Wat wil jy weet?

26/05/2025
| Deur Weet
Wat wil jy weet?

Ouers het teen die tyd ʼn idee van met watter onderwerpe in elke vak hul kinders hierdie jaar te doen gaan kry. Soms word ʼn onderwerp uitgelig en dan moet daar in die besonder oor dié spesifieke onderwerp navorsing gedoen word of dalk vra jou kind net bloot vrae wat jy nie kan beantwoord nie en die handboek is te beperk.

As jy die internet raadpleeg vir antwoorde en navorsing is daar ʼn see van inligting, maar dis jou werk as ouer om die reusagtige lot inligting af te breek in verteerbare happies en terselfdertyd ook ouderdomsgepas te kry.

Weet.co.za, ʼn e-naslaangids onder die vaandel van Maroela Media, spog met ʼn wye verskeidenheid onderwerpe, wat onder andere ook die kurrikulumonderwerpe van graad 4 tot 7 dek. Ons spog met ʼn ywerige span skrywers, kundiges en taalversorgers wat al die moeilike werk reeds gedoen het en gehalte Afrikaans artikels beskikbaar stel sodat lesers betroubare inligting sal ontvang.

Ons deure is wawyd oop vir enige versoeke van ouers of kinders en het al reeds ʼn hele paar artikels gepubliseer onder versoeke. Indien jy in die soekbalkie ʼn onderwerp tik en dit nie opspoor nie, is jy meer as welkom om ons te kontak en vir ons jou versoek aan te stuur. Ons sal deurentyd met jou kontak behou en jou laat weet waar in die proses jou artikel trek.

Onthou, gehalte werk neem langer, ons span se stappe is as volg:

  1. ʼn Skrywer wegspring met navorsing en die artikel van jou keuse begin skryf en gebruik maak van betroubare bronne.
  2. ʼn Kundige op die gebied ontvang die artikel en maak doodseker dat elke feit korrek is.
  3. ʼn Taalkundige gaan elke komma, punt en woord na om toe te sien dat jy jou artikel in korrekte Afrikaans ontvang.
  4. ʼn Finale oorsig word gedoen om seker te maak alles is eksie perfeksie.
  5. Kleurvolle prente word gesoek en jou artikel word gepubliseer.
  6. Ons maak kontak met jou en stel jou in kennis dat jou artikel gereed is.

Wat doen Weet nie?

Die Weet-span is ʼn gawe klomp mense, maar onthou dat ons ʼn e-naslaangids is oftewel ʼn digitale ensiklopedie. Daarom gaan ons nie jou projek vir jou doen nie. Ons maak seker dat die inligting wat jy ontvang korrek is, maar jy het nou die verantwoordelikheid om daardie inligting te gebruik en in jou eie sinne te sit. Onthou, om nie plagiaat te pleeg nie. Dit is ʼn kriminele oortreding.

Wat is plagiaat nou weer?

Plagiaat is om iemand se woorde te eien as jou eie. Jy mag iemand aanhaal en sy/haar woorde tussen hakies plaas en die persoon se naam verskaf. Maar om woord-vir-woord alles van ʼn bron (byvoorbeeld Weet) net so af te skryf is nie reg nie.

Hoekom moet ek leer om dinge op my eie manier te sê as die inligting reeds daar is?

Onderwysers gee navorsingstake vir kinders sodat hulle kan lees en sif deur verskillende bronne. Die idee is om die vaardigheid aan te leer om jou eie opinies en gevolgtrekkings te vorm, ʼn baie belangrike vaardigheid vir die toekoms. As jy dus plagiaat pleeg, het jy nie daardie vaardigheid bemeester nie. Dit is vir die Weet-span so lekker om op nuwe inligting af te kom, ons wil graag hê dat jy goeie navorsingsvaardighede sal aanleer wat jou sal vorm tot ʼn verantwoordelike en selfstandige volwassene.

Ons wil graag van jou hoor, gesels gerus met ons. Ons het al heelwat lesers gekry wat ons bedank het vir ons volledige inligting wat hulle goed kon benut. Laat hoor van jou, ons is net ʼn knoppie weg.

Met Weet as jou vennoot in navorsing, is jy altyd op die wenpad!

Deel op

"*" indicates required fields

Hoe hou jy Afrikaans taalvaardighede vir jouself en/of kinders lewendig?
Naam en van
This field is hidden when viewing the form
This field is for validation purposes and should be left unchanged.

Nuutste artikels