Makietie by die Maze: ’n lewendige viering van Suid-Afrikaanse gees in Victoria

16/10/2024
| Deur AfriForum Wêreldwyd
Makietie by die Maze: ’n lewendige viering van Suid-Afrikaanse gees in Victoria

In 2023, het Hendrika Jooste, bekend as The Migrant Whisperer, en Dr. Christina du Toit opgemerk dat ná die isolasie van COVID-19 baie Suid-Afrikaanse vroue in Victoria, Australië nog geïsoleerd gevoel het en ’n gebrek aan ’n sterk ondersteuningsnetwerk gehad het. Hulle het ook gesukkel om professionele geleenthede in hul nuwe omgewing te vind.

Vasbeslote om hierdie uitdagings aan te spreek, het die duo Floreer Oorsee (Flourish Overseas), ’n reeks oggendteefunksies, bekendgestel om sosiale en professionele verbintenisse onder Suid-Afrikaanse vroue te bevorder. Die reaksie was oorweldigend positief met deelnemers wat ’n meer uitgebreide geleentheid wil hê wat hulle gesinne insluit.

Francois en Tania Steyn, eienaars van Brookfield Maze, wat al lank daarvan droom om ’n Suid-Afrikaanse fees te hou, het ook betrokke geraak. Die idee van ’n naweekwegbreek het in Junie gestalte gekry oor ’n informele koppie koffie saam met Hendrika. Deur van haar netwerk gebruik te maak, het Hendrika uitgereik na sleutelfigure insluitend Steven Phyffer van Oorsee.com, ’n sosialemediaplatform ontwerp om Suid-Afrikaanse immigrante te verenig. Met Oorsee se betrokkenheid, het die geleentheid vaart gekry en spoedig is die konsep vir “Makietie by die Maze” gebore.  

Vir diegene wat nie bekend is met die term Makietie nie – geleen uit Zoeloe – dit beteken ’n groot fees of groot partytjie. Die geleentheid is geskeduleer vir die langnaweek ná Erfenisdag in Suid-Afrika, van Vrydag 27 September tot Sondag 29 September 2024 om saam met die AFL Footy-finaal in Melbourne te val, wat dit die ideale tyd gemaak het vir ’n gemeenskapsbyeenkoms en gratis kampering.

Die geleentheid se program het vinnig in plek geval en toe kaartjies te koop was, het die kampeerplekke binne ’n week uitverkoop. Vir diegene wat nie ’n plek by die Maze kon verseker nie, het nabygeleë kampterreine, gaste-akkommodasie en karavaanparke hul tydelike tuiste geword. ’n Spesiale dankie aan Oorsee.com, SA Events en AfriForum Wêreldwyd vir hulle bemarkings- en borgskappogings.

Met die kaartjies wat aan Suid-Afrikaners verkoop is en 295 dagbesoekers by Brookfield Maze op Saterdag, insluitend plaaslike inwoners en vakansiegangers, was die totale aantal besoekers op Saterdag ongeveer 500 mense. Hulle het die mark en ander aktiwiteite geniet en Suid-Afrikaanse ondernemings soos Let’s Braai en MannaBrew Australia, saam met plaaslike markstalletjiehouers, kon hulle produkte aan ’n nuwe marksegment bekendstel.

Daar was ’n fees van Suid-Afrikaanse lekkernye, met Bushman Meats wat boereworsrolle, biltong en ander tradisionele gunstelinge verskaf het. Valley View Foods bied kerrie en rys en jaffels, en Glenbosch Wine Estate bedien vetkoek en maalvleis saam met hulle beroemde Rooibos Gin. Die kafeteria by Brookfield Maze het ook Suid-Afrikaanse bier en koeldranke verskaf. Dit was ’n ware viering van geure, wat almal herinner het dat hoender in Suid-Afrikaanse kultuur feitlik as ’n groente beskou word.

Die kinders kon aan handwerkaktiwiteite deelneem en hulle gesigte laat verf wat baie goed gedoen is deur plaaslike Suid-Afrikaanse kunstenaar Elzette Bester. Later in die middag het almal – volwassenes ingesluit – lekker gekuier en aan boeresport deelgeneem, wat deur Susan de Lange en Judy van Tonder gefasiliteer is. Die wenners het pryse van The South African Shop in Templestowe en Caulfied ter waarde van $400 ontvang. Terwyl die bokdrolspoeggeleentheid ’n probleem teëgekom het as gevolg van Australië se streng gesondheids- en veiligheidsreëls, was gekleurde kougomballe ’n kreatiewe en higiëniese plaasvervanger.

Potjiekosentoesiaste het die dag spandeer om hulle geregte voor te berei, wat in Masterchef-styl deur Steven Phyffer, Louw van Tonder en Leo de Lange beoordeel is. Die wenspan, JD Steenkamp en Wouter van Heerden, het die gesogte No 4-potjie gewen wat deur Tony’s Quality Meat geborg is. Ander pryse sluit ’n biltongmaker van Kalahari Khabu, ’n geskenkpak van Bushman Meats, en ’n lugballonvlug vir twee, geborg deur Brookfield Maze in.

Die hele naweek lank het bywoners ’n ryk verskeidenheid van musiek, storievertelling met geliefde karakters soos Liewe Heksie en Bennie Boekwurm, en tradisionele boeremusiek geniet, met vergunning van Wimpie en Phillip van Die Strandloper-radiostasie. Saterdagaand was daar ’n lewendige danspartytjie, en Sondagoggend het pastoor Onida Weir ’n sielroerende boodskap gebring, gekomplementeer deur die musiek van Ilze Kellerman.

Die feesvieringe is afgesluit met drie lammers op ’n spitbraai, mildelik geborg en verskaf deur plaaslike Suid-Afrikaanse boere John en Zoi van Gaza Lamb. Hendrika se man, Petrus, was verantwoordelik daarvoor om seker te maak dat middagete betyds bedien word. Met vergunning van Sandy van Durbalicious (die tuiste van Suid-Afrikaanse piekels en speserye), is heerlike slaaie deur Tania Steyn, die kafeteriapersoneel en vrywilligers voorberei. Om die feesmaal af te sluit, is ’n dekadente malvapoeding (gemaak deur Karen Swanepoel van Valley View Foods), saam met jellie en vla, en roomys, deur Floreer Oorsee verskaf en geborg.

Namate die naweek tot ’n einde gekom het, het gelukkige bywoners die organiseerders gevra om die geleentheid ’n halfjaarlikse tradisie te maak. Nog nooit het soveel Afrikaans- en Engelssprekende Suid-Afrikaners, saam met hulle maats en kinders, só in harmonie bymekaargekom nie. Jy hoor Afrikaans oral, en met drie pragtige sonskyndae het dit weer bietjie soos huis gevoel. Gelag, nuwe vriendskappe en gedeelde stories het die lug gevul, en toe die laaste afskeid geneem is, kon die organiseerders nie anders as om trots te voel op die netjiese en skoon kampplek wat deur bywoners agtergelaat is nie.

Planne is alreeds aan die gang vir Makietie by die Maze 2025, met ’n nog groter fees op die horison.

Het jy geweet AfriForum Wêreldwyd bied ’n gratis diens waar jy enige Afrikaanse byeenkomste of feeste op ons platform kan bemark? Laat weet ons van enige lekker Afrikaanse byeenkoms in die buiteland deur vir ons ’n e-pos te stuur na wereldwyd@afriforum.co.za.

Deel op

Nuutste artikels