Doodskampe is wat sommige dit genoem het. Die konsentrasiekampe van die Anglo-Boereoorlog (ABO) spook vandag nog by talle Suid-Afrikaners en mense se fassinasie met die gebeure in hierdie kampe was reeds die inspirasie vir die samestelling van tientalle boeke oor die onderwerp. Belangstellendes kan skaars genoeg kry van hierdie bykans onuitputlike bron van die geskiedenis. Waar daar egter in die verlede net op die enkele oorvertellings en dagboekinskrywings van veral vroue in die kampe staatgemaak is vir inligting en familienavorsers in argiewe moes rondsoek in die hoop om net ’n stukkie inligting oor hul voorouers se verbintenis met die kampe te kry, het die internet ’n tyd gelede ’n nuwe wêreld ontsluit met die samestelling van die British Concentration Camp Database (BCCD).
Onder die leiding van dr. Elizabeth van Heyningen van die Universiteit van Kaapstad en ’n span navorsingsassistente is daar ’n omvattende en gebruikersvriendelike databasis met inligting oor gevangenes in dié kampe saamgestel. Volgens die webwerf is die ontwikkeling van die databasis deel van ’n aaneenlopende projek. Die databasis kan besoek word by www.http://www.lib.uct.ac.za/mss/bccd/ of soek vir die soekterm “BCCD” op Google.
Betroubare bronne
Die databasis is saamgestel uit ’n verskeidenheid betroubare bronne insluitend kampregisters wat in die Nasionale Argief bewaar word. Volgens die webwerf verskil die gehalte van die registers en hoewel sekere registers verlore geraak het, is daar ander wat selfs ná die oorlog herskryf is en waarvan die oorspronklikes nie behoue gebly het nie. ’n Verdere probleem is die leesbaarheid van en foutiewe inligting wat telkens in oorspronklike en herskrewe registers na vore gekom het. Daarbenewens is staatskoerante van die destydse Transvaal en Oranje-Vrystaat waarin kampsterftes aangeteken is ook as bronne gebruik. “Hoewel hierdie bronne volledig en akkuraat was, is sommige sterftes nie aangemeld nie. Daar is byvoorbeeld ongelukkig ’n gaping in die Balmoral-kampregisters in die tyd toe epidemies daar hoogty gevier het. Daarbenewens blyk dit asof die lettersetters Engelssprekend was en dikwels probleme met Afrikaanse name gehad het wat het tot gevolg gehad het dat foute in die gedrukte weergawes voorgekom het,” luidens die webwerf.
Sterftes soos dit in die P.L.A. Goldman-lys aangeteken is, is ook as bron vir die samestelling van die databasis gebruik. Goldman het volgens die webwerf op versoek van generaal Louis Botha die lys saamgestel om inligting oor alle sterftes in die Boererepublieke gedurende die oorlog aan te teken.
Volledige databasis
Die BCCD-databasis bevat omvattende inligting van persone wat in die konsentrasiekampe aangehou is. Dit dokumenteer die van, voorname, titel, geslag, ras, nasionaliteit, beroep, status, plaasnaam, geboorte- en sterftedatum en die naam van die kamp waarin die persoon aangehou is. Hierdie inligting is in baie gevalle volledig opgeteken met skakels na ander familielede, ’n lys van persone wat almal van dieselfde plaas afkomstig was en so meer. Hierdie indrukwekkende hulpmiddels maak die soektog vir selfs die amateur-familienavorser soveel meer eenvoudig.
Die kampe en die syfers
’n Bykomende interessante afdeling van die BCCD is die omvattende inligting wat oor elke afsonderlike kamp beskikbaar gestel word. Die kampe is alfabeties gelys en bied inligting soos die getal sterftes wat in die spesifieke kamp aangemeld is. Grafieke sit ook die verspreiding van sterftes oor die leeftyd van die kamp uiteen.
Soek só na jou voorgeslag
Die stelsel is uiters gebruikersvriendelik en bied verskeie opsies waarvolgens inligting gesoek kan word. Gestel jy beskik net oor die plaasnaam van ’n voorouer wat vermoedelik gedurende die oorlog in ’n konsentrasiekamp was, is daar die opsie om volgens dié inligting voorouers te probeer opspoor. Daarbenewens kan die soektog ook volgens die afsonderlike kampe en natuurlik die persoon se naam of van gedoen word.
Leesgenot vir geesdriftiges
Vir geesdriftiges wat selfs nog meer wil weet oor die oorlog en die ervarings van mense wat in die kampe geleef het, bevat die BCCD ook ’n leeslys met honderde boeke, artikels, joernaalinskrywings en ander verwante bronne wat nageslaan kan word. Hoewel in die minderheid het talle van die artikels ook direkte webskakels sodat die artikels gerieflik aanlyn besigtig kan word. Daarbenewens bevat die webwerf ook skakels na die webwerwe van die Anglo-Boereoorlogmuseum, die Suid-Afrikaanse Genealogiese Vereniging en die Suid-Afrikaanse Nasionale Argief.