Regering moet belastinghantering van opgeloopte pensioenvoordele buite Suid-Afrika hersien
Nasionale tesourie het voorstelle gemaak ten opsigte van die hantering van bydraes tot pensioenfondse wat opgeloop het terwyl Suid-Afrikaners in die buiteland gewerk het.
In terme van die Inkomstebelastingwet is alle pensioenvoordele vanuit ’n “vreemde bron” wat ontvang is tydens werk in die buiteland, vrygestel van belasting in Suid-Afrika.
Nogtans konstateer tesourie in die 2018-begrotingshersiening dat die interaksie van hierdie vrystelling met dubbel belastingverdrae en “ander vrystellings” hersien sal word. Dit is om te verseker dat die beginsel om slegs aftrekbare bydraes toe te laat in die geval van voordele wat belastingpligtig is, gehandhaaf word.
Hanneke Farrand, belastingdirekteur by Edward Nathan Sonnenbergs, sê dit is nie duidelik watter misdrywe tesourie ondersoek nie.
Sy voer aan dat ’n Suid-Afrikaner wat etlike jare in ʼn vreemde land werk en tot ’n pensioenfonds bydra, nie aan belasting in Suid-Afrika onderworpe is nie. “As iemand in die buiteland werk, sal daardie persoon nie probeer om enige korting (in Suid-Afrika) op enige bydraes tot die pensioenfonds te kry nie, omdat daar geen Suid-Afrikaanse belasbare vergoeding is nie.”
Dit is nogtans billik om te sê dat oorgrenspensioene nog altyd iets is wat binne die nasionale tesourie gedebatteer is.”
Farrand sê dat, indien dit die bedoeling is om op buitelanders wat in Suid-Afrika kom aftree te fokus, dit “rampspoedig” sal wees. Dit is tans ’n groot aantrekkingskrag vir buitelanders om in Suid-Afrika af te tree, aangesien hul buitelandse pensioene van belasting in Suid-Afrika uitgesluit is. “Dit is tot Suid-Afrika se voordeel dat buitelanders hier wil aftree. Hulle koop eiendom en spandeer geld in die land. Ek hoop dat hierdie vrystelling sal bly geld,” sê Farrand.
Tesourie stel ook die belyning van die belastinghantering van verskillende tipes aftreefondsontrekkings met emigrasie voor. Tans is individue in staat om die volle waarde van hul aftree-annuïteit, ná vereffening van belasting, te onttrek. Farrand sê die voorstel vorm deel van pensioenhervorming wat daarop gerig is om alle pensioenfondse op dieselfde wyse te belas. “Dit is om te verseker dat daar redelike toegang tot pensioenfondse is wanneer ’n persoon emigreer.”
Sy sê die feit dat tesourie dit nodig ag om die belastinghantering van pensioenfondse in terme van emigrasie aan te spreek, ’n aanduiding is van hoe algemeen emigrasie geword het. Sy is van mening dat die rykes tot die uiterste belas is. Welgestelde mense is baie meer beweeglik en in staat om hulle geld te volg indien daar gunstiger belastingbestemmings is.
Boedelbelasting is nou verhoog van 20% tot 25% vir boedels wat meer as R30 miljoen werd is. Farrand sê hoewel dit mag voorkom asof dit nie so hoog is soos in ander regsgebiede nie, is mense geneig om te vergeet van die addisionele 18% geagte kapitaalwinsbelasting wat verkry word met afsterwe. Twee tipes belasting word dus vir die oorlewende eggenoot op dieselfde pot geld gehef.
Hugo van Zyl, lid van die Suid-Afrikaanse Instituut van Belastingkundiges, sê dat wanneer mense eers afgetree het en hul pensioenfonds in ’n lewende annuïteit belê het, word hulle slegs toegelaat om ’n maandelikse inkomste uit ’n buitelandse lewende annuïteit te ontvang. Die kapitaal bly in Suid-Afrika en geen belasting word gehef nie aangesien die verdrag die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) se reg tot belastingheffing beperk.
Hy sê dat as Suid-Afrikaners toegelaat sou word om hulle lewende annuïteit met emigrasie te laat uitbetaal, sal die Suid-Afrikaanse belastingowerheid in staat wees om die belasting vooruit te ontvang.