Die wiskunde van transnasionale grootouerskap

12/09/2024
| Deur Dr. Sulette Ferreira
Die wiskunde van transnasionale grootouerskap

Grootouerskap ontvou tradisioneel op ’n eenvoudige wyse: jou volwasse kind word ’n ouer, en jy word op jou beurt ’n ouma of oupa. Hierdie gebeurtenis is gewoonlik die begin van ’n lewenslange band wat die grondslag lê vir ’n potensieel kosbare verhouding.

Met die eerste oogopslag lyk hierdie lewensveranderende gebeurtenis so eenvoudig soos ’n reguit lyn. In wiskunde word ’n reguit lyn voorgestel met die lineêre vergelyking y = mx + c. Met ’n bekende gradiënt (m) en die snypunt op die y-as (c), bly die verhouding tussen x en y voorspelbaar.

Wanneer ons hierdie liniêre vergelyking toepas op grootouerskap, kan ons verwag dat die band tussen ’n grootouer en kleinkind mettertyd sal versterk; dus kan dit voorgestel word deur ’n reguit, stygende lyn. Die unieke dinamika van hierdie verhouding is egter baie meer ingewikkeld. Eenvoudige, lineêre voorstellings kan nie die diepte en kompleksiteit hiervan uitbeeld nie.

Talle veranderlikes speel hier ʼn rol, insluitend: die persoonlikhede van die kind en grootouer, die aantal kleinkinders, die grootouer se geslag, of hulle moederlik of vaderlik is, geografiese afstand, die kwaliteit van die grootouers se verhouding met hul volwasse kinders, en hoe gereeld daar kontak is tussen die grootouer en kleinkind. Verder dra die huwelikstatus van die grootouers en volwasse kinders sowel as die ouderdom van die grootouers by tot hierdie dinamiese verhouding. Hierdie unieke verhoudings is te kompleks om deur ’n eenvoudige, wiskundige metafoor verduidelik te word.

Wanneer emigrasie by hierdie vergelyking gevoeg word, raak die situasie nog meer gekompliseerd. Emigrasie bring groot geografiese afstand, kultuurverskille en logistieke uitdagings mee. Tydsones vereis dikwels noukeurige beplanning vir al die partye om te kommunikeer. Hierdie addisionele faktore bemoeilik die dinamika van grootouerskap verder en beïnvloed die gehegtheidsband tussen grootouers en hul kleinkinders.

Emosionele gehegtheid is ’n fundamentele element van menslike verhoudings. Dit skep ’n gevoel van nabyheid en toegeneentheid en help om betekenisvolle verbindings oor tyd heen te handhaaf. Hierdie gehegtheid begin vroeg in die lewe wanneer babas ’n band vorm met hul versorgers. Volgens John Bowlby se gehegtheidsteorie (Infant Attachment Theory) word kinders gebore met ’n ingebore behoefte aan gehegtheid met hul primêre versorgers. Hy beskryf gehegtheid as ’n diep, blywende emosionele verbintenis wat tyd en ruimte oorskry.

Grootouers en ouers dien as gehegtheidsfigure en speel ’n belangrike rol in die welstand van kinders. Deur ’n verhouding met hul kleinkinders te bou, verskaf grootouers nie net onvoorwaardelike liefde en emosionele ondersteuning nie maar dien ook as ’n belangrike bron van wysheid en stabiliteit. Grootouers word dikwels rolmodelle en mentors wat familietradisies en -waardes oordra. ’n Gesonde verhouding met hul grootouers bied aan kinders vertroosting en leiding en help hulle om veerkragtigheid en hanteringsvaardighede te ontwikkel. Grootouers se emosionele betrokkenheid verryk kinders se lewens oor die algemeen en dra by tot hul karakterontwikkeling en emosionele groei.

Foto: Tima Miroshnichenko/ Pexels

Emigrasie verskuif dikwels die grootouers se tradisionele rolle: gereelde persoonlike besoeke verander na virtuele interaksie. Tegnologieë soos video-oproepe en e-posse help om kontak te behou, maar  sonder die warmte van fisiese teenwoordigheid kan dit  soms kunsmatig voel. Om fisies afwesig te wees maar tog steeds emosioneel betrokke  te wees, kan lei tot emosionele verwarring.  

Uit my gesprekvoering met grootouers as emigrasieterapeut blyk dit dat die volgende drie primêre faktore grootouerverhoudings die meeste beïnvloed:

  • Die geografiese afstand wat die grootouer en kleinkind skei
  • Hoe gereeld hulle kontak het
  • Die kwaliteit van die grootouers se verhouding met hul volwasse kind

Die wisselwerking van hierdie faktore kan die band óf versterk óf verswak, afhangende van elke gesin se unieke omstandighede. Hierdie dinamika word verder beïnvloed deur maatskaplike veranderinge, tegnologiese vooruitgang en ontwikkelende gesinstrukture. Om hierdie drie faktore te verstaan, is noodsaaklik om die hedendaagse uitdagings en vreugdes van grootouerskap te begryp.

Sleutelfaktore in die verhouding tussen grootouers en kleinkinders

1. Geografiese afstand

Geografiese nabyheid is die sleutelfaktor van gesonde verhoudings tussen grootouers en kleinkinders. Gereelde kontak lei tot grootouer- betrokkenheid asook emosionele nabyheid.

My aanvanklike hipotese was dat geografiese afstand die belangrikste struikelblok sou wees wat gehegtheid tussen grootouers en hul kleinkinders belemmer. Alhoewel afstand verhoudings inderdaad kan bemoeilik, is dit nie onoorkomelik nie. Moderne kommunikasietegnologie maak gereelde kontak tussen grootouers en kleinkinders moontlik. Dit oorbrug die gaping effektief en verhoudings kan in stand gehou word ten spyte van geografiese hindernisse.

ʼn Grootouer maak die volgende opmerking: “Ek weet afstand definieer nie my verhouding met my seun en skoondogter nie. Dit het my soms baie depressief laat voel! Maar ek het vrede daarmee gemaak omdat my seun en skoondogter hulle kinders aanmoedig om FaceTime-oproepe te maak.”

Die ouers se rol as tussengangers is noodsaaklik vir die emosionele band tussen grootouers en kleinkinders en om grootouers ingelig te hou.

Ouers se proaktiewe betrokkenheid by die fasilitering van interaksie tussen die grootouers en kleinkinders is noodsaaklik, aangesien dit verseker dat grootouers ingesluit bly in hul kleinkinders se lewens en so help om hierdie belangrike bande te koester en bewaar.

2.   Gereelde kontak

Foto: Yankrukov/ Pexels

Alhoewel geografiese afstand uitdagings inhou, is die van kontak tussen grootouers en kleinkinders deurslaggewend in die handhawing van sterk verhoudings. Gereelde interaksie is dikwels belangriker as fisiese nabyheid om ’n hegte band te bou en te handhaaf.

Gereelde interaksie stel grootouers in staat om aktief betrokke te wees by hul kleinkinders se lewens, hetsy deur daaglikse versorging, deur ervarings te deel, of bloot met hul konsekwente teenwoordigheid. Hierdie gereelde betrokkenheid skep ’n sterk emosionele verbintenis en help om ’n gevoel van kontinuïteit en ondersteuning te skep wat veral betekenisvol kan wees gedurende die kleinkinders se vormingsjare.

Minder gereelde kontak namate die kleinkinders ouer en meer onafhanklik word, is natuurlik. Die blywende emosionele nabyheid wat deur gereelde interaksie geskep en in stand gehou is, kan uiteindelik, selfs in adolessensie en volwassenheid van die kleinkind, ʼn diepgesetelde gehegtheid weerspieël wat afstand kan oorkom.

3. Grootouers se verhouding met hul volwasse kind

My navorsing dui daarop dat ’n gesonde verhouding tussen grootouers en hul kinders ’n deurslaggewende rol speel in die kwaliteit van die verhouding tussen grootouers en hul kleinkinders. Ouers is ’n belangrike skakel in die handhawing van hierdie verhouding, veral terwyl die kleinkinders nog te jonk is om direk te kommunikeer en afhanklik is van hul ouers om kommunikasie met hul grootouers te fasiliteer. Wanneer die grootouers byvoorbeeld e-pos stuur, moet die ouers dit vir die kleinkinders lees. Grootouers maak ook dikwels staat op ouers om hulle op hoogte te hou van daaglikse gebeure en mylpale in hul kleinkinders se lewens.

Die gehalte van die verhouding tussen volwasse kinders (die ouers) en hul eie ouers (die grootouers) beïnvloed die band tussen die grootouers en kleinkinders aansienlik. Die ‟middelste generasie” tree op as ’n deurslaggewende skakel wat die dinamika van die verhouding bepaal. Die ouers se houding en gedrag teenoor hul eie ouers beïnvloed direk hoe kleinkinders hul grootouers beskou en hoe hulle met mekaar kommunikeer. In wese tree die middelste generasie op as ’n brug wat die gehegtheid van die verhouding beïnvloed.

Navorsing dui daarop dat ouers dikwels as “hekwagters” optree wat die interaksie tussen hul kinders en ouers óf fasiliteer óf beperk. Hulle kan dit letterlik doen deur die gereeldheid en aard van die interaksie te beheer, of figuurlik deurdat kinders hul verhouding met hul grootouers op hul ouers se gedrag modelleer.

In my praktyk vind ek dat grootouers meer gereelde en betekenisvolle interaksie met hul dogter se kinders het as met hul seun s’n. Hulle het meer betrokke gevoel by hul dogter se swangerskap en die kinders se vroeë jare omdat die dogter haar ouers dikwels aktief insluit en hulle laat voel dat hulle deel is van dié belangrike lewensgebeurtenis. Hierdie insluiting skep ʼn gevoel van bevoorregting wat hulle toegang en betrokkenheid by hulle kleinkinders positief beïnvloed.

Foto: Getty Images/ Unsplash

Grootouerskap – ’n tydlose vergelyking

In ’n deurgaans veranderende wêreld bly die noodsaaklike rol van grootouerskap onveranderd: dit bied onvoorwaardelike liefde en ’n gevoel van veiligheid en sekuriteit aan kleinkinders.

Die veerkragtigheid en aanpasbaarheid van hierdie verhoudings beklemtoon ’n tydlose waarheid: die band tussen grootouers en kleinkinders is gewortel in liefde en wedersydse respek.

Verbinding oor fisiese afstand verg kreatiwiteit. Gesinne pas by hedendaagse uitdagings aan deur gebruik te maak van moderne kommunikasiemiddels.  Deur op emosionele bande te fokus, kan hulle verseker dat die onskatbare rol van grootouers ’n gekoesterde deel van die gesin bly. Beide ouers en grootouers speel ’n deurslaggewende rol in die deel van die verantwoordelikheid om emosionele bande te handhaaf.

Daar is geen formule wat die diepgaande bande wat gesmee word  tussen ʼn oupa en ouma met hul kleinkind kan voorstel nie. Grootouerskap word vandag herdefinieer deur die volgende stelling: Die verhouding tussen grootouers en hulle kleinkinders word nie deur geografie bepaal nie, maar deur die diepte van hul emosionele verbintenis.

Lees ook: Kuiers by jou kinders in ’n verre land

Deel op

Nuutste artikels