’n Mondvol herinneringe

28/04/2021
| Deur Wian
first-image

Deur Anelia Heese

Ouma Beskuit. NikNaks. ProNutro. ’n Blikkie Creme Soda verby die vervaldatum. Vakuumverpakte biltong van wie weet watter bees. Vra enige Suid-Afrikaner wat in die buiteland woon: Ons gee toe dat ons by tye hierdie items ten duurste aanskaf.

Maar wie wil nou massavervaardigde Ouma Beskuit koop as jy vars Italiaanse biscotti kan eet? Hoekom is jy in vervoering oor die sintetiese aarbeigeur van ’n Fizzer as jy ’n stroopsoet aarbei op ’n eeue oue Europese mark kan koop? Wat skuil agter die magie van Simba Mrs Ball’s blatjanggeur-tjips as jy ’n vars gebraaide shawarma kebab met warm, komplekse geur kan geniet? Hoekom verruil jy nie liefs die kalorieë van ’n glibberige, drillerige blob Peppermint Crisp-tert vir die sagte, ryk genot van ’n Duitse käsekuchen nie?

Wanneer die nostalgie ons tref, raak die kos uit ons kinderdae sinoniem met die veiligheid van ’n Suid-Afrikaanse ambassade. Die etiket van ’n blikkie Lucky Star Pilchards raak die amptelike permit van geborgenheid. ’n Wilson-toffie se papiertjie word ’n seël op ’n lugposbrief van ons mense.

En ja, as die somer weer in Europa arriveer, sal ek dalk ten duurste Oros koejawelsapkonsentraat koop. Ek sal ’n koppie daarvan in ’n plastieksakkie gooi, dit toeknoop en in die vrieskas sit. Dit sal my terugneem na ’n dag in Januarie 1996 toe ek kaalvoet op ’n siedende grondpad skole-atletiek gedoen het en ’n tannie uit haar plakkershuis aan my ’n laafnis teen 50c verkoop het.

Wanneer die verlange onuithoudbaar raak, dan soek ons trooskos. Huiskos wat ons herinner aan die land aan die suidpunt van Afrika wat ons gemaak het wie ons vandag is.

Bobotie is vir die openhartiges, braaivleis vir die pioniers. Beskuit word nie deur die atmosferiese gesteldheid geïntimideer nie en sal jou getrou op ’n ossewa of sneltrein vergesel.

Mieliepap is ’n oplossing vir rasende tieners wat vroegoggend van Vleesbaai se strand terugkeer. Dis ’n oomblik van rus onder die wingerdkappe saam met Gladys, waar sy haar maal in ’n verbleikte roomysbak vir “mirrag” met my deel.

Pannekoek is ’n aangename verrassing op ’n skoolaand ná ’n donderbui. Dis ’n fondsinsameling wanneer die beslag in ’n 50 liter-oliedrom met ’n tuinvurk geklits word.

Wanneer ’n familielid ’n huldeblyk opneem en vir Herklink stuur om dit in ’n virtuele begrafnisdiens te verwerk, word die mooiste dinge oor geliefdes gesê. Daar word hulde gebring aan hul pligsgetrouheid, familieverhoudings en stokperdjies. Die hulde is dikwels verweef met ’n herinnering aan kos.

Daar is die storie van die oom wat vir sy Namakwalandse familie gaan kuier en tot skemeraand met die kinders krieket speel. Die wedstryd word met ’n maal van boerbrood, kaiings en korrelkonfyt afgesluit.

Daar is die tannie wat ander graag by haar huis ontvang en altyd met koffie regstaan – sodanig dat sy sélf agt koppies koffie per dag drink.

Daar is die oom wat by die spoorweë gewerk het en elke middag die tafel in die kantoor proppers gedek het om die kos wat sy vrou vir hom ingepak het te nuttig.

Daar is die matriarg wat plegtig elke Sondag ’n manjifieke melktert gebak het, en toe ’n vriendin die befaamde familieresep volg, toe “bak die ding nie eens ’n halfduim hoog nie”.

Soms moet ons met die dood gekonfronteer word om te besef hoe belangrik ons daaglikse brood is, en hoe geheg ons aan die mense is saam met wie ons brood breek. Voedsel is fisiese sekuriteit, en kos is geestelike geborgenheid. Die Infeksievoorkoming- en Beheerraad se Februarie 2021-verslag dui aan dat byna 12 miljoen Suid-Afrikaners weens die pandemie se impak op voedselpryse en werkloosheid honger ly. Ons medeburgers verdien beter: Beter kos, ’n beter lewe, ’n beter huldeblyk.

Hierdie skryfstuk het oorspronklik op Herklink se webtuiste verskyn.

 

Lees ook: ’n Skrikkeljaar vol vrees

Deel op

Nuutste artikels