Suid-Afrikaners is reg oor die wêreld versprei, en met die COVID-19-pandemie is dit nóg moeiliker as gewoonlik om die feesseisoen saam met familie te spandeer. Met baie Suid-Afrikaners gestrand in verskillende lande, of wat bloot bang is om te reis uit vrees vir verdere inperkings, is 2020 se Kersgety ’n ongekende nuutjie. Ons loer hoe Kerstradisies reg oor die wêreld verskil en deel sommer ’n bietjie Suid-Afrikaanse nostalgie.
Nieu-Seeland
In Nieu-Seeland val Kersfees in die middel van die somervakansie en baie Nieu-Seelanders spandeer die feesseisoen in die buitelug. In Nieu-Seeland is jy nooit meer as 128 km ver van die naaste strand nie, omdat dit ’n eiland is. Die gevolg is dat baie mense kies om die Kersgety op die strand te spandeer. Kinders los graag vir Kersvader se takbokke wortels en selfs ’n bier vir Kersvader. Nieu-Seelanders het ook hulle eie kersboom genaamd Pōhutukawa. Dié boom, met sy groot, rooi blomme wat as kersversierings gebruik word, word al sedert die 1800’s met Kersfees geassosieer. In Nieu-Seeland is dit algemeen om op Kersdag te braai, en die gewildste vleis is ham en wild. Vir nagereg word warm vrugtepoedings met roomys en vla bedien.
Australië
Soos in Nieu-Seeland is Kersfees ’n somer-affêre, maar ten spyte van die hitte is die versierings redelik tradisioneel. Uniek aan Australië is wel die bondels “Kersbos” waarmee Australiërs hulle huise versier. Dié inheemse plant het klein, groen blaartjies en roomkleurige blomme. In die somer word die blomme egter ’n diep rooi en in sommige areas val dit oor Kersfees af. In Australië lui die tradisie ook dat Kersvader sy takbokke ’n breek moet gee en eerder kangaroes gebruik. Verder ruil hy ook sy uitrusting en drink selfs ‘n koue bier om hom te verfris. Op Oukersaand koop baie mense seekos vir hulle Kersete en op Kersdag eet die gesin gewoonlik middagete saam; die ete kan bestaan uit braaivleis, seekos of tradisionele kookkos.
Kanada
Kanada se gevarieerde koloniale geskiedenis maak dié land ’n hutspot van Kerstradisies van reg oor die wêreld. Die Franse, Britse, Duitse en Noorweegse kulture is maar net ’n paar van dié wat Kanada se Kersgebruike beïnvloed het. Sommige mense in Kanada maak hulle Kersgeskenke op Oukersaand oop terwyl ander kies om dit op Kersdag oop te maak. Kanadese maak gewoonlik kalkoen vir Kersdag en bedien dit met groente en ander bykosse. Gunstelingnageregte sluit in Kerspoeding, vrugtekoek en Kerspasteitjies. Omdat die ooste van Kanada bekend is vir hulle dennebome, gebruik die meeste Kanadese vars dennebome as kersbome. ’n Buitengewone tradisie wat in verskeie plekke, veral kleiner dorpe, in Kanada voorkom, is dat mense kostuums aantrek en aan hulle bure se deure klop. Hulle verwag dan om ingenooi te word vir sang, dans, Kerskoek en iets te drinke voordat hulle aanbeweeg na die volgende huis.
Verenigde State van Amerika
In Amerika is daar ook ’n verskeidenheid Kerstradisies. Baie families maak ’n varkboud of kalkoen gaar vir Kersfees, maar dié wat van Oos-Europese afkoms is, eet graag Poolse worsies, kooldisse en soppe, terwyl dié wat van Italiaanse herkoms is lasagne as Kersmaal geniet. ’n Tradisionele Kersfeesdrankie is eierpons (eggnog), ’n mengeldrankie gemaak van room, rou eiers en kaneel wat met of sonder alkohol geniet word. Baie Amerikaners gaan op Oukersaand of Kersdag kerk toe, en kerke het gewoonlik ’n spesiale Kersdiens. Reg oor die land versier dorpe en stede hulle strate met liggies. New York se groot kersboom en ysskaatsbaan by die Rockefeller Center is wêreldwyd bekend.
Engeland
In Engeland word die groot Kersete gewoonlik op Kersdag gehou en is dit ook ’n familie-affêre. Hulle eet graag kalkoen, geroosterde groente en soms spek en worsies. Vir nagereg eet hulle graag koekstruif (trifle) en Kerskoek met marsepein is ook ’n tradisionele soetigheid. Kinders skryf briewe aan Kersvader met hulle wenslysies wat dan aan Kersvader gepos kan word of sommer in die vuurherd gegooi kan word. Die tradisie lui dat wind in die vuurherd opwaai en die briewe na Kersvader waai. Op Oukersaand los kinders gewoonlik Kerskouse of kussingslope vir Kersvader om te vul, en in ruil los hulle vir Kersvader Kerspasteitjies en brandewyn.
Suid-Afrika
In Suid-Afrika het ons ’n verskeidenheid tradisies wat van ons diverse herkomste spreek. Groot gekookte Kersetes wat bestaan uit geroosterde hoender, varkboud, skaapboud en groente dui op Britse invloed. Nagereg sluit ook vrugtekoek, koekstruif en ’n lekker tradisionele malvapoeding met vla in. Familietradisies verskil. Party gesinne verkies om op Oukersaand geskenke oop te maak terwyl ander hulle groot feesviering op Kersdag hou. As al die smullekker kos jou mond laat water, probeer gerus die volgende resep vir ’n unieke Kersfeesnagereg.
Foto: Michelle Minnaar
Amarula-malvapoeding
Lewer 8 klein poedings of 1 groot poeding
Bestanddele:
- 1 koppie (250 ml) koekmeel
- 1 teelepel (5 ml) koeksoda
- ’n knypie sout
- 1 eier
- 1 koppie (250 ml) strooisuiker
- 1 eetlepel (15 ml) appelkooskonfyt
- 2 teelepels (10 ml) lemoenskil
- 1 eetlepel (15 ml) gesmelte botter
- 1 teelepel (5 ml) suurlemoensap of asyn
- 1 koppie (250 ml) melk
- Vla vir opdien
Sous:
- ½ blikkie kondensmelk
- ½ koppie (125 ml) melk
- ½ koppie (125 ml) room
- ¼ koppie (60 ml) Amarula-likeur
- ’n knypie neutmuskaat
Metode:
- Voorverhit die oond tot 180°C en smeer opdienbak of individuele bekers met botter.
- Sif die meel, koeksoda en sout saam in ’n mengbak.
- Room die eier en strooisuiker saam in ’n aparte bak.
- Voeg die konfyt, lemoenskil, botter en asyn (of suurlemoensap) by en meng goed.
- Voeg die nat bestanddele by die droë bestanddele en meng goed.
- Gooi in opdienbak of individuele bekers en bedek met foelie.
- Bak vir 20 minute indien individuele porsies of 30 minute indien enkel porsie tot goudbruin en gaar.
- Vir die sous: Smelt al die bestanddele saam in ’n pot en gooi oor die poeding sodra dit uit die oond kom. Prik die poeding met ’n vurk sodat dit die sous makliker absorbeer.