Die media het onlangs berig oor hoe Harvard Universiteit aanbiedings aan tien inkomende studente teruggetrek het weens aanstootlike inhoud wat dié studente op Facebook geplaas het.
Onvanpaste kommentaar en foto’s kan jou lewe vir ewig verander. Negatiewe gevolge kan nie net ’n mislukte universiteitsaansoek insluit nie, maar ook onsuksesvolle werkaansoeke of in uitsonderlike gevalle selfs hofgedinge teen jou.
Sosiale media is nou so tien jaar met ons, maar volgens kenners lyk dit asof dié waarskuwing nog nie ingesink het nie. Dit is moeilik genoeg om ons kinders te leer wat die langtermyngevolge kan wees en om hulle sover te kry om voortdurend aan dié gevolge te dink. Baie volwassenes het egter self nog nie dié insig nie en is of onbewus van of selfs blasé oor die gevare daarvan.
Terug na Amerika. Harvard het die tien studente se aansoeke afgekeur weens aanstootlike plasings op Facebook wat seksueel eksplisiete tonele of beskrywings bevat het, met Meksikane gespot het en sarkasties was oor die Jodeslagting voor en tydens die Tweede Wêreldoorlog, asook temas wat met seksuele geweld verband hou.
Vir ingeval jy dit nog nie geweet het nie of steeds nie glo nie: ALLES wat jy op die internet plaas – hetsy kommentaar op sosiale media of webtuistes – kan maklik opgespoor word en moontlik teen jou gebruik word.
Dink aan die internet as ’n openbare kennisgewingbord: Alles kan deur enigiemand gelees word, insluitende moontlike werkgewers, jou familie en werkskollegas.
Die internet en veral sosiale media is vinnig besig om die eerste plek te word waar werkgewers kyk om ’n idee te vorm van wie jy is (en, kan mens ook aanvaar, watter tipe mens jy is). Dit is ook die eerste plek waar nuusmedia gaan om navorsing oor jou te doen wanneer jy om die een of ander rede onder hul vergrootglas beland. Alles – foto’s, kommentaar, vriende – word gemyn om ’n prentjie oor jou te skets.
Iemand het al oor hierdie soort inmenging geprotesteer, maar die standaard antwoord is: “Dis jóú verantwoordelikheid om niks te plaas wat om mee te begin aanvegbaar is nie!”
’n Algemene reël is om niks te plaas wat jy nie wil hê jou ouma moet sien nie. Moet ook nie spog of grappe vertel nie. Om te spog dat jy drie werkaanbiedinge gehad het, sal dalk nie so goed afgaan by enige van daardie organisasies wat jou oorweeg en die plasing sien nie.
Indien jy oor jou aanlyn teenwoordigheid bekommerd is, soek jou naam op die internet op en soek vir jouself op sosiale media. Wis dan enigiets negatiefs op jou eie rekenings uit. Indien dit op ’n webtuiste voorkom wat deur iemand anders beheer word, versoek hulle om die item te verwyder. Neem kennis dat nuusmedia nie sommer ou stories sonder ’n hofbevel sal verander of verwyder nie.
Dit beteken nie dat jy niks aanlyn moet plaas nie; gebruik net gesonde oordeel en gebruik privaatheidstellings om toegang te beperk tot wat jy geplaas het. Die waarheid is egter dat hierdie laaste wenk nie die inkomende Harvard-studente gehelp het nie. Hoewel hulle dié plasings in privaat Facebook-groepe gedoen het, is hul kommentaar steeds opgespoor.
Hierdie artikel is deur Brokkies aan Wêreldwyd verskaf. Brokkies is ’n gratis e-posnuusbrief wat primêr op Suider-Afrikaanse immigrante gemik is wat in Nieu-Seeland en Australië woon. Besoek www.brokkies.net om in te teken, ’n bydrae te lewer of te adverteer.