Interessante plekname in Suid-Afrika

18/10/2022
| Deur AfriForum Wêreldwyd
plekname

Suid-Afrika het geen tekort aan unieke plekname nie en as jy die langpad aandurf sien jy veral plekname vol karakter. Hier is ’n paar van ons gunstelingplekname wat omtrent ontdekkingsreisigers se humoristiese kant wys:

Tietiesbaai

Nie dat Paternoster ’n algemene pleknaam is nie, maar naby hom is Tietiesbaai. ’n Groot paar rotse net bokant die strand is die rede vir dié baai se naam. ’n Mens kan seker nie die seevaarders kwalik neem dat hulle dit genoem het soos wat hulle dit gesien het nie!

Hotazel en Die Hel

Landmeters het in 1915 dié myndorp so genoem omdat hulle nie met die hitte kon uithou nie. Ironies is Hotazel ook een van die koudste plekke in die winter. Hotazel is 147 km noord van Postmasburg en 46 km van Kuruman geleë. Die hoogste temperatuur wat nog hier gemeet is was maar 37 grade Celsius. Nog ’n plek met só ’n beskrywende naam is Die Hel wat op die Swartbergpas lê (naby Oudtshoorn). Dit was destyds so ’n gesukkel om te bereik, dat die moeite in die pleknaam vasgevang is!

Riemvasmaak

Die Noord-Kaap spog ook met unieke plekname en Riemvasmaak het sy naam gekry ná ’n Damara-man homself letterlik met ’n klomp riempies afgehys het om ’n mineraalbad in die omgewing te bereik.

Pofadder

Pofadder lê tussen Upington en Springbok en sy naam is afkomstig van ’n Koranna-stamhoof genaamd Klaas Pofadder. Hy is in 1875 in ’n skermutseling met die boere dood.

Darling

Dié dorpie is vernoem na Sir Charles Henry Darling, ’n luitenant-goewerneur wat in 1851 na die Kaap gekom het. Darling is naby Kaapstad en is ook natuurlik die tuisdorp van die bekende Tannie Evita.

Koffiefontein

Soos ’n mens kan verwag, het die boere nog altyd lekker weggeslaan aan boeretroos, maar by min plekke so lekker soos hiér. Transportryers het blykbaar oormatig koffie gedrink by ’n fontein hier en dit was ook ’n uitspanplek vir togryers in die 19de eeu. Die fontein se water was natuurlik ideaal vir koffie maak met die bone wat hulle dikwels saamgery het.

Kan jy aan nog interessante plekname dink, of het jy dalk in so ’n plek grootgeword? Laat weet ons in die kommentaar.

Deel op

Watter taal praat jy by die huis?
Naam en van
Hidden
This field is for validation purposes and should be left unchanged.

Nuutste artikels