Lees kan ’n nuwe baadjie aantrek

16/04/2025
| Deur Weet
Weet

Deur Elana Barker

Mens sien soms in flieks hoe lekker kinders in hul boomhuise lees tussen ʼn stewige voorraad boeke, of hulself verdiep in ʼn verbeeldingswêreld buite in die tuin met hul neus in ʼn boek. ʼn Bom kan langs hul afgaan, hulle sal nie eens bewus wees daarvan nie. Gelukkige gesiggies wat uitborrel by die biblioteek se deur met ʼn vars nuwe stapeltjie boeke om te gaan verslind by die huis en elke nuwe woord te proe en hul woordeskat uit te brei. Kinders met leeshoekies in hul kamers, met sagte kussings en ʼn lampie vir as die son later sak maar die leeslus is nog nie geblus nie.

Dit is ʼn prentjie wat menigte ouers al maar met ʼn traan laat vaar het. ʼn Boekrak vol ongeleesde boeke staan soos ʼn monument in die kamer, ter viering van ons moedertaal, maar staan in onbruik. Lees is mos ʼn gogga wat almal moet byt, maar hy by nie almal gelyk nie. Party leesgoggas vat ook maar hul tyd en byt eers party kinders nadat hulle grootmense geword het.

Al wat ons as ouers kan doen is om die proses te fasiliteer, sonder om te veel druk toe te pas en hulle finaal van die geskrewe woord af te verwilder. Almal vind nie op dieselfde tyd in hul lewens waarde in stories nie, hetsy dit fiksie of nie-fiksie is nie. Party van ons, selfs grootmense, wil eerder met die waarheid en egte feite gekonfronteer word: hoe dinge in mekaar steek, hoe dinge werk, hoekom sekere dinge in die geskiedenis gebeur het en die verskille tussen gelowe.

As jou kind nie aanklank vind by die opmaak van ʼn storie nie en dink opstelle skryf is vir die voëls, is daar ander roetes om te volg.

Weet is ʼn Afrikaanse e-naslaangids propvol feite, hoekoms en waaroms. As jy wil weet hoekom Hitler so wreed was, lees die artikel. As jy wonder in watter Afrika-land jy gorillas sal sien, lees die artikel oor Rwanda. As jy wonder hoekom die 100-jarige oorlog so lank moes neem, waarvoor wag jy? Gaan snuffel dit uit.

Die Vinnige Feite heel bo-aan elke artikel is heerlik om die gesin mee saans te vermaak as almal om tafel sit en mens kan selfs vra dat hulle saam met hul eetlus ook nuwe kennis moet tafel toe bring om te deel met die res van die gesin.

Ons taak as ouers is nie om kinders na storieboeke te lei nie, ons moet net ʼn ewige nuuskierigheid help kweek om van kinders lewenslange studente te maak. Met elke stuk inligting waarmee mens te doen het, is jy bietjie sagter teenoor jou medemens en toon jy bietjie meer begrip en dit vorm een van die belangrike komponente van lees: Om begrip te kan hê.

Deel op

Watter taal praat jy by die huis?
Naam en van
This field is hidden when viewing the form
This field is for validation purposes and should be left unchanged.

Nuutste artikels

Meer artikels deur