Uit en tuis: ’n e-pos uit Frankryk

12/11/2024
| Deur AfriForum Wêreldwyd
Uit en tuis: ’n e-pos uit Frankryk

Uit en tuis is ’n rubriek waarin ons gesels met mense wat in die buiteland woon, of wat daar gewoon en gewerk het, maar weer terug is in Suid-Afrika. Ons hoor graag van enigeen wat hul belewenisse met ons wil deel.

Vandeesweek gesels ons met Melani Potgieter, wat in Frankryk woon.

Hallo, Melani! Van waar in Suid-Afrika is julle oorspronklik en waarom het julle besluit om in Frankryk te gaan woon?

Ek en my man is albei van Centurion. Ons het Frankryk toe verhuis sodat my man sy rugbyloopbaan hier kon kom voortsit. Ons plan was om net ’n paar jaar in Frankryk te spandeer, maar toe dit tyd raak om terug te gaan, het ons die besluit geneem om hier te bly.

Vertel ons meer van jou gesin.

Ons het hierheen gekom toe ons eersteling ses maande oud was. Hy is nou 13 jaar oud en het intussen ’n sussie en boetie bygekry. Hulle is onderskeidelik 11 en 8 jaar oud. Ons kinders is almal sportief, nes hul pappa. Ons seuns speel sokker en ons dogtertjie het vir vier jaar geswem, en het dié jaar besluit om pluimbal te speel. Ek is meer geïnteresseerd in die kunste. Ek was ’n grafiese ontwerper in Suid-Afrika en het in my vrye tyd bietjie geteken en onlangs begin borduur. Ons het drie jaar terug ’n Franse bulhond aangeneem en sy sorg vir ure se vermaak.

Hoe vorm of behou jou kinders ’n verhouding met hul grootouers? Hoe gereeld sien julle as familie mekaar?

Ons kinders sien hul grootouers, ooms, tannies, niggies en nefies weekliks wanneer ons video-oproepe maak. My skoonouers kom kuier twee keer per jaar by ons. Toe ons kinders klein was en op ons skote kon sit in die vliegtuig, het ons jaarliks in Suid-Afrika gaan kuier. Ongelukkig is dit deesdae byna onbekostigbaar om vyf vliegkaartjies te koop. Ons het in 2022 laas ’n draai gaan maak daar, en voor dit het Covid-19 en ’n gesondheidskrisis van my man ons verhoed om te gaan kuier. Ons beoog om weer volgende jaar ons reistasse te pak.

Praat julle nog Afrikaans met mekaar? Wat beteken jou Afrikanererfenis vir jou? Watter Suid-Afrikaanse tradisies leer julle vir jul kinders? Van watter Afrikaanse hulpmiddels maak julle gebruik?

In hierdie Potgieter-huishouding praat ons net Afrikaans. Die kinders sal wel soms onder mekaar Frans praat wanneer hul saam speel, maar wanneer ons as gesin saam is, sal jy net Afrikaans hoor. Ons lees Afrikaanse storieboeke soos Oom Attie se Slaaptydstories, Afrikaanse Bybelstories, ons kyk Afrikaanse televisieprogramme, en ons bid in Afrikaans. Ons kinders ken almal die Onse Vader in Afrikaans.

Ek voel bevoorreg om die Afrikanererfenis my eie te noem. Dit is so kleurryk en ryk aan verskeidenheid. My erfenis getuig van uithou, aanhou, vasbyt, hard werk, aanvaarding. Deur ons geskiedenis met ons kinders te deel, leer ons hulle van al hierdie eienskappe. Deur Suid-Afrikaanse disse en kos (bobotie, biltong, vetkoek, koeksisters, ens.) en Afrikaanse musiek, bring ons so bietjie erfenis in ons huis in.

Dit kan uitdagend wees om in ’n nuwe land aan te pas. Wat was vir jou die vreemdste om aan gewoond te raak in die buiteland? Wat was die grootste aanpassing vir jou in die buiteland?

Natuurlik was die taal die grootste uitdaging. Die grootste aanpassing was om sonder familie en ’n ondersteuningsnetwerk te wees. Om gewoond te raak aan die kos was ook effens uitdagend. Ons verlang na Mrs Ball’s blatjang, droëwors, Bovril en mieliepap. Mens leer maar om aan te pas en nuwe resepte en disse te probeer.

Hoe verskil die skoolstelsel in Frankryk van dié in Suid-Afrika?

Die grootste verskille in die skoolstelsel is die skoolure en die sport. Kinders gaan skool van 09:30 tot 17:30 met ’n lang etenstyd tussen 12:00 en 14:00. Daar word nie in skoolverband aan sport deelgeneem nie. Kinders word by klubs ingeskryf en betaal jaarlikse lisensies om te mag deelneem. Daar is ook geen skooluniforms nie. Daar is drie vlakke van skool: primêr (van 6- tot 10-jariges), collège (11- tot 15-jariges) en hoërskool (16- tot 18-jariges). Daar is ook elke ses tot agt weke ’n kort vakansie en dan een lang somervakansie wanneer die skooljaar aan die begin van Julie klaarmaak.

Vertel ons watse werk julle doen en hoe die werkkultuur in die land verskil van dié in Suid-Afrika.

My man het ’n rugbykontrak hier geteken. Hy het by verskeie klubs in Frankryk gespeel – Bayonne, Dax, Lyon en Perpignan. Hy is deesdae afrigter van die o. 21-span by Perpignan, asook skopafrigter van die professionele span. Ek het die voorreg gehad om vir 10 jaar myself daaraan te wy om my gesin te vestig in ’n nuwe land met ’n nuwe taal en nuwe kultuur. Ek het hierdie jaar eers weer my vlerke begin sprei op die werksfront. Ek is tans besig met ’n kursus wat my sal help om die arbeidsmag te betree. Ek beoog om iets in die eiendomsbedryf te doen.

Bestuur van motors en bestuurderslisensies – hoe verskil dit van Suid-Afrika? Besit julle jul eie motor of maak julle gebruik van alternatiewe vervoer?

Ons kon in ons eerste jaar in Frankryk ons bestuurderslisensies verruil vir Franse lisensies. My man se lisensie is deur die klub geruil, maar ek het die afsnydatum gemis en moes toe die leerlinglisensie, bestuurslesse en praktiese toets oordoen. Hier is ’n paar interessante padreëls – soos om toe te gee na regs op plekke waar mens dit nooit sou verwag nie. Hier is ook baie meer verkeersirkels as verkeersligte wat help met die vloei van verkeer. Ons was nog altyd bevoorreg om ons eie motors te hê, veral omdat ons verkies om in die buitewyke van die groot stede te woon. Ons het tot dusver nie werklik baie van die openbare vervoerstelsels gebruik gemaak nie.

Hoe vergelyk die verblyfopsies in Frankryk met die van Suid-Afrika?

Verblyfopsies is ingewikkeld vir ons Suid-Afrikaners hier. Ons verkies ’n erf en spasie om asem te haal, maar die Franse se huise is meestal teen mekaar of baie naby mekaar gebou. Dus het jy ’n baie klein tuintjie en nie veel van die privaatheid wat die groot erwe in Suid-Afrika jou bied nie. Daar is effens groter spasie soos mens meer na die buitewyke beweeg, maar hier betaal mens deur jou ore vir buite-areas.

Wat doen jy vir ontspanning in Frankryk?

Vir ontspanning geniet ek om klein dorpies te verken en foto’s te neem van die argitektuur en landskappe. Waar ons woon, naby die Spaanse grens by die Pirenëe-bergreeks, is die Spaanse invloed op die argitektuur duidelik sigbaar.

Is daar enige Suid-Afrikaanse ondernemings (winkels, restaurante, dienste) naby wat julle graag ondersteun?

Ek is op die oomblik net bewus van twee restaurante in ons dorp wat deur Suid-Afrikaners besit word. Die seekosrestaurant, La Maréee de Joe, behoort aan oudrugbyspeler, Joe Gilligham. La Paillote, ’n peuselkroeg en restaurant, is die eetplek van Erika Harmse en haar Franse man, Jerome. Ons gaan om die beurt na elkeen toe vir heerlike happies en Afrikaanse geselsies.

Wat is jou gunstelingherinnering van Suid-Afrika?

Groot familiekuiers is by verre my gunstelingherinnering van Suid-Afrika. Die samesyn waar ons lag tot die trane loop, heeltemal te veel kos eet, saamsing met Afrikaanse musiek en dans tot die son opkom, is waarna ek die meeste verlang.

Lees ook: Uit en tuis: ’n e-pos uit Nieu-Seeland

Woon jy in die buiteland, of het jy dalk onlangs teruggekeer uit die buiteland? Jy kan ook vir ons ’n Uit en tuis-rubriek skryf. Stuur ’n e-pos na wereldwyd@afriforum.co.za en ons stuur vir jou vrae om te beantwoord.

Deel op

Nuutste artikels