland toe. Covid-19 dikteer nog ’n rukkie aanlyn klasse voordat ons kan terugkeer na gewone kontakstudies.

Saam met die kontakstudies verwelkom ons die normaliteit van die lewe in Riga terug soos die eerste somersdag na ’n koue winter. Toerisme hervat en ’n mens kan weer reis, en ek gryp die geleentheid om iets van Nederland, Pole, Finland, Italië, Estland, Litaue, Engeland en Swede te sien met beide hande aan. Ek het ook my nuwe (en ’n paar ou Saffa-) vriende gaan besoek en gaan ’n paar keer alleen op verkenningstogte, om nie eens te praat van hoe ek Letland verken nie.

Die semesters vlieg verby en ons verruil basiese wetenskappe vir prekliniese jare en later vir kliniese semesters in die plaaslike Letlandse staatshospitale. Maar eers moes ek kliniese vaardighede in die METC leer voordat ek dit in die hospitaalomgewing kon toepas. By die METC kry jy alles van ’n plastiekarm om bloed te trek, simulasiepoppe wat op stimuli en behandeling kan reageer en poppe wat geboorte kan gee tot ’n laboratorium waar jy teatervaardighede kan aanleer. Hoe meer tyd ek daar deurgebring het, hoe meer verstom was ek oor die onderrigtegnologie.

Die studentelewe in Riga gee my ook geleentheid om navorsing te doen, my passie vir die akademie te ontdek en aanbiedings te gee by studentekonferensies in Europa. Ek raak betrokke as studenteleier, begin die RSU-tennisklub en word ’n ambassadeur vir RSU-studente. Maar die prestasie waarop ek die trotsste is, is die tradisie om ’n klein Erfenisdag-braai te hou. Dit raak elke jaar groter en groter en uiteindelik word die laaste een deur 43 mense uit 13 verskillende lande bygewoon. Die hele klomp het volgens ’n Afrika-tema aangetrek en genoeg “gees” en vleis gebring om die Suid-Afrikaanse erfenis wat ons gevier het, trots te maak.

Letland en my Riga-gesin het my ingeneem en Riga my tuiste weg van die huis gemaak. Noudat my tyd in Riga stadigaan tot ’n einde kom en daar net ’n paar maande oor is voor ek graad vang, dink ek reeds met heimwee aan my tyd in Letland. Letland het gehelp om hierdie klein Suid-Afrikanertjie se groot drome in veel meer te laat realiseer as wat ek ooit kon droom.

Hierdie is nie vaarwel nie – Letland het ’n deel van my wese geword en sal vir altyd ’n spesiale plek in my hart hê. Maar binnekort … is dit tyd om my lewe saam met my boerseun by die huis te begin – en om te sien waarheen ons drome en avontuurlike gees ons volgende lei.

Lees ook: Uit en Tuis: ’n e-pos uit Riga, Letland

Deel op

Nuutste artikels