Die dag waarop almal al vir maande lank wag, breek uiteindelik aan: 22 Julie 2017.
Dis vroegoggend en ons is op pad lughawe toe; ek en my ma en pa. Dit gaan moeilik wees vir my ma, dink ek by myself. Ek is die tweede kind wat die skuif buiteland toe maak. My suster het vir twee jaar lank oorsee gewerk, maar is nou terug in Suid-Afrika – sy is dus darem nog daar; my oudste broer ook. My ouers het darem nog twee kinders in Suid-Afrika – dit sal oukei wees.
Ons kom op O.R. Tambo-lughawe aan; ek boek in, verklaar my rekenaar en gaan saam met my ouers af na die Spur om vir die laaste keer ’n ontbyt saam met hulle te geniet voordat ek vir ’n jaar lank weggaan.
Teen 13:30 moet ons almal bymekaar kom en ’n groepsfoto neem, daarna deur die hekke in die verte instap en vir ons vlug wag. Dit is ’n groot tranedal met almal wie se families kom totsiens sê. (Ek moes maar vinnig groet, anders sou ek nooit hier in Japan kon sit en dié e-pos tik nie.)
Dis 12 ure na Hong Kong toe; daarna vier ure se wag in Hong Kong; uiteindelik nóg vier en ’n half uur na die Narita-lughawe in Japan. Daarna ’n verdere 45 minute per bus na die Sunroute Plaza-hotel in Tokio vir drie dae se oriëntering.
Uiteindelik, na ’n 22 ure-reis kom ons in Tokio by die hotel aan! Natuurlik wil almal net inboek en by ’n stort uitkom. Die eerste aand is ons vry om te doen wat ons wil nadat ons ’n vinnige inligtingsessie en verwelkoming gehad het. Hoewel ons almal moeg is, besluit ’n groep van ons om Tokio-stasie toe te gaan (ons is in Shibuya). Ons is soos honger aasvoëls na die beste kos by dié stasie opsoek. Die suster van een van die Suid-Afrikaners wat saam met ons is, is reeds vir ’n derde jaar op die program en het ons almal ontmoet en kom haal sodat ons nie soos regte gaijin (Japanees vir uitlander) lyk nie!
Tokio-stasie is enorm en ons reis 45 minute daarheen; ’n verdere 45 minute se gewag om ’n sitplek in ’n veganisrestaurant te kry (ek het die plek se naam al lankal vergeet omdat ek so honger was dat ek die houttafel langs my kon opeet). Ek is so ’n bietjie moeg en my liggaam kan dit nie regtig meer vat nie – ná ete besluit ek maar om vinnig saam met twee van die ander mense terug te keer omdat ’n voldag van oriëntering op ons wag.
Dag 2 breek aan en dis oriëntering. Almal is moeg van uitgaan en vlugvoosheid. Ons sit deur sessies en probeer nie aan die slaap raak nie – hoewel ek in ten minste twee sessies aan die slaap raak het en die tweeling my so bietjie in die sy moet stamp sodat ek kan wakker bly!
Oriëntering is maar die basiese goed wat ’n mens kan verwag – hoe om aan te pas, hoe die stelsels werk en hoe om klas te gee. Ons word volgens laerskool, junior- hoërskool en senior- hoërskool ingedeel sodat ons ook nog met ander JET’s van oor die wêreld kan gesels en insette van mekaar kan kry. Die program huisves honderde mense. Ons was groep A; groep B sal twee weke later opdaag en groep C in September. Hier is mense vanuit Kanada, Jamaika, Ierland, Australië, Nieu-Seeland, Amerika en lande waarvan ek al vergeet het!
Lees ook Avonture in Japan – Deel een
Na twee en ’n halwe dae van oriëntering ontmoet ons uiteindelik die CIR’s wat ons ondersteun, met die aanpassingsproses help en ons na ons prefekture gaan vergesel.
Ons CIR is Naomi en sy is ’n Kanadees. Die ander CIR is Toby, maar hy’s nuut en kom saam groep B en al die ander Nieu-Seelanders – ons sal hom dus eers heelwat later ontmoet.
Vanaf Tokio vertrek ons met ’n bus na Korijamastad, waar ons ons toesighouers (ons Engelse juffroue en menere!) sal ontmoet met wie ons al vir maande lank kommunikeer. Dis so drie ure per bus. Ons almal van Foekoesjima begin mekaar nou beter ken en ons begin vriende op die bus maak – ek meen, ons het drie ure van niksdoen nie! Ek sit langs Louise, ’n Ier wie se man later Japan toe kom om saam met haar te wees. Oorkant ons is David en Angela, ’n paartjie uit Amerika wat nou my beste vriende op die program is. Agter in die bus sit Rhett en Yuma, hulle gaan Iwake toe, die suidelike punt van ons prefektuur.
Vir nou kuier ons almal saam voordat ons na ons verskeie nuwe tuistes vertrek. Ons sien mekaar eers weer in die middel van Augustus vir prefektuuroriëntering.