Groter Afrikaanse gemeenskap besluit op dag van protes teen Bela

14/10/2024
| Deur AfriForum Wêreldwyd
Groter Afrikaanse gemeenskap besluit op dag van protes teen Bela

’n Dag van massaprotes gaan oor minder as vier weke van nou teen die Wet op Basiese Onderwys (Bela) gehou word om só die sterkste boodskap van weerstand nóg teen die gewraakte artikels wat in dié wet vervat word uit te stuur.

ʼn Resolusie is op 10 Oktober tydens ʼn Bela-aksieberaad in Pretoria deur tientalle organisasies verteenwoordigend van die groter Afrikaanse gemeenskap aanvaar om ʼn dag van protes teen Bela se artikels oor taal- en toelatingsbeleid aan te kondig.

Lede van verskeie Afrikaanse organisasies, instellings van die Solidariteit Beweging, lede van skoolbeheerliggame, onderwysers, ouers en voorstanders van moedertaalonderwys uit alle gemeenskappe gaan volgens beplanning op Dinsdag 5 November ʼn protesoptog in Pretoria hou om hulle bekommernis oor Bela aan die groot klok te hang. 

Dié besluit om protesaksie te neem tel onder die verskeie resolusies wat aanvaar is by die Bela-aksieberaad wat deur die Solidariteit Beweging, Solidariteit, AfriForum en die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS) gelei is.

Ander stappe waarop daar gesamentlik besluit is, is onder meer:

–    om voort te gaan met hofaksie indien Bela in sy huidige formaat geïmplementeer word;

–    om die DA en VF+ te vra om hulle deelname aan die regering van nasionale eenheid op te skort indien Bela in sy huidige formaat geïmplementeer word;

–    om met alles wat ons het Afrikaanse skole en Afrikaans ín skole te beskerm; en

–    om moedertaalonderrig in die algemeen te bevorder.

Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, sê hierdie resolusies is ʼn belangrike oomblik in nóg ʼn oorlewingstryd vir Afrikaans.

“Hierdie stryd kom reeds twee eeue ver. Dit is presies 200 jaar sedert Lord Charles Somerset se direktief dat Engels voortaan die enigste taal in die Kaapkolonie se skole sou wees. Nou sit ons weer met ʼn regering wat Afrikaanse skole wil verengels om politieke doelwitte te bereik,” sê Buys.

Leon Fourie, uitvoerende hoof van die SOS, sê verteenwoordigers van nagenoeg 50 belanghebbende organisasies en meer as 70 skole het die aksieberaad bygewoon en die resolusies aanvaar.

“Die wet sentraliseer mag in die hande van die staat en ontneem gemeenskappe van hulle reg op inspraak by skole. Deur die beperking van beheerliggame se magte word die gemeenskappe se skole aan groter risiko van politieke inmenging blootgestel,” sê Fourie.

Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, sê hierdie resolusies wat geneem is, is kritiek noodsaaklik in die lig van die ernstige implikasies van die wetgewing.

“Afrikaanse skole speel ʼn sleutelrol in Afrikaanse kultuurgemeenskappe en daarom is die aanslag op Afrikaanse skole en kinders ʼn daad van aggressie wat ons kultuurgemeenskappe se voortbestaan bedreig. Ons sal Bela se anti-Afrikaanse artikels met alles wat ons het beveg,” sê Kriel.

Volgens dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, is die besluit om ʼn protesoptog te organiseer nie ligtelik geneem nie.

“Ons móét soos vorige geslagte opstaan vir Afrikaanse onderrig en die belangrike kultuuroordrag wat daarmee saamgaan. Ons kan nie toelaat dat daar oor ʼn honderd jaar van nou verwytend teruggekyk word en gesê word die geslag van 2024 het sy nageslag versaak nie,” sê Hermann.

Meer inligting oor die dag van protes sal binnekort bekendgemaak word.

Die minister van basiese onderwys, Siviwe Gwarube, was ook teenwoordig by die beraad. Sy het tydens haar toespraak gesê die oplossing vir die verskille rakende Bela lê in dialoog, samewerking en wedersydse respek.

Die minister het ook verskeie kere herhaal dat sy glo die verskille oor Bela is nie onoorkombaar nie.

Sy het ook erken die outonomie van beheerliggame oor toelating- en taalbeleide was nog altyd ʼn kernpilaar van basiese onderwys in Suid-Afrika.

Onder die ander organisasies en politieke partye teenwoordig tydens die ondertekening was die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas), die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU), die DA, VF+ asook tradisionele leiers.

Deel op

Nuutste artikels