Die gedagte dat jou kind oorsee gaan werk en nuwe horisonne verken, is opwindend, maar dit bring ook unieke uitdagings en moontlike gevare mee. AfriForum Wêreldwyd ontvang gereeld navrae van ouers wie se kinders in moeilike situasies beland het weens ongeldige werksvisums, skynwerksaanbiedinge of misleiding deur werkgewers. Daarom moet sowel ouers as hul kinders baie goed ingelig is voordat hulle enige besluite in dié opsig neem. Hier is rooi ligte waarvoor mens op die uitkyk moet wees, maar ook ’n paar praktiese wenke.
Wees op die uitkyk vir dié rooi ligte
1. Besef die belangrikheid van wettige werksvisums
Werkgewers of agentskappe mag valse beloftes maak en onwettige visums aanbied. Dit is die verantwoordelikheid van die werknemer (dus jou kind) om seker te maak hul visum is wettig en geldig vir werk in die land waarheen hulle op pad is. Party werkgewers of agente bied aanloklike poste aan en beweer dat ’n toeriste- of studentevisums voldoende is vir die werk. Dit is egter onwettig en kan tot ernstige gevolge lei, soos deportasie, groot boetes of selfs verbanning uit die betrokke land.
2. Te goed om waar te wees?
’n Werksaanbod wat te goed klink om waar te wees, is gewoonlik presies dit: te goed om waar te wees. Dit sluit in werk waarvoor daar groot salarisse aangebied word sonder toepaslike kwalifikasies of werksonderhoude. Bedrieglike werkagentskappe vra dikwels voorafbetalings vir visums of vliegkaartjies – en verdwyn daarna spoorloos. Doen deeglike navorsing oor enige agentskap of werkgewer voordat jou kind enigiets onderteken of betaal.
Maak seker dat die maatskappy wat die werksaanbod maak geregistreer en wettig is. Gebruik betroubare webtuistes of professionele diensverskaffers om navrae te doen. Soek resensies oor die werkgewer of agentskap en vra vir kontrakte wat die salaris, werksomstandighede en verblyf duidelik definieer en beskryf.
3. Sosiale isolasie en uitbuiting
Sommige werkgewers gebruik taktieke soos om werkers te isoleer of hul bewegings te beperk. Maak seker jou kind het toegang tot kommunikasie en ondersteuning.
4. Onwettige werkspraktyke
Baie jongmense beland in werk onder onwettige omstandighede, wat hulle kwesbaar maak vir mishandeling of deportasie. Maak seker dat jou kind die regte werkspermit het en dat hul werkgewer volgens die wet geregistreer is.
Opsommende waarskuwingstekens:
- Gebrek aan ’n skriftelike kontrak: Mondelinge beloftes is onbetroubaar.
- Ongewone versoeke: As jou kind gevra word om hul paspoort aan die werkgewer te oorhandig, is dit ’n groot rooi lig.
- Gebrek aan duidelike kommunikasie: Vermy agentskappe of werkgewers wat onduidelik of dubbelsinnig is oor hul prosedures.
- Onrealistiese verwagtinge: Bly weg van werk wat buite die gewone pligte val of wat onredelik baie ure vereis.
Wenke vir ouers en kinders om veilig te bly
1. Moenie op die staat staatmaak nie
Volgens internasionale reg is ’n staat onder geen verpligting om sy burgers altyd te hulp te snel nie. Hulp gaan van verskeie kwessies afhang, insluitend
- waarom jy in die buiteland is;
- of daar enige verdrae bestaan tussen Suid-Afrika en die land waarin jy is wat sodanige hulp moontlik maak of voorkom; en
- of hulp prakties uitvoerbaar is of jou land die kundigheid of hulpmiddele het om op te tree wanneer jy hulp benodig.
Bereken jou risiko’s voordat jy vertrek. As jy nie gemaklik voel nie, moet liewer nie gaan nie.
2. Moet vir niemand pakkies saamneem nie
Al is jy 100% seker wat is sulke pakkies is, is die beste raad steeds om dit nie te doen nie. Smokkelaars is soms die mense van wie jy dit die minste verwag.
3. Vergewis jou van die land se arbeids- en ander toepaslike wetgewing
Elke land het unieke wetgewing oor werk, visums en arbeidspraktyke. Jou kind moet die arbeids- en ander betrokke wette van hul nuwe bestemming bestudeer. As hulle in sekere lande werk sonder die regte permit kan dit ernstige gevolge hê, insluitend inhegtenisname of deportasie.
4. Begryp die kultuur
Berei jou kind voor op die kulturele verskille en hoe om met respek en begrip binne ’n ander kultuur te werk en leef.
5. Goeie beplanning is ononderhandelbaar
Maak seker dat alle dokumente – insluitend werkskontrakte, visums en paspoorte – geldig en wettig is. Jou kind moet altyd gesertifiseerde afskrifte van dié dokumente hê en dit ook digitaal stoor. Hulle moet ook voldoende gesondheids-, werks- en reisversekering hê. Help hulle om ’n noodplan op te stel, soos om byvoorbeeld kontaknommers van die Suid-Afrikaanse ambassade in die betrokke land altyd byderhand te hê.
6. Kommunikeer gereeld met jou kind
Sorg dat jy en jou kind gereeld kommunikeer. Sorg ook dat jy ander wyses het om met jou kind kontak te maak, soos byvoorbeeld telefoonnommers of e-posadresse van hul vriende wat saam met hulle gaan of reeds daar is.
7. Versekering en gesondheidsdekking
Maak seker jou kind het die nodige gesondheidsversekering en dat hulle bewus is van hoe om mediese sorg te kry indien nodig.
Slotgedagtes
Wees versigtig vir ’n slang in die gras.
Of jou kind op pad is na China vir vakansiewerk of bloot ’n toer na Rome wil bespreek, wees maar bedag op mense wat hulle ’n rat voor die oë wil draai. As hulle die geleentheid kry om vakansiewerk oorsee te doen, maak seker dat hulle sélf ook die land se indiensnemingsregulasies en visumvereistes ken. Gaan die naam en adres van die maatskappy deeglik na om slenters uit te skakel en probeer om met meer as een kontakpersoon praat. Die kanse op ’n lokval is groot as:
- jou kind ’n werksaanbod kry sonder dat hulle ’n onderhoud gehad het;
- daar van hulle verwag word om betalings te maak voordat hulle meer inligting mag kry;
- die posbeskrywing baie abstrak is;
- die proses té maklik is en die pos of salaris té goed is om waar te wees; en
- hulle geen werksvisum voor hul vertrek ontvang nie.
Om oorsee te werk kan ’n wonderlike ervaring wees, maar dit vereis deeglike beplanning en verantwoordelikheid. Vir ouers is dit heel natuurlik om bekommerd te wees wanneer hul kind die onbekende aanpak. Ouers speel ’n belangrike rol om seker te maak dat hul kinders ingelig is oor die moontlike risiko’s en hoe om dit te vermy. Met die regte ondersteuning en inligting kan jongmense hul internasionale werkservaring geniet sonder om in lokvalle te beland.
Deel op
Nuutste artikels