Staan opsy Apple, Microsoft – die VOC dra (steeds) die kroon

21/05/2020
| Deur Ilze Nieuwoudt
Histories-gesproke_VOCvsmaatskappye

Visual Capitalist se vergelyking van die finansiële sterkte van die VOC teenoor die grootste hedendaagse maatskappye.

In die Suid-Afrikaanse geskiedenis het die Vereenigde Oost-Indische Compagnie (oftewel die VOC) sinoniem geword met name soos Jan van Riebeeck en die Kaap van Goeie Hoop. Die VOC en die Kaap se skakel in ’n breër handelsnetwerk is waarskynlik algemene kennis. Dit is egter die omvang van dié multinasionale handelsmaatskappy wat mense vandag nog die ore laat spits en selfs hedendaagse reusemaatskappye soos kinderspeletjies laat lyk.

’n Begin word gemaak

Die VOC het sy ontstaan gehad danksy die invloed van die destydse state-generaal, die hoogste gesag van Nederland, wat ses Nederlandse speseryhandelsmaatskappye oorreed het om tot ’n enkele maatskappy saam te smelt. Teen die einde van die 1500’s het die Portugese handelaars die speseryhandel met die Ooste oorheers. Die stigting van die VOC in 1602 het die verloop van die geskiedenis egter dramaties verander. In die daaropvolgende bykans 200 jaar is die grootste multinasionale maatskappy tot nog toe gevestig.

Hoe groot is groot?

Die VOC het gedurende sy bestaan sy mededingers in die speseryhandel behoorlik uitoorlê. Volgens die organisasie TANAP (Towards a new age of partnership) wat die gemeenskaplike geskiedenis van Nederland, Suid-Afrika en Asië bestudeer, het die VOC van 1602 tot 1796 werk verskaf aan nagenoeg een miljoen Europeërs. ’n Totaal van 4 786 “Compagnie”-skepe het heen en weer op die handelsroetes gevaar, en handel gedryf met nagenoeg 2,5 miljoen ton Asiese handelsware. Die maatskappy sou uiteindelik meer as ’n miljoen skeepsvaarte na Asië onderneem – meer as al die ander Europese handelsmaatskappye saam.

In teenstelling met die VOC het hul Britse eweknie, die Engelse (later bekend as die Britse) Oos-Indiese Kompanjie, minder as 2 700 skepe gehad. In vergelyking met die Nederlanders kon hulle slegs nagenoeg ’n vyfde van die handelsware verskeep.

Die VOC se reusesukses gedurende die 1600’s was hoofsaaklik te wyte aan die maatskappy se monopolie van die speseryhandel, wat hulle ook in staat gestel het om die prys van speserye te kon vasstel.

Teen die einde van die sewentiende eeu het handelsbehoeftes in Europa aansienlik verander en die fokus is eerder na die handel in tekstiele, koffie en tee verskuif. Hierdie keer het die VOC nie oor ’n monopolie beskik nie, maar sy goed gevestigde roetes vir die heffing van tol en belasting ingespan. Sodoende het die geld vir dié maatskappy steeds ingerol.

Die winde van verandering het egter weereens gewaai en teen die einde van die 1700’s het die VOC se skuld en die wankelende politieke omstandighede in Nederland die eens magtigste maatskappy finaal gebreek. Teen die einde van 1800 het die VOC tot niet gegaan.

Maar wat van Apple en Microsoft?  

Volgens die hoofredakteur van die aanlyn nuusblad Visual Capitalist, Jeff Desjardins, was die sukses van die VOC sodanig dat dit hedendaagse maatskappye behoorlik op hul neuse laat kyk. In Visual Capitalist se vergelyking is die twintig suksesvolste maatskappye (insluitende Apple, Microsoft, amazon, facebook, Samsung en Johnson & Johnson) se topwaarde vergelyk met die inflasie-aangepaste waarde van die VOC op sy piek. Daarvolgens was die VOC op sy sterkste net so suksesvol as al twintig hedendaagse topmaatskappye gesamentlik – ’n allemintige $7,9 triljoen sterk!

Deel op

Nuutste artikels