Finding Cloud Cuckoo Land – Reisblog deur ‘n getroude paartjie wat deur Suidoos-Asië reis
Agtergrond
Conrad & Mareli is twee pasgetroudes van sonnige Suid-Afrika. Hulle het onlangs besluit om alles op te pak en deur Suidoos-Asië te gaan toer, beginnende in Viëtnam. Volg hulle storie op hul webtuiste (www.findingcloudcuckooland.co.za) en kyk na hulle foto’s of sê net hallo. Hulle is fotograwe, ontwerpers, organiseerders en is altyd op soek na nuwe geleenthede en avonture. Moenie huiwer om hulle te kontak nie!
Die paar dae wat ons in Ho Chi Minh-stad was, het ons na ‘n paar besienswaardighede in en om die stad en sy vele distrikte gaan kyk. Die stad self is ‘n belewenis en as jy ‘n fiets of bromponie kan ry, sal ek jou aanraai om een te huur en die stad op twee wiele te verken. Die verkeer in Ho Chi Minh is chaoties, mal, skokkend en ‘n groot gemors, maar te midde van alles is dit kalm en rustig en werk alles. Te midde van die blêrende toeters en ʼn see van walms is daar niemand wat skree, geïrriteerd raak of ongelukke veroorsaak nie. Toeriste-aantreklikhede in die stad is min, maar as jy soos ons is, is ‘n interessante koffiewinkel of pragtige park ook ‘n trekpleister. Ons het in ‘n huis in die Gò Vấp-distrik ingetrek. Dit sal vir die volgende maand, of dalk ʼn bietjie langer, ons huis wees; maar ons wil nie hier vashaak nie, want daar is nog te veel om te ontdek.