Moenie Kersfees kanselleer nie – al is familie ver

20/12/2024
| Deur Sue-Ann de Wet
Moenie Kersfees kanselleer nie – al is familie ver

Die feestyd bring altyd gemengde emosies, veral as geliefdes nie naby is nie. Maar al is daar kilometers en tydsones tussen jou en jou familie, hoef jy nie jou tradisies of spesiale oomblikke prys te gee nie. Kersfees is immers nie net ’n dag nie, dit is ’n gevoel – van liefde, omgee en saamwees – en julle kan dit steeds vier, al is julle nie in mekaar se geselskap nie.

Hier is ’n paar wenke vir as die gemis gedurende Kerstyd net te erg raak.

Moenie jou tradisies laat vaar nie

Tradisies gee betekenis aan die feestyd en bind families oor generasies heen. As jy en jou geliefdes gewoonlik saam eet, Kersliedere sing, of geskenke uitdeel, skep maniere om hierdie dinge steeds te doen, selfs al is dit op ’n nuwe manier. ’n Virtuele Kersfeesete kan byvoorbeeld die ideale oplossing wees. Kook soortgelyke disse, dek jou tafel feestelik, en deel die oomblik met jou familie oor ’n video-oproep. Die doel is om kontak te behou en die spesiale tradisies lewendig te hou.

Maak virtueel kontak

In ons digitale era maak tegnologie dit makliker as ooit om kontak te hê met geliefdes. Beplan vooraf ’n spesifieke tyd om te bel, sodat almal reg is vir die spesiale oomblik. Skep pret deur gesamentlike aktiwiteite soos om aanlyn speletjies te speel, stories te deel of saam na ’n Kersfeesfliek te kyk. Al is die skerm tussen julle, bly die emosie eg.

Wat saak maak

Kersfees gaan oor die dinge wat regtig belangrik is: geloof, familie, liefde en herinneringe. Fokus op wat julle band versterk. Dink aan kreatiewe maniere om jou liefde te wys, soos om ’n handgeskrewe brief te skryf, of gebruik AfriForum Wêreldwyd se Wêreldgids om oulike Suid-Afrikaanse ondernemings in jou geliefdes se omgewing op te spoor. Stuur iets persoonliks – dalk ’n Afrikaanse leesboek vir jou kleinkind wat julle saam kan geniet. Dalk ’n spesiale plaaslike lekkerny wat nostalgie bring – verlangkos na jou ouerhuis. Hierdie klein gebare skep nuwe herinneringe en versterk familiebande.

Die beste medisyne vir droefheid is dankbaarheid

Wanneer die verlange na geliefdes oor die feestyd swaar druk, kan dankbaarheid jou help om die las te verlig. Neem tyd om stil te raak en te dink aan al die dinge waarvoor jy dankbaar is – die klein oomblikke van vreugde, die mense wat jou ondersteun, en die herinneringe wat jou hart vul. Skryf dit neer, of deel dit met jou familie en vriende. Dankbaarheid skuif die fokus weg van wat ontbreek, na wat steeds mooi en waardevol is in jou lewe. Dit bring ’n gevoel van vrede en gee nuwe betekenis aan die feestyd. Deur dankbaarheid te kweek, vul jy jou Kersfees met vrede en vreugde.

Moenie alleen wees nie

Kersfees kan ’n tyd wees wanneer mense dikwels geïsoleerd voel. As jy nie saam met familie kan wees nie, maak seker dat jy ook nie alleen is nie. Nooi vriende oor of sluit aan by gemeenskapsaktiwiteite. Deel jou dag met ander, al is dit nie jou direkte familie nie.

Moenie Kersfees kanselleer nie!

Die afstand tussen jou en jou geliefdes hoef nie ’n einde aan die vreugde van Kersfees te beteken nie. Die wete dat jou familie jou net so mis soos jy hulle, bring troos en bevestig die waarde van julle verhouding. Koester mooi herinneringe en fokus daarop om Kersfees te vier op maniere wat eg en betekenisvol is vir jou en jou familie.

Die boodskap van Kersfees bly helder, maak nie saak hoe ver julle van mekaar is nie: Liefde en dankbaarheid is die grootste geskenke.

Deel op

Nuutste artikels