Uit en tuis is ’n rubriek waarin ons gesels met mense wat in die buiteland woon, of wat daar gewoon en gewerk het, maar weer terug is in Suid-Afrika. Ons hoor graag van enigeen wat hul belewenisse met ons wil deel.
Vandeesweek gesels ons met Juanti Bornman, wat in Zambië woon.
Hallo, Juanti! Van waar in Suid-Afrika is julle oorspronklik, en wat het julle besluit om na Zambië te verhuis?
Ons is oorspronklik van Centurion. My man het deur sy vorige konstruksiemaatskappy ’n werksgeleentheid as projekbestuurder in Zambië gekry. Die aanvanklike plan was dat hy elke tweede week sou invlieg om die projekte te bestuur en seker te maak dat alles volgens standaard verloop. Dit het egter anders uitgedraai: Hy moes uiteindelik vir tien maande lank weekliks tussen Suid-Afrika en Zambië reis. Dit het groot druk op ons gesin plaas, en uiteindelik het ons besluit om by hom aan te sluit.
Vertel ons meer van jou gesin.
Ons is ’n gesin van vier. Ek en my man is al jaar 22 jaar getroud. Pedri, ons oudste seun word vanjaar 18, en Nonia, ons dogter, word 15. Ons is lief vir die buitelug en gek oor visvang. Ons bestee baie naweke en vakansies langs die Zambezirivier. Ons gesin is baie heg en doen meestal alles saam.
Aanpassing in ’n nuwe land kan uitdagend wees. Wat was jou grootste aanpassing in die buiteland, en het jy wenke vir ons lesers?
Zambië voel gelukkig nie heeltemal vreemd nie, veral met soveel Suid-Afrikaners hier. Die grootste aanpassing was beslis die sogenaamde Afrikatyd – iets waarvan ons in Suid-Afrika gepraat het, maar eers hier werklik ervaar het. Dit het ons geleer om geduldiger en minder gejaagd te wees.
My raad? Haal diep asem. Hoe meer jy opgewerk raak, hoe stadiger verloop dinge. Mense hier verstaan nie altyd hoekom jy haastig of ontsteld is nie, en as hulle senuweeagtig raak, neem dit net nóg langer. Ontspan en aanvaar die pas – dit maak die aanpassing soveel makliker!
Hoe oud is jou kinders en hoe het hulle in die nuwe land aangepas?
My seun was ses jaar oud en pas klaar met graad R in ’n Afrikaanse skool. Hier was hy ewe skielik in die tweede termyn in graad 2 met Engels as onderrigtaal. Siestog, hy het sy kop so gesit en vashou, en gekla die Engels maak sy kop seer … My dogtertjie was maar drie en ’n half jaar oud, maar moes in skoolklere by die skool se kleuterskool inval bo in Kitwe Zambië. Dit was vir my erg. Maar sy kon voor graad 1 die hele Engelse letterland vir jou opsê – H vir Harry Hatsman, ensovoorts. Sy kon ook 45 hoëfrekwensiewoorde lees/herken. Die Britse kurrikulum spring met ’n spoed weg in die laer grade!
Hoe verskil die skoolstelsel in Zambië van dié in Suid-Afrika?
Die Britse (Cambridge-)stelsel plaas volgens my baie klem op literatuur. Gevolglik lees kinders baie meer as met Suid-Afrika se CAPS-kurrikulum. Kinders lees boeke, nie net uitgedrukte werkstukke nie. Daar is ook oor die jare baie herhaling – elke jaar kry net ’n bietjie meer inligting by. Maar die standaard is hoog en die Engels is properse Engels – dit maak soms regtig ons Afrikanertjies se koppe seer!
Watter interessanthede het jy ontdek van die land waar jy woon wat jy nie vantevore geweet het nie?
Zambië het meer as 70 verskillende tale en dialekte.
Wat beteken jou Afrikanererfenis vir jou? Watter tradisies laat jy en jou gesin voortleef in die buiteland?
Ons is steeds trots Afrikaans: Ons huistaal is steeds Afrikaans, ons luister steeds Afrikaanse musiek en vier Geloftedag.
Ons gaan bykans elke drie tot ses maande Suid-Afrika toe, ons behou tradisies soos Familiekersfees en lekker familienaweke. Ons gaan kerk in Afrikaans in Lusaka (Dutch Reformed Church Zambia).
Is daar enigiets anders wat jy met ons wil deel?
Ons lewe heerlik hier. Ons voel absoluut veilig. Hier is nog nie geweldsmisdaad nie; mens hoor hier en daar van ’n inbraak waar die TV en soms kontant gesteel word. Ons bly 16 km buite die dorp op ’n kleinhoewe, maar het geen diefwering voor ons vensters of selfs alarmstelsel nie. Ons kinders weet nie van motorkapings nie. As ons in Suid-Afrika gaan kuier, moet ons preek oor fone en beursies wat op restaurant tafels lê, en amper vergeet word. Ons mis ons familie – maar hier word jou vriende jou familie.
Lees ook: Uit en tuis: ’n e-pos uit Switserland
Skryf vir ons
Woon jy in die buiteland, of het jy dalk onlangs teruggekeer uit die buiteland? Jy kan ook vir ons ’n Uit en tuis-rubriek skryf. Stuur ’n e-pos na wereldwyd@afriforum.co.za en ons stuur vir jou vrae om te beantwoord.
