Terwyl die begin van Desember ’n vreugdevolle tyd is waartydens ons vol verwagting uitsien na ’n see- of bosvakansie en Kerslysies wat deur die kleinspan opgestel word, hou dié tyd van die jaar ook diep verlange en nostalgie in. Met Kerstyd dink ons altyd aan die kinders en kleinkinders of die broers en susters wat aan die ander kant van die wêreld die viering op hulle eie voortsit. Ons het die week met Michelle Vosloo gesels om te hoor hoe hulle Kersfees in Switserland vier.
- Is daar interessante Kersgewoontes en -tradisies?
Natuurlik eet die mense in Switserland die meeste sjokolade in die wêreld en dus is ’n Adventskalender ’n moet in ons huis. Ons sal beetlanterns maak met kersies in en in die straat loop en liedjies sing. Daar is oral openbare, opelug ysskaatsbane wat ons gereeld besoek.
2. Hou jy by die ou tradisionele eetgoed en vierings of vier jy Kersfees op nuwe maniere?
Sovêr as wat dit moontlik is, keer ons terug na waar ons vandaan kom vir Kersfees en geniet ’n tradisionele braai. Indien dit nie moontlik is nie hou ons ’n potjie in die sneeu.
3. Is daar enige ander interessante tradisies in Switserland?
Ja,die Kersbome hier is regte bome en nie van plastiek nie. Kort na die nuwe jaar hou die Switsers ’n Kersboomvreugdeviering en almal bring hul boom en brand hom terwyl hulle warm wyn en brood geniet!