Vrae oor die grondwetlikheid van die driejaar-emigrasiereël
Baie Suid-Afrikaners wat op die punt is om te emigreer is woedend oor die instelling van ʼn nuwe belastingreël. Dié reël bepaal dat hulle eers drie jaar nadat hulle nie meer ingesete belastingbetalers in Suid-Afrika is nie ʼn enkelbedrag uit hul uittree-annuïteite en sommige bewaringsfondse in Suid-Afrika mag onttrek.
Sommige rolspelers in regs- en rekeningkundige beroepe bevraagteken die grondwetlikheid van die verandering. Dit is egter nie ʼn eenvoudige saak nie.
Mientjie van der Merwe is ʼn onafhanklike spesialisbelastingadviseur en ʼn voormalige direkteur in die afdeling van die nasionale tesourie wat verantwoordelik is vir die opstel van pensioen- en belastingwetgewing. Sy sê die voorgestelde verandering handel oor toegang tot private spaargeld. Sy verwys na artikel 25 van die Handves van Regte in die Grondwet wat handel oor eiendomsreg en spreek haar kommer uit dat die regering jou spaargeld met hierdie reël in die wisselvallige Suid-Afrikaanse ekonomie wil hou lank nadat jy jou belastingverblyf verbreek het en nie meer ʼn ingesete belastingbetaler is nie.
Tans vereis die emigrasieproses vir valutabeheerdoeleindes goedkeuring van die Suid-Afrikaanse Reserwebank. Die verandering wat in vanjaar se begroting aangekondig is, sal dié stelsel vervang met ‘n belastingverblyftoets wat by die Suid-Afrikaanse Inkomstediens berus. Laasgenoemde sal vereis dat Suid-Afrikaners drie jaar of langer opeenvolgens nie meer ingesete belastingbetalers mag wees nie voordat hulle toegang tot hul aftreespaargeld kan kry. Eers dan sal hulle ʼn enkelbedrag uit hul uittree-annuïteite en bewaringsfondse mag onttrek. Hierdie verandering tree op 1 Maart 2021 in werking.
Van der Merwe sê mense het bygedra tot fondse waartoe hulle nie toegang kon kry alvorens die reëls hulle toegang gee nie. Een sodanige reël was dat toegang verkry kon word in geval van ʼn formele of finansiële emigrasieproses; daar is nooit verwys na ‘n tydperk van belastingverblyf nie. In werklikheid kon ʼn mens 60 dae voor jou vertrek uit Suid-Afrika nog van hierdie proses gebruik maak. “Nou word die reëls verander en dit beperk jou toegang veel meer as die oorspronklike reëls wat jy as bydraende lid van die fonds aanvaar het.”
Sy erken dat dit duur en moeilik sal wees om te bewys dat dit ongrondwetlik is. Die welgesteldes het óf reeds geëmigreer óf hulle hou meestal nie ʼn groot deel van hul bates in uittree-annuïteite of bewaringsfondse nie. Die mense wat geraak word, is diegene wat die meeste van hul bates in hierdie fondse het en die enkelbedrag nodig het vir die vertrekbelasting wat betaalbaar raak sodra jy jou belastingverblyf in Suid-Afrika verbreek. Verbreking van verblyfreg lei tot ‘n geagte vervreemding van alle wêreldwye bates en hulle sal kapitaalwinsbelasting moet betaal op baie ongerealiseerde winste.
Hugo van Zyl, ondervoorsitter van die werkgroep vir persoonlike en werknemersbelasting by die Suid-Afrikaanse Instituut vir Belastingkundiges (SAIT), sê die grondwetlikheid van die verandering is op komiteevergaderings van SAIT en die Suid-Afrikaanse Instituut vir Geoktrooieerde Rekenmeesters (SAICA) bevraagteken. Ekspats in lande wat nie met Suid-Afrika ‘n ooreenkoms het nie kan nou voor die uitdaging te staan kom om die SAID te oortuig dat hulle nie meer in Suid-Afrika woonagtig is nie. Die vermindering van die finansiële voetspoor op die vertrekdatum, nie eers vier jaar later nie, was dikwels die oortuigende of laaste bousteen wat die voorneme getoon het om nie op die datum van aftrede na SA terug te keer nie. Die reg op toegang tot jou private spaargeld is nou eensydig verwyder.
Toe die aanvanklike wysiging in die konsepwysigingswetsontwerp op belastingwette gepubliseer is, is daar gedreig met klas-aksie. Volgens Van Zyl het ‘n toegewing die woede egter laat bedaar. Dié toegewing behels dat diegene wat hul emigrasie-aansoeke voor 28 Februarie volgende jaar indien tot 28 Februarie 2022 tyd het om volgens die ou reëls goedkeuring te verkry.
Aneria Bouwer, belastingvennoot by die regsfirma Bowmans, sê toegang tot bewaringsfondse en uittree-annuïteitsfondse by finansiële emigrasie (die SARB-proses) is ‘n uitsondering op die normale reël dat hierdie fondse slegs by aftrede verkry kan word. Sy merk op dat belastingverblyf tans nie bepaal dat jy geregtig is op ‘n voortydige onttrekking uit ‘n uittree-annuïteit of bewaringsfonds nie. Ingevolge die wysiging sal die reg om voor aftrede toegang tot hierdie fondse te verkry afhang van wanneer jy jou belastingverblyf verbreek. Daar is groot ongelukkigheid oor die voorstel dat toegang eers toegestaan word drie jaar na die verbreking van belastingverblyf. “Soos ek die saak verstaan, word verdere voorleggings tans aan die nasionale tesourie gedoen oor die wagtydperk. Een van die argumente in hierdie verband is dat mense wat tans emigreer toegang tot die kontant nodig het om hul belasting, die koste van emigrasie en die koste van die vestiging in die buiteland te betaal. Ek stem saam dat dit problematies is, maar ek dink nie dit is ongrondwetlik nie,” sê Bouwer.
Joon Chong, vennoot by die regsfirma Webber Wentzel, is ook nie oortuig dat die driejaarreël ongrondwetlik is nie. “Die beperking van enige fundamentele reg is regverdigbaar. Na my mening is die beperking waarskynlik geregverdig omdat die finansiële emigrasieproses vervang word.”
Van Zyl sê partye en diensverskaffers wat geraak word, moet voortgaan om deur die professionele liggame waarvan hulle lede is druk uit te oefen op die nasionale tesourie en die SAID.
Lees ook: Die driejaarreël en wat dit beteken vir Suid-Afrikaners wat die land verlaat