Liesl Schultz se Afrikaanse taalreis in Loire-vallei, Frankryk
Deur Liesl Schultz
Ek bly nou al ’n paar jaar in Frankryk en werk by ’n taalskool vir volwassenes waar ek Engels aanbied. Ek was tot onlangs ’n Engelse onderwyseres in Bordeaux. Ek het Frans as vak geneem op universiteit waar die Franse departement geleentheid skep vir studente om Frankryk toe te gaan as Engelse onderwysassistente en sodoende die taal beter te leer praat, terwyl hulle ook die kultuur leer ken. Dit was tydens my eerste jaar in Bordeaux waar ek my kêrel (nou my man) ontmoet het. Sy Engels was beter as my Frans en dus het ons eers Engels met mekaar gepraat.
Ons is nou twee en ’n half jaar getroud, maar die verskille in ons tale en kulture is altyd daar en maak die lewe baie interessant … My man vind dit baie moeilik om Afrikaans aan te leer omdat ons sinskonstruksie heeltemal anders is as Engels of Frans en die woordeskat is ’n groot uitdaging vir hom. Ek is tweetalig en Frans is my derde taal, maar Afrikaans is my moedertaal en sal altyd die taal van my hart wees. Dis om hiérdie rede dat my man stadig maar seker Afrikaans leer praat. Hy het almal by ons Suid-Afrikaanse troue verras toe hy ’n deel van sy toespraak (amper foutloos) in Afrikaans gelewer het. Die luidkeelse, positiewe reaksie van vriende en familie het hom soveel selfvertroue gegee en die motivering was dadelik daar om voort te gaan.
Ek is so dankbaar dat hy gewillig is om Afrikaans aan te leer. (Daar het – desnieteenstaande al my pogings om dit hok te slaan – alreeds ’n paar gepeperde woorde hulle pad gevind in sy woordeskat …) Ek moedig hom aan om my moedertaal te leer praat en vind ons kommunikasie met ons diere ’n goeie platform hiervoor.
Ons kommunikeer in drie tale met ons diere en my man moes noodgedwonge ’n paar Afrikaanse sinne aanleer om hulle te dissiplineer!
Hy was onlangs Nederland en Duitsland toe en was heel in sy noppies toe hy ’n paar woorde kon verstaan – diesulkes soortgelyk aan Afrikaans, veral in Nederland.
My Franse familie (wat nie een woord Engels praat nie) vind my manier van Frans praat vreeslik interessant – nie net my aksent nie, maar ook omdat ek Afrikaanse gesegdes/idiome direk na Frans vertaal (bv. jakkals trou met wolf se vrou). Hulle vind dié gesegdes baie oulik en dink Afrikaans is baie kreatief. Hulle luister ook aandagtig as ek enigiets oor ons Afrikaanse gebruike of kultuur vertel. (Ek het drie jaar gelede ’n biltongboks gebou en my skoonpa was so verlief op dié idee dat ons vir hom ook een moes maak, wat hy gereeld gebruik.)
Daar is natuurlik sekere unieke taaldinge wat ek aan my man moes verduidelik en die belangrikste was die konsep van tyd vir die Suid-Afrikaner. Die tydlyn van “now”, “just now”, “now now” en “later” (nou, netnou, nou-nou en later). Ek gebruik nooit “now now” in Engels nie, maar my man het dit nou aangeleer deur ’n direkte vertaling vanaf Afrikaans. Nie-Suid-Afrikaanse Engelssprekendes is sommer deurmekaar wanneer ek en my man al die “nows” in Engels gebruik omdat dit juis iets spesifiek/uniek is aan Suid-Afrikaanse Engels. Gooi dan nog die Afrikaanse vertaalde “noue” by en dan het jy sports!
Afrikaans is nie net ’n taal nie. Dit is die hartklop van ons kultuur en dit is ’n lewenswyse. Ek sal dié kosbare juweel lewend hou in dié klein hoekie van die Loire-vallei solank die woorde in my hart uit my mond vloei.
Skryf vir ons
Woon jy in die buiteland, of het jy dalk onlangs teruggekeer uit die buiteland? Jy kan vir ons ’n blog skryf. Stuur ’n e-pos na wereldwyd@afriforum.co.za en ons stuur vir jou vrae om te beantwoord.
Deel op
Nuutste artikels