Uit en tuis: ’n e-pos uit Australië

07/05/2026
| Deur AfriForum Wêreldwyd
Uit en tuis: ’n e-pos uit Australië

‟Uit en tuis” is ’n rubriek waar ons gesels met mense wat tans oorsee woon, of wat vroeër daar gebly en gewerk het. Hierdie week gesels ons met Louis de Klerk en sy vrou Louna wat in Australië woon.

Hallo, Louis en Louna. Dit is heerlik om met julle te gesels!

Ons het in die Paarl gewoon. Ek (Louis) het in Wellington grootgeword en Louna in die Paarl. Ons het mekaar ses jaar gelede ontmoet en ’n paar maande later getrou. Ons albei was slagoffers van die Covid-resessie en het ons werk in daardie tyd verloor. Louna kon nie werk kry as onderwyser nie, en ek kon nie vaste werk kry nie en moes op kontrakwerk staatmaak. Ons het bitter swaar gekry en moes begin kyk na ander opsies om vir onsself en ons kinders te voorsien.

Ek (43) en Louna (43) is vyf jaar getroud en het geen kinders saam nie. Ek het twee kinders wat by hul ma’s in Suid-Afrika woon.

Vir ons het die proses baie goed verloop. Ons het dadelik ingeskakel en baie ondersteuning ontvang – selfs van Suid-Afrikaners hier in Australië. Die Terreblanche-gesin het ons met verblyf gehelp, die Boshoff-gesin het vir ons ’n motor geleen, en nog ’n Suid-Afrikaanse gesin het ons met kruideniersware gehelp toe ons hier geland het. Dit was vir ons ’n groot seën.

My werk is redelik eenvoudig – jy werk jou agt ure per dag en word goed betaal. Ek het ’n baie goeie werk-huis-balans. Louna is ’n onderwyseres by ’n Katolieke skool, en die voordele vir onderwysers, soos beplanningstyd gedurende die skooldag, maak dit moontlik om ’n gesonde balans tussen werk en ontspanning te handhaaf. Ons geniet dit baie om naweke weg te gaan en sommer iewers te kamp.

Ons het van die begin af vriende gemaak. Ons het ’n punt daarvan gemaak om met soveel mense as moontlik kontak te maak. Ons help ook nuwe gesinne wat hier aankom om aan te pas. Ons is meestal met ander Suid-Afrikaanse gesinne in kontak – daar is soveel van ons hier, byna 1 000 Suid-Afrikaners binne ’n radius van 50 km.

Die winkelwaentjies sal ons seker nooit gewoond raak nie! Ook nie die manier waarop die Aussies praat en hulle werksetiek nie.

Mense se vrygewigheid. Daar is soveel dinge wat jy verniet kan doen – gratis karavaanparke, gratis byeenkomste, gratis meubels en nog baie meer.

Om vas te hou aan jou geloof – want God het ’n plan vir elkeen. Jou verhouding met mekaar moet sterk wees, anders kan emigrasie dit breek. Depressie is nie ’n skande nie en daar is hulp beskikbaar. Emigrasie-depressie is normaal en baie mense ervaar die op-en-af daarvan.

Ons taal sal ons nooit verloor nie, en ook nie ons trots nie. Ons is lief vir braai, kuier en Afrikaanse musiek. Dit is besonders om te sien hoe kinders in Afrikaans speel al raak hulle in ’n Engelse omgewing groot.

In ons area is daar baie Suid-Afrikaners – jy hoor gereeld Afrikaans in die dorp. Daar is ’n ‟African shop” wat sekere Suid-Afrikaanse produkte verkoop, anders bestel ons aanlyn. Dit sal wonderlik wees om meer Suid-Afrikaanse dokters in ons omgewing te hê, en ’n Afrikaanse haarkapper sal baie dames gelukkig maak! Daar is darem ’n hele paar onderwysers wat Afrikaans praat.

‟Hopping down to Aus – a blessing we did not know we needed.”

Ons kan weer leef. Ná jare se swaarkry kon ons onsself weer optel en na die toekoms begin uitsien. Dinge wat vir ons nie moontlik was in Suid-Afrika nie, is hier moontlik. Ons woon in ’n pragtige area en het nog nie vrees vir misdaad ervaar nie.

Moenie bang wees nie – vat ’n kans. Op ons Facebook-blad, ‟Hopping down to Aus”, deel ons ons avonture, raad en selfs ’n bietjie humor. Ons ondersteun gesinne wat reeds in Australië is en ook dié wat nog in die proses is om te verhuis. Ons het al 14 gesinne gehelp om meubels vir hul huise te kry en bied ook gratis verblyf aan wanneer hulle hier aankom.

Ons inspirasie om mense te help het ons ook gelei om saam met Steven Phyffer die webtuiste recruitza.global te begin. Hier help ons Suid-Afrikaners om die emigrasieproses makliker en veiliger te maak. Hulle kan aansoek doen vir werk, met geregistreerde agente skakel en seker wees dat hulle op ’n veilige manier besigheid doen. Die webtuiste bied ook funksies soos CV-opgraderings, oefentoetse vir die Engelse taaltoets en ’n “cost of living calculator”, om maar ’n paar te noem.

Deel jou storie met ons

Elke ervaring is uniek – of dit oor werk, aanpassing, kultuur, familie of net jou alledaagse leefwêreld gaan.
AfriForum Wêreldwyd bied ’n ruimte waar jou perspektief sin maak vir ander wat dalk soortgelyke paaie loop.

Stuur ‘n e-pos na wereldwyd@afriforum.co.za en ons stuur vir jou vrae om te beantwoord.

Deel op

"*" indicates required fields

This field is for validation purposes and should be left unchanged.
Hoe lank woon jy al in die buiteland?
Naam en van
This field is hidden when viewing the form

Nuutste artikels