Afrikaans oorsee: Behou jou Afrikaanse wortels

11/10/2024
| Deur Sue-Ann de Wet
Afrikaans oorsee: Behou jou Afrikaanse wortels

Vir baie Suid-Afrikaners wat oorsee woon, bly Afrikaans meer as net ’n taal. Dit is hul identiteit en ’n kosbare skakel met hul erfenis. Hoewel hulle ver van hul geboorteland is, behou baie Afrikaners in die buiteland ’n sterk band met hul taal, kultuur en tradisies.

Afrikaanse gemeenskappe oor die wêreld heen speel ’n kritieke rol in hierdie verskynsel. Of dit nou deur kultuurfeeste, musiekbyeenkomste, kerkaktiwiteite of informele saamkuiers is: Afrikaners vind maniere om hul erfenis lewendig te hou. Hierdie byeenkomste bied nie net geleenthede om taal en tradisie te laat voortleef nie, maar ook om ’n gevoel van samehorigheid in ’n vreemde land te ervaar.

Die fyn balans tussen behoud en integrasie

Dit is egter nie altyd maklik om hierdie balans tussen integrasie en behoud van jou kultuur te handhaaf nie. Die meeste Suid-Afrikaners in die buiteland besef dat dit aanpassings verg om suksesvol in ’n nuwe omgewing te integreer. Dit beteken om die taal of woordeskat van die nuwe land aan te leer en aktief betrokke te wees by die gemeenskap waarin hulle nou woon. Hierdie aanpassings beteken egter nie dat jy jou erfenis hoef prys te gee nie.

Baie Suid-Afrikaners oorsee is baie trots op hul Afrikaanse herkoms. Dit is hierdie trots wat hulle aanspoor om hul kinders in Afrikaans groot te maak, Afrikaanse musiek luister en boeke lees, en bydra tot die voortbestaan van hul kultuur. Dit is egter ook waar dat daar uitdagings is wat met aanpassing by en integrasie in ’n nuwe kultuur gepaard gaan.

Die spanning tussen die behoud van ’n eie identiteit en die druk om by ’n nuwe omgewing aan te pas is iets waarmee baie emigrante worstel. Dit verg ’n balanseertoertjie om te integreer en terselfdertyd jou eie kulturele waardes en tradisies uit te leef. In sulke tye word die teenwoordigheid van ’n sterk Afrikaanse gemeenskap ’n noodsaaklike steunpilaar.

Suid-Afrikaanse ondernemings is steunpilare vir Afrikaners in die buiteland

Of jy in Suid-Afrika of in die buiteland woon, die ondersteuning van (Suid)-Afrikaanse ondernemings en kultuurgeleenthede speel ’n belangrike rol in die versterking van die band met jou erfenis. In die buiteland help dit jou om ’n gevoel van samehorigheid te handhaaf en om jou taal en kultuur lewendig te hou.

Kultuurorganisasies, winkels met Suid-Afrikaanse goedere en ondernemings wat Afrikaanse produkte verskaf en Afrikaanse dienste lewer, dien as sleutelkomponente om hierdie verbintenis te versterk.

Hierdie verbintenis is nie net ’n wyse waarop die uitdagings van kultuurskok en aanpassing oorkom kan word nie, maar dit is ook ’n manier om die Afrikaanse kultuur buite Suid-Afrika lewendig te hou.

Deur aktief by Afrikaanse aktiwiteite betrokke te bly en Suid-Afrikaanse ondernemings te ondersteun, help emigrante om nie net hul eie identiteit te behou nie – hulle dra ook by tot die voortbestaan en groei van die Afrikaanse kultuur  buite Suid-Afrika.

AfriForum Wêreldwyd se Wêreldgids is waar Suid-Afrikaanse ondernemings van regoor die wêreld bymekaarkom om ’n gemeenskap te vorm. Op dié manier raak hulle deel van hierdie wonderlike netwerkgeleentheid.

Ondernemings van regoor die wêreld kan op die Wêreldgids opgespoor word. Hier kan jy dokters, prokureurs, finansiële adviseurs, haarkappers en vele meer opspoor wat hul dienste in Afrikaans lewer. Die Wêreldgids is egter nie net vir Afrikaanse ondernemings nie, maar ook vir Engelse ondernemings en diensverskaffers wie se dienste ook in Afrikaans beskikbaar is. Selfs al reis jy net in die buiteland, is die Wêreldgids handig: Inligting oor ambassades, gastehuise, restaurante en apteke is ook tot jou beskikking.

Die Wêreldgids is ’n doeltreffende wyse waarop jy ’n ondersteuningsbasis kan opbou vir daardie dae wanneer die verlange te veel raak en almal net té ver weg is.

Afrikaners wat hul wortels in ’n vreemde land oorplant, vind krag in die behoud van hul taal en kultuur. Al is die uitdagings van aanpassing en integrasie voortdurend, bied die sterk gemeenskapsbande en die ondersteuning van (Suid)-Afrikaanse netwerke en tradisies ’n grondslag van trots, ’n gevoel van samehorigheid en identiteit. Of dit nou by ’n kultuurfees, kerkdiens of braai is, Suid-Afrikaners in die buiteland behou steeds ’n goeie band met hul erfenis, terwyl hulle die toekoms met selfvertroue tegemoetgaan in ’n wêreld van uiteenlopende kulture.

Ondersteun jy Suid-Afrikaanse ondernemings  (hetsy plaaslik of in die buiteland) en kultuurgeleenthede, of behou ’n sterk verbintenis met jou Afrikaanse wortels? Dalk het jy raad vir ander om die reuse-aanpassingsuitdagings van emigrasie te oorkom? Stuur ’n e-pos na wereldwyd@afriforum.co.za.

Foto: Getty Images/ Unsplash

Deel op

Hoe lank woon jy al in die buiteland?
Naam en van
Hidden
This field is for validation purposes and should be left unchanged.

Nuutste artikels