My verhouding met die Gravin van Swede – Pieter de Lange

14/04/2016
| Deur Sue-Ann de Wet
verhouding-met-die-gravin-van-swede-pieter-de-lange-01

Ek het nog altyd hierdie eindelose entoesiasme vir opwindende en interessante voertuie. Ek blameer dit op my Van der Vyver-gene van my ma se kant. My liewe oupa, Oupa Benjamin, moes jare terug, toe ek nog ‘n klein seuntjie was, op Badplaas ‘n tweedehandse motorhandelaaragentskap bestuur. Ek is toegelaat om om in die stowwerige ou Fords en Chevrolets, met die heerlike reuk van leer aan die binnekant, vir ure te speel. Ek sou van een motor na die volgende gaan, die stuurwiele draai, aanhoudend ratte verander en droom hoe ek in een van die bekende wedrenne soos die Miglia Millia, jaag, of ek kon myself net verbeel hoe ek op die oop pad bestuur, die Suid-Afrikaanse horison in.

 

Later het ek gehoor van Syd van der Vyver se prestasies in die Grand Prix-motorwedrenne. Hy was my ma se neef en alhoewel ek hom nog nooit ontmoet het nie, was ek ernstig beïndruk met sy prestasies; in 1960 en 1961 het hy die Suid-Afrikaanse Bestuurskampioenskap gewen, en in 1962 het hy tweede gekom. Ek het hom slegs een keer sien jaag, by die Die Eerste Natal Grand Prix by Westmead, in die eerste Springbok Reeks. Syd het 5de posisie behaal ná legendes soos Jim Clark en Stirling Moss. Ek het later gelees dat Syd “deur Stirling Moss, wat baie beïndruk was met die Suid-Afrikaner se tegniese vermoë, uitgenooi is na Engeland in mid-1961 en hy het daar gewerk op die Maestro se kar”.

Later het ek van Henry van der Vyver se E Tipe Jaguar gehoor en gelees, maar omdat ek in die boendoes in Kroonstad, ver van Johannesburg gewoon het, het ek nooit die kar gesien nie. Henry en Thelma het jare later vir my kom kuier in Londen waar ek gepraktiseer het en dit was ‘n plesier om hulle beter te leer ken. Teen hierdie tyd het ek my eie voorkeure ontwikkel en dit was die Italiaanse hings van Ferrari wat my beïndruk het. Miskien was dit al daardie Saterdag-aande wat ek na die Afrikaanse klassieke musiekprogram, “U Eie Keuse”, geluister het. Ons het so baie plate van die bekende stemme van daardie era gehad, soos Benjamino Gigli, Mario Lanza en Maria Callas. Enzo Ferrari het gereeld na die lied van 12 verwys wanneer hy sy gunsteling enjinuitleg van 12 silinders bespreek het.

Ironies genoeg, was my eerste ernstige sportsmotor ‘n Lamborghini Jarama wat ek in die sewentigs aangeskaf het en wat nou ‘n skaars en amper uitgestorwe monster is. Die besturende direkteur van Lamborghini in die VK was op daardie stadium ʼn pasiënt by ons en hy het ‘n goeie kopie gereël.

Maar dit was die pronkende perd wat ek werklik wou hê en nadat ek gespaar en soos ‘n besetene gewerk het, kon ek uiteindelik ‘n splinternuwe Ferrari Berlinetta Boxer in 1975 koop. Ek het hierdie kar uiteindelik teruggeneem Pretoria toe. Een Sondagaand het ek op die Ben Schoeman-hoofweg sonder petrol gaan staan en ‘n baie gawe ou het my teruggesleep na my woonstel in Pretoria. Toe hy my baie beskeie woonstel in Hatfield sien, kon hy nie die twee bymekaar sit nie. Hy het toe uiteindelik baie beskaaf gevra of dit werklik my motor was. Zorba die Griek het in die rolprent baie pertinent gesê dat “’n Man moet ‘n bietjie gekheid hê”. Wel, hierdie is my gekheid.

In die 40 jaar tot en met vandag, waartydens ek verskeie Ferraris, ‘n paar Porchés en Lamborghini Countach gekoop en verkoop het, waarvan die Lamborghini Coutach die swakste kar van die spul was wat ek die meeste waardeer het, het die klein onweerstaanbare gonsing agter in my kop weer begin. Dit was egter nie net ek nie, die klassieke motorgekheid wat die wêreld elke 25 jaar tref, was weer in volle swang en almal is op die uitkyk vir “slapers”, wat onderskatte motors is wat dalk waardeer kan word.

Ek het altyd gevoel dat ‘n sekere Ferrari, naamlik die 456GT, onderskat en onder-gewaardeer is, en ek was baie verras om te sien dat sportmotors met ‘n lae afstamming soos die lelike eendjie, die 308 Dinos, die baie meer algemene Mercedes Pagoda SL’e en selfs die Ford Escort Twincams, in prys styg voor enige werklike beweging vir die 456. Hierdie is ‘n pragtige elegante kar met ‘n honderd meer perdekrag as ‘n Daytona (‘n klassieke motor van die sewentigs), teen ‘n fraksie van die prys, met twee ekstra sitplekke op die koop toe! En ewe skielik het die waarde van die 456GT begin opskiet. Noudat die mark uiteindelik wakker geskrik het en my voorspellings waar word, het ek vir myself gesê dat ek niks daaromtrent gedoen het nie.

My eerste ontmoeting met die 456GT was by die Kyalami-resiesbaan tussen Pretoria en Johannesburg, toe dit offisieel bekend gestel is in Suid-Afrika in die middel negentigs. Ek was op die agtersitplek van die demonstrasiemodel toe ons verby die Ferrari Testa Rossa seil. Ek ken duidelik die gladde genadelose stuwing van die V12. Die plakkaat van die spesifieke dag se Ferrari-rangorde is steeds teen my muur. Sedertdien het ek ‘n hele paar Ferrari’s en Porchés gekoop en verkoop, maar vir een of ander rede, geen 456GT nie.

Tyd vir aksie dus; ek het die internet laat een Maandagaand deursoek en afgekom op ‘n pragtige blou, enkel-eienaar, 456GT Modificato. Hierdie kar was handgedrewe en in Swede. Ek het besluit om eerder vir die handgedrewe, linkerhandstuur te gaan as vir die outomatiese model in die VK. Jare terug in die VK het ek ‘n 400I outomaties besit, en die algehele herinnering van die kar was dat dit ‘n verlore geleentheid was vir die kar, omdat die drie-spoed stadige ratkas so buite karakter is met die hoë toere twaalfsilinder enjin. Ek het ook die Modificato verkies, omdat dit ‘n verbeterde weergawe is en dit het net spesiaal geklink.

Soos wat ek die handelaar leer ken het, was daar vir twee dae ‘n lewendige heen-en-weer kommunikasie via e-pos. Kjell Lind bestuur ‘n eenman-besigheid naby Gottenburg en is self ‘n ernstige Rolls Royce-versamelaar. Ek het met een van sy tevrede VK-kliënte in Skotland gesels en het besluit om oor te vlieg om na die kar te gaan kyk. Ons het gesukkel om op ʼn datum te besluit, omdat Kjell van plan was om Rome toe te vlieg vir ‘n familievakansie en dit het so uitgewerk dat Goeie Vrydag ongelukkig die enigste gepaste dag was. Ek was dus vroeg op ‘n koue grys oggend op pad na die lughawe toe twyfel begin inskop. “Hoekom is jy nie by die huis op hierdie spesiale Christelike vakansiedag nie, waarom leen jy al hierdie ekstra geld as jy reeds ‘n Ferrari het?” Al hierdie vrae het ek myself afgevra.

Die Gottenburg-lughawe was klein en Kjell het my opgelaai soos beplan. Ons het mekaar verder leer ken gedurende die uur se ry na sy tuisdorp. Kjell het my vertel van die 1932 Rolls Royce wat hy besig was om te herstel en hoe hy dit steeds geniet om self aan die motors te werk. Hy het ook beskryf hoe die Swede hulle spesiale motors voor die erge winter wegbêre, omdat hulle klimaat met al die sneeu baie kouer is as Engeland, maar is baie droër en dus minder gunstig vir korrosie. Die 456GT was presies soos wat hy dit beskryf het; oorspronklik, onaangeraak, die binnekant perfek behalwe vir twee klein gaatjies in die paneelbord waar een of ander foonkonneksie was. Gedurende middagete het Kjell my van die vorige eienaar vertel. Sy was ‘n Gravin met twee kastele in die suide van Swede en ‘n somerhuis in Monaco. Sy is of was verwant aan die Sweedse Koninklike familie as die Dame van die Britse Adelstand, het hy gesê. Ek weet nie presies wat dit beteken nie, maar dit klink deftig genoeg. Dinge het regtig begin goed lyk ná die beroerde vroegoggend-begin toe Kjell my sy private versameling Rolls Royces, Bentleys, Jaguars en’n kosbare Bugatti by sy huis wys. Ons het die Ferrari vir ‘n proefrit geneem langs ‘n krommende pad langs die pragtige Sweedse mere. Die eerste indruk was hoe solied die motor gevoel het en die pragtig georkestreerde lied van die 12 silinders. Hoe vinniger ons gery het, het die motor baie meer gereageer, lewendig en dringend geword. Dit was moeilik om by die spoedgrens te hou en ek wou net aanhou ry. Nodeloos om te sê, het ons ‘n vriendelike ooreenkoms gemaak omtrent die prys en ek het terug huis toe gekeer om die opgewonde storie aan my angstige familie te vertel. Dit was meer as net’n kopie; dit was ‘n gedenkwaardige dag op elke wyse.

Tot my verbasing en vreugde, het Mariaan, my vrou, ook geval vir die subtiele bekoring van hierdie volbloed Italiaanse voertuig. Die Gravin, soos wat ons haar noem, deel nou die motorhuis met die brommende vuurpyl, ‘n baie meer moderne Ferrari 559. Ek glip gereeld in die motorhuis in net om na die motors te kyk. Die VK-registrasie is toe uiteindelik uitgesorteer en ons eerste rit was na’n Afrikaanse kerkdiens in ‘n pragtige klein kerkie in ‘n nabye dorpie. Nou kan ek vir die res van die hopelik lang somer my liefdesverhouding met die opwindende Sweedse Gravin voortsit.

Deel op

Nuutste artikels