Wanneer geskiedenis té lewendig raak

10/01/2025
| Deur Alana Bailey
Wanneer geskiedenis té lewendig raak

Die nuwe jaar het in Dresden, Duitsland, op ’n spannende noot begin toe die stad op 9 Januarie 2025 ontruim moes word nadat ’n bom wat uit die Tweede Wëreldoorlog (1939-1945) dateer, tydens instandhoudingswerk naby die Carolabrug oor die Elberivier ontdek is. Sowat 10 000 mense wat in die middestad werk en woon, is hierdeur geraak en moes geduldig wag dat bomdeskundiges dit onskadelik stel.

Dat hierdie fonds in Dresden gemaak is, is nie vreemd nie. Tydens die kontroversiële bombardement van die stad in Februarie 1945, het die Geallieerdes 4 000 bomme daarop laat neerreën. Dit het die middestad in ’n puinhoop omskep en die dood van ongeveer 25 000 mense veroorsaak.

Ploftoestelle uit die Eerste en Tweede Wêreldoorlog veroorsaak gereeld ontwrigting in Europa. In 2012 is die wêreld se derde besigste lughawe, Schiphol in Nederland, byvoorbeeld tot stilstand gedwing toe ’n lewendige bom naby een van die vertreksale ontdek is. ’n Konstruksiespan was met uitgrawings besig toe hulle daarop afgekom het. Die bom was van Duitse oorsprong en het sowat 500 kg geweeg. Net ’n dag tevore moes 2 500 mense in München ontruim word terwyl ’n hoogs plofbare bom van Amerikaanse oorsprong onder gekontroleerde omstandighede onskadelik gestel is deur dit te laat ontplof. Dit kon nie ontlont word nie, omdat dit ontwerp is om deur middel van ’n chemiese reaksie te ontsteek. Na soveel dekades onder die grond, was dit uiters onstabiel. Dit het sowat 250 kg geweeg.

Heelwat komiese verhale (wat darem oorwegend gelukkige eindes het) kan in die media gevind word van Britte wat dekades lank “tuinornamente” in beddings en op mure geplaas het, net om uiteindelik te ontdek dat dit uiters gevaarlike en hoogs plofbare toestelle was! In een geval het die egpaar na die gekontroleerde ontploffing van die granaat wat in hulle tuin gehou is, gesê dat hulle daaroor treur omdat dit vir hulle voel asof dit ’n vriend was wat al die jare hulle tuinmaakavonture meegemaak het en nou heengegaan het (hoewel dit nie stil heengegaan het nie, neem ons aan).

’n Walliese versamelaar van militêre memorabilia was opgewonde toe hy in September 2024 die geleentheid kry om die omhulsel van ’n Hongaarse stokgranaat uit die Tweede Wêreldoorlog aanlyn te koop. Toe dit afgelewer word, het hy egter besef dit is nie net die omhulsel nie, maar ’n lewendige granaat vol plofstof. Na ’n spannende wagtyd het die bomdeskundiges opgedaag en dit gekontroleerd laat ontplof.

Vlaandere het ook nog steeds las van ploftoestelle wat uit die Eerste Wêreldoorlog (1914-1918) dateer. Na raming word daar jaarliks meer as 120 ton ploftoestelle in die omgewing gevind. Daar word met ironie daarna as die streek se “yster oes” verwys. Handgranate wat aartappelboere in hulle landerye vind, word “swaar aartappels” genoem. Lewendige bomme, handgranate en ander ploftoestelle wat dekades lank diep begrawe gelê het, word stelselmatig na die oppervlak gestoot. Soms word burgerlikes beseer of plaastoerusting soos trekkers en ploeë verniel wanneer dit getref word en ontplof.  Dit veroorsaak selfs die dood van ten minste een persoon per jaar in België. Daar is klaarblyklik geen versekering hiervoor nie en die verantwoordelike lande betaal ook nie kompensasie aan slagoffers nie.

Die Belgiese weermag is verantwoordelik daarvoor om die ploftoestelle met daaglikse gekontroleerde ontploffings onskadelik stel. Van die toestelle bevat ook gas wat deur middel van gefiltreerde verbranding vernietig moet word. Brandwonde veroorsaak deur dodelike mosterdgas en fosgeen wat uit ou projektiele lek, is algemeen. Die aanleg wat die gas verbrand, het volgens ’n gids met wie ek in 2017 gepraat het, meer as drie miljoen Euro gekos. 

Op die dag wat ek die Vlaamse slagvelde in 2017 besoek het, het ’n boer juis weer ’n handgranaat en twee mortiere gevind terwyl hy besig was om sy landerye om te ploeg. Wanneer dit gebeur, word die owerhede in kennis gestel en afhangend van die grootte en aard van die toestel, word dit of onaangeraak gelos tot iemand dit kan kom onskadelik stel, of langs die pad neergesit sodat dit deur die deskundiges opgelaai en vernietig kan word.

Danksy die welsynswerk van onder andere Prinses Diana, is mense bewus daarvan dat landmyne wat wêreldwyd tydens verskeie konflikte geplant is, jaarliks vele sterftes en verminkings  veroorsaak. Lofwaardige werk word gedoen om dit op te spoor en slagoffers te help. Suid-Afrikaanse plofstofdeskundiges speel ’n groot rol in dié verband.

Dit bly tragies dat daar soveel energie spandeer word daaraan om mekaar uit te wis en dat konflikte al dekades lank vergete is, maar die tragedies steeds voortduur. Ons salueer almal wat hulle lewens waag om hierdie vreesaanjaende nalatenskap te hanteer en sodoende lewens te red.

Deel op

Hoe hou jy Afrikaans taalvaardighede vir jouself en/of kinders lewendig?
Naam en van
This field is hidden when viewing the form
This field is for validation purposes and should be left unchanged.

Nuutste artikels