Departement van binnelandse sake – burgersakedebakel
Daar het die afgelope ruk ’n baie ontstellende element in die arena van regspleging oor burgersake by die departement van binnelandse sake en sy koppelvlak met “derde partye” verskyn.
Per definisie het “burgersake” met die verkryging van dokumentasie oor lewensiklusgebeure soos geboorte, sterfte en huwelik te make.
In elkeen van hierdie gevalle is ’n koppelvlak met die departement van binnelandse sake by een van sy streeksdistrikskantore nodig om sertifikate te verkry. Meer besonderhede hieroor verskyn verderaan in hierdie artikel.
Sover dit die verkryging van ’n verkorte vorm van die geboorte-, sterfte- of huweliksertifikaat aangaan, is die proses redelik eenvoudig indien die kantoor van die departement van binnelandse sake per rekenaar gekoppel is – met ander woorde as dit nie een van die kleiner of landelike kantore is nie. Indien die korrekte inligting in die stelsel ingevoer word, die nominale fooi aan die departement van binnelandse sake betaal word om sy “administratiewe” koste te dek, en die betrokke kantoor van binnelandse sake op daardie tydstip aanlyn is, sal die sertifikaat na alle waarskynlikheid gedruk word terwyl jy wag.
Die scenario verander egter aansienlik wanneer ’n onverkorte sertifikaat ten opsigte van een van bogenoemde benodig word.
Hierdie proses is ietwat anders en kan nie aanlyn hanteer word nie.
Indien dit byvoorbeeld die algemeenste sertifikaat is waarvoor aansoek gedoen word, sal ’n onverkorte geboortesertifikaat vereis dat die kluisafskrif met die geboorte-inskrywing vergelyk en bevestig word. ’n Onverkorte geboortesertifikaat word dan op grond van daardie inligting uitgereik en in die sertifikaat gesertifiseer.
Dit verklaar waarom ’n onverkorte geboortesertifikaat langer sal neem om te verkry. Die onverkorte geboortesertifikaat bevat nie net die besonderhede van die persoon wie se geboorte aangeteken word nie, maar ook die volle besonderhede van die ouers, tesame met hulle identiteitsnommers.
Dít is waar die probleem inkom, aangesien die departement van binnelandse sake se rekords om die waarheid te sê ’n gemors is, as ’n mens moet oordeel op grond van die tyd wat dit duur.
Wagtye van tot ’n jaar of langer om ’n onverkorte geboortesertifikaat te kry, is nie ongewoon nie.
Om die kwessie te vererger en verder te kompliseer, is dit letterlik onmoontlik om, wanneer die aansoek ingedien is, met enigiemand binne die departement van binnelandse sake se hoofkantoor – waar die proses voltooi en gefinaliseer word – in aanraking te kom om die aansoek te bespreek of te bespoedig. E-posse bly onbeantwoord en dit is maar net een van die probleme wat raakgeloop word.
Die volgende probleem is die feit dat die departement tans weier om te werk met wat hy “derdeparty-agente” noem, byvoorbeeld immigrasiekonsultante/-praktisyns, prokureurs of advokate. Die departement dring daarop aan om slegs met die aansoeker persoonlik te skakel. Die laaste ruk mag enige sogenaamde “derde party” ook nie die aansoeker vergesel wanneer die aansoek ingedien word nie (wat nou slegs deur die aansoeker persoonlik gedoen mag word). Trouens, ’n “derde party” mag ook nie enige navraag doen of selfs ’n sertifikaat afhaal wanneer dit voltooi en gefinaliseer is nie.
’n Familielid van die skrywer van hierdie artikel het onlangs aansoek gedoen om ’n onverkorte sertifikaat wat dringend om persoonlike redes benodig is. Ná sewe maande van kibbel, foonoproepe, e-posse en uiteindelik die kwessie heelpad na die senior bestuur van die departement van binnelandse sake neem, met heelwat smekinge betrokke, is die kwessie uiteindelik gefinaliseer.
Teen daardie tyd was dit heeltemal te laat vir die doel waarvoor die sertifikaat in die eerste plek benodig was.
As ’n direkte gevolg van hierdie tipe gebrek aan optrede deur die departement van binnelandse sake lewer talle agentskappe wat hierdie tipe diens gelewer het, dit nie meer nie. Aangesien onverkorte sertifikate gewoonlik om goeie rede vinnig benodig word en dit eenvoudig nie bespoedig kan word nie, is dit feitlik soos om met jou kop teen ’n muur te kap.
My advies in hierdie verband is dat wanneer ’n aansoek ingedien is en niks binne ’n redelike tydperk daarna ontvang word nie, die adjunkdirekteur-generaal van binnelandse sake (burgersake) deur middel van sy kantoor genader moet word om die saak te ondersoek. Hierdie ongelooflike vertraging wat plaasvind is nie net teenstrydig met die beginsels van administratiewe geregtigheid nie, maar ook potensieel ongrondwetlik.
Ongelukkig kan ons regspraktyk nie meer aansoeke van hierdie aard aanvaar nie omdat dit ’n onmoontlike taak geword het as gevolg van die obstruktiewe wyse waarop sake hanteer word.
’n Immigrasiekonsultant het onlangs ’n aansoek by die Noord-Gautengse hoë hof ingedien en ’n verstekbevel teen die direkteur-generaal van binnelandse sake verkry wat die departement van binnelandse sake in Pretoria opdrag gee om met daardie konsultantskap saam te werk.
Ten spyte hiervan weier die departement steeds om met “derdeparty-agente” saam te werk, in weerwil van ’n bevel van die hoë hof.
Ons kantoor kan egter van hulp wees om alle tipe verkorte sertifiserings te bekom en hanteer steeds aansoeke om status te bepaal, aansoeke om kwytskelding van die verlies van Suid-Afrikaanse burgerskapstatus, aansoeke om die hervatting van burgerskapstatus en, wanneer moontlik, naturalisasie-aansoeke.
Julian Pokroy
Immigrasie- en Burgerskapprokureur (in Suid-Afrika, Australië en die Verenigde Arabiese Emirate)
Julian@immigration.org.za
Julian Pokroy Attorneys