COVID-19 se inperkings stel nogal hoë eise aan ons verbeelding. Na al hierdie dae alleen tuis, mis ek mense, maar ek mis dit net soveel om rond te beweeg. In die week voor inperking was ek twee dae lank in die Wes-Kaap. Die aand tussenin het ek op Strand se strand gaan sit en wag vir die sonsondergang. Dit was een van die mooistes ooit en ek geniet nou nog die herinneringe en foto’s. ’n Rolverdeling van meeue, een lui seeleeu en ’n groep branderryende dolfyne het die prentjie ingekleur. Ten spyte van heelwat beurtkragbeurte deur die dag, kon die knaap by die hoekkafee ’n sjokoladeroomys vir my saamskraap. Nee, die lewe kon nie beter op daardie oomblik nie …
En toe begin die lang tyd tuis, wat regtig lekker is, maar die verleidelike stemme van ver horisonne hou nooit op roep nie.
Al van vroeg 2019 af, weet ek my ma se broer en skoonsus, hulle dogter, skoonseun en twee kleindogters beplan ’n epiese reis vir 2020 deur die Noord-Kaap en Namibië. Nog twee van hulle dogters en ’n skoonseun woon op twee verskillende plekke in Engeland en hulle seun en sy gesin in die Kaap. My niggies en neef, hulle gesinne en ek het almal maar so sporadies kontak, soos dit maar met die gejaagde lewe gaan. Ek het ook vergeet wanneer die reis sou begin.
Die 9de Mei gesels ek met my niggie in Londen en sy vertel my dat die reis pas sou begin het as dit nie vir die COVID-19-inperkings was nie, en dat die familie besluit het om tog voort te gaan, maar met ’n virtuele reis op WhatsApp en Facebook. Beste van alles, hulle vra of ek wil “saamry”. Op die ou einde toer ‘n hele groep familie en vriende saam, van Engeland en die Kaap, tot Pretoria en die Wes-Rand.
Vroeg elke oggend plaas my tannie ’n kaart op WhatsApp van die roete of keuse van roetes wat die dag gevolg gaan word. Ons bespiegel dan oor waar ons deur die dag kan aandoen en wat ons graag wil sien. Van die mense wat flukser is, laai ’n foto van ontbyt op – van die krummelpap wat my ma-hulle in die Nokland so graag geëet en gemaak het, tot skons en wafels.
Deur die dag laai mense van die wonderlikste foto’s op – sommige dateer van vorige reise na dieselfde plekke, tot mooi foto’s uit tydskrifte en brosjures wat ingeskandeer word, tot aanlyn video’s van die plante, diere, reptiele of voëls wat in daardie omgewing voorkom. Familiestaaltjies word ook vertel, byvoorbeeld oor Kuiseb Canyon:
Op een van ons reise het ons met broer At gereis ‒ dit was weer deur die berge (’n korter pad as die hoofweg) ‒ en soos gewoonlik stop ons vir middagete in die Kuiseb Canyon. Daar is ’n lekker braaiplek op die sand in die skadu van enkele bome. Daar vertel At my ’n interessante verhaal.
By ’n vorige geleentheid het hulle dieselfde gedoen. Terwyl hulle gewag het vir die kole, het At se seun Jan, wat destyds net ’n tjokkertjie was, daar rondgespeel toe ’n skerpioen hom steek. Hulle het geen noodhulpkissie in die motor gehad nie, en was paniekerig omdat Jan simptome van trauma begin toon het. At het onthou dat hy een keer gehoor het dat alkohol help as dit aangewend word op die wond, maar hulle het dit ook nie by hulle gehad nie. At het hard gebid en skielik ’n halwe bottel brandspiritus in die sand sien lê. Hy het dit dadelik aangewend en Jan het onmiddellik verbeter!
Deur die dag dink ons planne uit vir wat ’n lekker aandete sal maak, bespreek die besienswaardighede, terg mekaar, maak grappe en beplan die aand se slaapplek.
Wat die foto’s aanbetref, moet ek noem dat my ma se broer ’n uitnemende fotograaf is en dat sy foto’s van vorige reise in die areas vir daaglikse hoogtepunte sorg.
Die Engelse se woordeskat brei flink uit en sluit nou ook woorde soos padkos en tjokkertjie in!
Van my gunsteling bestemmings tot nou toe was die Richtersveld en natuurlik die duine van die Namib! Kolmanskop se spookagtige verlate huise was darem ook grillerig mooi en Hentiesbaai het vrolike herinneringe aan ’n besoek daar saam met my ouers in die 1970s opgeroep.
Hierdie reis is ’n fees – ons sien letterlik ALLES wat daar is om te sien. Koste is geen probleem nie. Motors raak nooit onklaar nie. Niemand verslaap of verdwaal nie. Die weer kan nie ons planne in die wiele ry nie. Eetgoed maak ons nie vet nie. Maar ons leer baie en leer ook mekaar beter ken.
My hart gaan baie seer wees wanneer ons weer “tuis” aankom. Ek kan beslis so ’n reis aanbeveel. Wat baie goed werk, is dat ’n mens ’n roete kies met inligting wat geredelik beskikbaar is en wat ten minste een van die medereisigers redelik goed ken. Verder is ’n groep van minder as twintig mense lekker, want terwyl sommige van ons moet werk bedags, het van die ander weer tyd om inligting te soek en te laai. Almal moet ’n goeie sin vir humor hê. En natuurlik sterk verbeeldingskrag.
As ek DV eendag op my aftreehuis se stoep sit, gaan ek hierdie onthou as een van die beste reise van my lewe en ek sê opreg dankie vir die voorreg dat ek (en my hond!) kon “saamry”!