Ek en my gesin was baie bevoorreg om Kersfees in ’n paradys te vier; ’n nuwe land wat ons nou “huis” noem.
Sommige mense het op die strand saam familie en vriende gebraai, terwyl kinders buite baljaar het in die mooi parke wat Nieu-Seeland bied.
’n Oudmodiese sjarme het in Nieu-Seeland geheers; die strate was vol liggies en winkelsentrums was goed gekoördineer en het iets vir oud en jonk gebied. Die reuk van gemmerkoekies en lekkergoed het ’n mens ook in ’n japtrap in die bui van Kersfees gekry. Vuurwerke word hier ook sommer al tydens Kersfees geskiet.
As ’n gesin wat na Nieu-Seeland verhuis het, het ons nie ons tradisies verander nie, ook nie ons geloof nie. Hoewel ons die afgelope Kersfees vir die eerste keer op ons eie was – sonder ons ouers en broer – het ons dinge ’n bietjie anders gedoen.
Talle Suid Afrikaners waarvan ek weet wou eerder ’n wit, koue Kersfees gehad het en was daarom nie op die eiland nie. Ander het weer familie gehad wat in Nieu-Seeland vir hulle kom kuier het, terwyl vriende van ons ’n bootvaartreis onderneem het. Dit was duidelik ’n Kersfees waartydens almal iets anders op ’n ander plek gaan doen het
Maar baie van ons hou steeds by die oorspronklike tradisies. Ek is een van hulle, omdat ek so lief is vir my kinders. My man dink ook altyd aan ’n miljoen dinge om te doen. Sommige van hierdie tradisies het ek by my ouers geleer. Sodoende kon ons die perfekte Kersfees vier en sommer vir my kinders wys hoe baie hulle vir my beteken. Geskenke koop en toedraai, ’n foto neem saam Santa, die Kersboom op te slaan, die huis te versier in ’n Kerstema, kos te kook (wat voorgereg, hoofgereg en nagereg insluit), verjaarsdagkoek te bak en saam die kinders te versier; dis immers hoe ek hulle leer van Jesus se verjaardag, en dit is vir hulle ook die lekkerste tyd van die jaar.
As ’n gesin geniet ons die oggendkerkdiens met al die liedjies ook baie. Ons probeer egter nie om ons kinders die Afrikaanse woord “Kersvader” te leer nie; vir ons is daar slegs een vader en dis God alleen; geen ander vader sal Sy plek inneem nie en daarom gebruik ons die woord Santa, hoewel hy net die rooi ronde oom is wat die soet kindertjies met ’n geskenkie beloon
Maar hierdie was ons eerste Kersfees in Nieu-Seeland; ons het nog nie by ’n nuwe kerk ingeskakel nie. Ons het wel kerke begin besoek, maar ons wou eers as gesin tyd saam spandeer. Ons het die kinders op Oukersdag gevat om te swem by ’n openbare swembad; dit was so lekker, en so netjies en skoon. Op Oukersaand het ons Kersliggies gaan kyk in die bekende straat Franklin Road in Auckland; ons het maklik twee ure lank geloop en die mooi versierde huise bekyk. Sommige wonings het die mooiste engele vertoon, ander takbokke, en dan was die Auckland-ligtoring soos ’n “candy cone”-lekkergoed versier, wat deur beligting moontlik gemaak is. Mense het by hul voorhekkies gratis Kersmusiek gespeel, hoewel jy ook ’n donasie kon gee. Dit was so mooi toe Stille nag op harp uitgevoer is. My kinders het dit verskriklik geniet.
Ons het vir die kinders ietsie gekoop, maar duidelik het Santa vergeet dat ons na Nieu-Seeland verhuis het, want dit was nie toegedraai nie. Ons kon nie hierdie keer toedraai nie, so “hy” het dit sommer voor hul kamerdeur gelos. Ons het ook vir die kinders Kersfeeskoek, oftewel “verjaarsdagkoek”, gekoop. Hoewel ons minder gedoen het, was die Kersseisoen steeds perfek, want ons was bymekaar. Ons het wel nog vir die houer gewag met al ons meubels, maar dit het ons nie gestop om Kersfees te vier nie.
En danksy hedendaagse tegnologie kon ons Skype met die familie in Suid-Afrika. Dit doen ons kinders goed om gereeld met hul ouma en oupa te praat en hulle te sien, selfs al is dit nou op ’n rekenaarskerm.
2017 was ’n nuwe avontuur, ’n nuwe begin in ’n nuwe land. Maar dit het ons weer eens laat besef dat selfs al hou ons so baie van oorspronklike tradisies, die gees van Kersfees nooit sal vergaan nie. Want al die belangrike herinneringe begin by die huis saam met die mense wie jy die liefste het.
Deel op
Nuutste artikels