Deur Annelise de Vries en Jhua-Nine Wyrley-Birch
Hoewel Afrikaans in Suid-Afrika – die land waarin dié taal met bloedsweet en harde werk ontstaan en ontwikkel het – aan die kwyn is en geminag word, wen die taal internasionaal al hoe meer veld en harte.
Aan die tuisfront word die posisie van die taal aan verskillende teenstrydighede gekenmerk.
Dr. Nicol Stassen, uitvoerende hoof van Protea Boekhuis, skryf dat Afrikaanse boeke tans die markaandeel wen as daar na die uitgewersbedryf gekyk word. Volgens hom was 49% van alle plaaslik gepubliseerde titels in 2015 in Afrikaans, terwyl groot internasionale uitgewers soos Penguin Random House en Oxford óók tot die Afrikaanse mark toegetree het.
Afrikaans gedy ook nie net in dié bedryf nie, maar op verskeie ander terreine soos televisie, radio, die kunste, kunstefeeste en die filmbedryf.
Aan die ander kant word Afrikaans op amptelike vlak verskraal en in die howe en onderwysinstellings op ’n strukturele wyse afgetakel en ongeldig verklaar.
Die aantal studente wat vir Afrikaanse vakke by universiteite inskryf, het die afgelope 10 jaar landwyd afgeneem. Om twee voorbeelde te noem: By die Universiteit Stellenbosch (US) het 1 303 studente in 2007 Afrikaanse taalverwante vakke op voorgraadse vlak geneem. In 2016 het slegs 345 studente vir dieselfde vakke geregistreer. Hierdie vakke sluit in Afrikaans vir vreemdetaalsprekers, Afrikaans as tweedetaal, Afrikaanse taal- en literatuurstudies en gevorderde studies in Afrikaans.
By die Universiteit van Johannesburg (UJ) stel nóg minder studente in Afrikaans belang: In 2007 het 506 studente Afrikaanse vakke geneem, teenoor slegs 58 in 2016.
Dít dui op ’n gemiddelde afname van 82% oor die afgelope tien jaar in die aantal studente wat Afrikaanse vakke by dié universiteite geneem het.
Prof. Lawrence Schlemmer, wêreldberoemde sosioloog, het jare gelede gewaarsku dat die grootste gevaar vir Afrikaans is dat dit as universiteitstaal sou verswak of verdwyn. Hy het gesê dit sal die ondergang vir Afrikaans as wetenskap-, vak- en letterkundige taal beteken, asook taal van intellektuele omgang.
Die voortbestaan van Afrikaans kan dan nie, soos sommige akademici en taalkenners aanvoer, slegs van sy posisie in die kunste, die uitgewersbedryf en as gesproke taal afhang nie. Die voortbestaan en beskerming daarvan hang ook af van die taal se posisie as hoëfunksietaal, veral in die onderwys en regspleging.
Oor dié troebel plaaslike stand en status van Afrikaans is daar reeds tot vervelens toe geskryf, gepraat en gedebatteer. Daar is egter ook ’n positiewe kant aan die Afrikaanse saak waarvan baie min mense weet: Afrikaans is lewendig in talle ander lande en die gebruik en bestudering daarvan neem internasionaal in gewildheid toe.
Die kaart hierbo dui aan dat Afrikaans as vak by universiteite in nege Europese lande aangebied word, waaronder Rusland, België, Pole, Nederland, die Tsjeggiese Republiek, Oostenryk, Duitsland en die Verenigde Koningryk. Vyf Amerikaanse universiteite asook Suid-Afrika se buurland, Namibië, bied ook Afrikaans aan.
Dis nie bloot toevallig dat Afrikaans in Europa, Noord-Amerika en in Afrika aangebied word nie, want Afrikaans het wortels in Afrika, Europa en Asië.
Die vraag kan dan nou tereg gevra word waarom Afrikaans as vak in ander wêrelddele aandag geniet.
Dit kan toegeskryf word aan die feit dat dié taal een van die jongste Germaanse tale ter wêreld is en dat kennis hiervan ’n mens kulturele insig in Afrika kan gee. Vergelykende studies op die terreine van taal, letterkunde en kultuur word ook daardeur moontlik gemaak.
Afrikaans het binne ’n rekordtyd hoëfunksiestatus bereik. Dit het binne 25 jaar vandat dit 92 jaar gelede as amptelike taal erken is die lig aan vier universiteite gesien. Dit is juis om dié rede dat hierdie taal dikwels as gevallestudie gebruik word wanneer navorsing oor taalbeplanning onderneem word.
“Afrikaans is ’n pragtige en emosionele taal. Dit is baie onregverdig dat dit in Suid-Afrika so onderdruk word,” meen Valentina Kim (22), ’n Russiese student wat Afrikaans as tweede addisionele taal by die Instituut vir Asiatiese en Afrikatale aan die Lomonosov Staatsuniversiteit in Moskou studeer.
Sy is een van ses Russiese studente wat AfriForum in Februarie besoek het as deel van ’n kultuurtoer wat deur die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) gereël is om hulle meer oor Afrikaans en Afrikaanssprekendes te leer.
“Afrikaans het vir my die mooiste klankpatrone en uitspraak,” sê Alisa Balikhina (22), een van dié studente wat ook in 2015 vir ses maande Afrikaans deur ’n uitruilprogram aan die Noordwes-Universiteit in Potchefstroom gestudeer het.
Sy het tydens haar besoek aan Forum Nuus gesê dat Russiese instansies nie dieselfde druk om te verengels ervaar nie. Sy meen daar is baie potensiaal vir Afrikaans om wêreldwyd te groei.
Talle internasionale akademici is ook ten gunste van Afrikaans en het reeds sentrums vir die studie van Afrikaans op die been gebring om die taal te beskerm en uit te bou.
Een van hulle is prof. Jacques van Keymeuelen, ʼn stigterslid van die Centrum voor het Afrikaans en de studie van Zuid-Afrika, by die Gent Universiteit in België. Hy beskryf dié stigting as die toevoeging van waarde tot die groter sigbaarheid van onderwys, navorsing en diens rakende Afrikaans en Suid-Afrika.
Hy glo dat dié inisiatief internasionaal weerklank sal vind – binne én buite Suid-Afrika. Vir Van Keymeuelen is die uiteindelike bedoeling van die Gent Universiteit om internasionaal erkende kundigheid oor die Afrikaanse taal en letterkunde asook die studie van Suid-Afrika op te bou.
Volgens prof. Jacques du Plessis, ’n voormalige dosent in Afrikaans aan die Universiteit van Wisconsin en die Universiteit van Kalifornië se Los Angeles kampus (UCLA), was die Amerikaanse studente altyd gaande oor Afrikaanse digkuns en kortverhale.
Soos Van Keymeuelen beywer Du Plessis hom vir die navorsing en ontwikkeling van taaltegnologie en taaltegnologieprodukte vir Suid-Afrikaanse tale. Een so voorbeeld is die webtuiste Open Languages wat ten doel het om die beste moontlike Afrikaanse onderrig kosteloos aan die internasionale gemeenskap te bied.
Robert O’Brien – ’n prominente advokaat van Los Angeles, Kalifornië, wat al verskeie topposisies binne die Bush-administrasie beklee het en voorheen bekendes soos die ruimtevaarder Buzz Aldrin se regverteenwoordiger was – sluit hierby aan en sê dat Afrikaans ’n ryk en unieke taal is. “Suid-Afrika sal intellektueel ’n armer land wees as daar nie plek vir Afrikaans in sy akademie is nie,” meen hy.
O’Brien was ook destyds een van die topstudente van UCLA wat deur ’n internasionale beursfonds gekies is om in die tagtigerjare as uitruilstudent in Suid-Afrika te kom studeer.
Dis hier waar hy met Afrikaans kennis gemaak het en deur die jare steeds sy passie daarvoor behou het. In ’n eksklusiewe onderhoud met Forum Nuus vertel O’Brien, wat vandag nog Afrikaans kan praat, dat sy vrou steeds maandeliks kopieë van De Kat en Die Huisgenoot na Los Angeles laat invoer sodat hy dit kan lees.
Die gebruik van inheemse tale op amptelike vlak kan volgens O’Brien ’n belaaide politieke kwessie wees en is nie ’n uitdaging uniek aan Suid-Afrika nie. Sy mening is steeds: Hoe meer tale ’n mens kan praat, hoe beter kan jy jouself in besigheid, politiek en diplomatieke sake handhaaf.
Selfs al kry Afrikaans op die tuisfront die wind van voor is daar genoeg bewyse dat die internasionale sfeer Afrikaans se bydra tot die kennis van wêreldtale as belangrik ag.
Hou Forum Nuus vir die volledige onderhoud met O’Brien dop, asook ’n berig oor AfriForum se referaat oor taalaktivisme wat onlangs by die Universiteit van Amsterdam in Nederland gelewer is.
- Annelise de Vries is taalbeplanner by AfriForum en is tand besig met ’n PhD-studie in toegepaste linguistiek aan die Universiteit van Johannesburg.
- Jhua-Nine Wyrley-Birch is ’n joernalis vir sowel AfriForum se digitale nuusblad Forum Nuus as die organisasie se ledetydskrif Forum Tydskrif. Sy voer ook onderhoude en verfilm kort nuusvideo’s vir Forum Nuus.