Uit en tuis: ’n e-pos uit Pukekohe, Nieu-Seeland

20/04/2026
| Deur AfriForum Wêreldwyd
Uit en tuis: ’n e-pos uit Pukekohe, Nieu-Seeland

Uit en tuis is ’n rubriek waar ons gesels met mense wat tans oorsee woon, of wat vroeër daar gebly en gewerk het. Hierdie week gesels ons met Jaco Viviers, wat in Pukekohe, Nieu-Seeland woon.

Hallo Jaco, dit is heerlik om met jou te gesels!

Ons is oorspronklik van Centurion in Gauteng. Dit was ’n vreemde en onseker tyd in Suid-Afrika. Die regering, misdaad en veranderende werksomstandighede – onder andere BEE-vereistes by my werk – het ons diep laat nadink oor ons toekoms, en veral oor ons kinders se toekoms.

Een aand het ons ’n video oor Nieu-Seeland gekyk, en ons het net geweet. Dit het alles verteenwoordig waarna ons gesoek het in ’n land en in ’n leefstyl.

Dit is ek en my vrou, albei in ons middelveertigs, en ons twee kinders wat nou tieners is. Ons dogter is op hoërskool en ons seun doen sy vakleerlingskap in motoringenieurswese. As gesin hou ons van sport, rugby, braai, kamp en die see. Ons geniet ’n aktiewe buitelewe.

Ek werk in IT en my vrou in bejaardesorg. Ons moes albei onder begin toe ons hier aankom, maar ons het hard gewerk en vinnig in ons beroepe gegroei.

Die werkkultuur hier is anders – daar is ’n ander tempo en ’n sterker fokus op balans tussen werk en lewe. Tegnies bly die werk dieselfde, maar mense is sagter, rustiger en meer ontspanne. Dit neem ’n rukkie om daaraan gewoond te raak. Die Kiwi’s het ons ongelooflik goed ondersteun, en ons het sterk bande gebou – nie net met hulle nie, maar ook met mense van ander lande.

Die eerste twee jaar was moeilik. ’n Mens mis jou familie, ou vriende, bekende reuke en gewoontes. Dit voel soms soos ’n emosionele wipplank – een dag is alles wonderlik en die volgende dag voel jy af.

Maar dan sien jy hoe vinnig jou kinders aanpas en floreer, en dit gee jou moed. Ons bly in die pragtige dorpie Pukekohe, ’n plaasdorp met ’n hegte gemeenskap. Deur sport en skole het ons maklik mense leer ken, en vriende het familie geword.

Op die oog af lyk dit baie duurder, veral as jy huise en kos vergelyk. Maar dan kyk jy na dinge waarvoor jy nie ekstra hoef te betaal nie, soos sekuriteit, mediese sorg en dienste wat eenvoudig werk. Die staat en munisipaliteit funksioneer goed.

Ja, ons bly dalk in ’n kleiner huis en ry ’n ouer motor, maar geen prys is te groot om met oop vensters en deure te slaap, jou kinders in parke te sien speel en die natuur veilig te geniet nie. Alles is skoon, toeganklik en veilig.

Die rustigheid. Dit neem tyd om gewoond te raak aan hoe kalm alles is. En natuurlik die weer. Ons woon in die Waikato op die Noordeiland naby die weskus, en jy kan maklik vier seisoene in een dag beleef.

Absoluut. Ons is mal oor toer en kamp en ry gereeld deur die Noord- en Suideiland. Ek was ook al in Australië en een keer terug in Suid-Afrika. Nieu-Seeland is ongelooflik mooi en daar is altyd iets om te ontdek.

Ons het geleer om rustiger te raak en werklik dankbaar te wees vir ons nuwe land en sy mense. As gesin het ons nader aan mekaar gegroei. In Suid-Afrika dink ’n mens soms ons is baie anders, maar hier het ons besef hoe eenders mense regtig is – maak nie saak waar hulle vandaan kom nie.

Afrika bly in ons harte. Ons praat Afrikaans by die huis en deel ons taal en kultuur met ander. Ons braai gereeld, en selfs die Kiwi’s praat nou van ’n “braai”. Ons luister nog baie Afrikaanse musiek en kyk nou en dan ’n Afrikaanse fliek. Die Kiwi’s moedig ’n mens ook aan om trots te bly op jou erfenis.

Ek het nog altyd ’n liefde vir stories skryf gehad en het ook liedjies oor immigrasie geskryf (sien onder) – oor die pyn en aanpassing, maar ook oor die uiteindelike beloning. Afrikaans en ons kultuur leef nie net voort nie; dit groei internasionaal. Wat besonders is, is hoe ander nasies dit saam met ons begin deel, beleef en geniet.

Vir ouers en kinders wat alles agterlaat – wat oor oseane en grense stap op soek na ’n nuwe tuiste in ’n vreemde land.

Dit is ’n lied van hoop wanneer die hart swaar is, van geloof wanneer die pad onseker voel, en van vertroue dat elke traan en elke opoffering eendag sin sal maak.

Hartseer loop saam met harde werk, maar liefde dra ons vorentoe, en uiteindelik wys die lewe dat dit alles die moeite werd was.

Hierdie lied is vir ons hier in Nieu-Seeland – vir dié wat al ’n rukkie hier is en ’n liefde vir die land en sy mense ontwikkel het.

Vir die goeie vriende wat familie geword het, vir die nuwe wortels wat stilweg gegroei het, vir ’n huis wat anders lyk, maar net so eg voel.

Afrika leef steeds diep in ons harte – sy grond, sy klanke, sy herinneringe. Maar nou deel ons daardie liefde met hierdie mooi land: Aotearoa, Nieu-Seeland.

Ons is bevoorreg. Daar is drie Suid-Afrikaanse winkels in Pukekohe, en selfs winkels soos Woolworths en Pak’nSave hou Suid-Afrikaanse produkte aan. Boerewors is maklik verkrygbaar by supermarkte en slagters.

Daar is ook heelwat Suid-Afrikaners in professionele beroepe. Ons huisdokter is Suid-Afrikaans en my seun se graadhoof was ook een.

’n Nuwe lewe oor die see.

Ek is rustiger. Ek jaag nie meer net werk en geld nie. My fokus het verskuif na familie, natuur, gesondheid en betekenisvolle verhoudings.

As ek enige raad kan gee, sal ek sê: doen dit vroeër in jou lewe as jy kan. Ons voel soms ons moes dit dalk 20 jaar gelede al gedoen het. Hoe jonger jy is, hoe makliker is dit om so ’n groot skuif te maak en weer van voor af te begin. Jy pas vinniger aan, bou makliker nuwe netwerke, en het meer tyd om die vrugte van jou besluit te pluk.

Dit bly ’n groot en emosionele stap, maar as jy dit met die regte redes en ingesteldheid aanpak, kan dit ’n ongelooflike nuwe hoofstuk wees.

Deel jou storie met ons

Elke ervaring is uniek – of dit oor werk, aanpassing, kultuur, familie of net jou alledaagse leefwêreld gaan.
AfriForum Wêreldwyd bied ’n ruimte waar jou perspektief sin maak vir ander wat dalk soortgelyke paaie loop.

Stuur ‘n e-pos na wereldwyd@afriforum.co.za en ons stuur vir jou vrae om te beantwoord.

Deel op

"*" indicates required fields

This field is for validation purposes and should be left unchanged.
Hoe lank woon jy al in die buiteland?
Naam en van
This field is hidden when viewing the form

Nuutste artikels