Suid-Afrikaanse burgerskap – bly ingelig
Dikwels verloor Suid-Afrikaners hul burgerskap onwetend wanneer hulle burgerskap in die buiteland aanvaar sonder om eers vir die behoud van hul Suid-Afrikaanse burgerskap aansoek te doen, en soms doen hulle willens en wetens daarvan afstand. Die latere gevolge hiervan besef hulle nie altyd nie.
Die volgende gebeur as jy jou Suid-Afrikaanse burgerskap verloor:
- Gewoonlik behou ’n mens jou permanente inwonerstatus, maar jou identiteitsnommer verander om die verandering in jou status aan te dui. Jy sal dus jou identiteitsnommer oral moet verander.
- Jy mag nie meer vir ’n Suid-Afrikaanse paspoort aansoek doen nie, en jy mag ook nie jou bestaande Suid-Afrikaanse paspoort gebruik nie.
- Jy mag nie meer aan Suid-Afrikaanse verkiesings deelneem nie. (Die 1994-verkiesings was ’n uitsondering op dié reël.)
- Kinders wat ná die verlies aan burgerskap gebore word, het geen aanspraak op Suid-Afrikaanse burgerskap nie tensy jy eers weer suksesvol vir die herinstelling van jou burgerskap aansoek doen.
Die Grondwet noem wel dat ’n mens die reg op burgerskap het, maar jy verbeur daardie reg as jy nie jou wetlike verpligtinge vir die behoud van jou Suid-Afrikaanse burgerskap nagekom het nie. Dit help dus nie om jou daarop te beroep nie.
Bly ingelig en doen navraag oor die prosesse voordat jy enige ander burgerskap aanvaar.
Deel op
Nuutste artikels