Die prestasies van die Portugese ontdekkingsreisigers het diep spore in die wêreldgeskiedenis gelaat, dus het vandeesmaand se artikel nie net toepassing op Afrikaners nie. Dit vertel van Vasco da Gama, die onverskrokke seevaarder, ontdekkingsreisiger en later selfs onderkoning (viceroy) van Indië.
Da Gama is in 1460 of 1469 (historici verskil oor die datum) in die vissersdorpie Sines gebore. Van sy kinder- en jeugjare weet ons min, maar in 1492 het hy al naam gemaak toe hy op Franse skepe langs die Portugese kus beslag gelê het uit weerwraak vir Franse skendings van ’n vredesverdrag met Portugal.
Die volgende hoogtepunt in sy lewe waarvan ons weet, is dat koning Manuel I hom aangewys het as leier van ’n ekspedisie wat ’n seeroete na Indië moes vind. Die verbinding met die Ooste was weens handel in onder meer speserye van groot belang vir Portugal. Bartolomeus Dias het reeds om Kaap die Goeie Hoop geseil, maar die laaste deel van die seeroete moes nog gevind word. Die koning het vier skepe vir die taak laat toerus. Een daarvan, die São Gabriel is deur Da Gama aangevoer en nog een, die São Raphael, deur sy broer Paulo da Gama. Op 8 Julie 1497 het die skepe met Portugal se mees ervare navigators aan boord vanaf Lissabon vertrek.
Wat ’n avontuur was dit nie – ’n vaart die onbekende in! Binne drie maande het hulle meer as 10 000 kilometer oor die oopsee afgelê. Sover vasgestel kon word, was dit in daardie stadium van die geskiedenis die langste seereis sonder dat aan land gegaan is! Vanaf 7 November het die skepe ’n tyd lank vasgemeer in wat ons vandag as St Helenabaai ken. Hier het Da Gama ’n noue ontkoming gehad toe hy tydens onderhandelinge met lede van die plaaslike bevolking weens ’n misverstand met ’n spies raakgegooi is!
Teen 25 November het hulle by São Bras (die hedendaagse Mosselbaai) aangeland. Hier was die interaksie met die plaaslike inwoners aanvanklik meer aangenaam: ruilhandel is gevoer en laasgenoemde en die Portugese het saam musiek gemaak en gedans! Later het wantroue egter ingetree en toe die plaaslike inwoners gewapend opdaag en probeer keer dat die Portugese hulle drinkwatervoorraad aanvul, het die matrose twee salvo’s afgevuur om hulle die skrik op die lyf te jaag.
Op 16 Desember 1497 het die ekspedisie verby die Groot Visrivier gevaar. Dit was die verste punt wat Dias met sy reis om die Kaap bereik het en nou was Da Gama en sy medeseevaarders letterlik in ongekarteerde waters waar Europese seevaarders nog nooit was nie. Met Kersfees voorhande, het Da Gama die kusgebied waarlangs hulle gevaar het, die naam Natal gegee, ’n pleknaam wat KwaZulu-Natal 528 jaar later steeds dra.
Na vele wedervaringe het die groep Indië uiteindelik op 20 Mei 1498 bereik en daarmee was Vasco da Gama se naam in die geskiedenis verewig as die ontdekker van die seeroete na die Ooste. Die prestasie het egter ’n hoë tol geëis. Teen die tyd wat hulle op 29 Augustus 1499 in Lissabon teruggekom het, het meer as die helfte van die groep gesterf, insluitend Da Gama se broer, Paulo. Twee van die skepe moes ook onderweg tot niet gemaak word omdat daar te min matrose was om dit te seil en onderhou.
Koning Manuel I het vele eerbewyse aan Da Gama gegee, insluitend die oorerfbare titel Dom. Nog ekspedisies, prestasies, konflik en neerlae het gevolg. Van Da Gama se dade in die Ooste was uiters wreed, maar eie aan die gewoontes van die tyd.
In ongeveer 1501 is hy getroud met Catarina de Ataíde, wat uit ’n baie invloedryke Portugese familie afkomstig was. Hulle het ses seuns en een dogter gehad.
Vir byna twee dekades lank het Da Gama in onguns by die koning verval, maar toe hy dreig om in diens van Spanje te tree, is hy met nog eerbewyse, insluitend die titel van graaf van Vidigueira gepaai. Na Manuel I se dood het koning Johannes III vir Da Gama in Februarie 1524 as onderkoning van Indië aangewys en hy het in April met ’n vloot van veertien skepe na Indië vertrek. Kort na hulle aankoms by Indië het Da Gama egter malaria opgedoen en hy is op 24 Desember 1524 in Kochi, Indië oorlede.
Aanvanklik is hy daar begrawe, maar in 1539 is sy oorskot na Portugal teruggeneem en in Vidigueira herbegrawe. In 1880 is besluit dat Portugal se twee groot helde, die digter Luis de Camões en Vasco da Gama, in die kerk van die Jerónimos-klooster in Lissabon herbegrawe moes word. Hulle praalgrafte is in kapelle weerskante van die ingang van die kerk, waar konings Manuel I en Johannes III onder wie Da Gama gedien het, ook begrawe lê. Dit is onseker of die oorskot wat in dié kerk in ’n indrukwekkende marmerkis lê, werklik dié van Vasco da Gama is, maar ’n mens moet nooit ’n mooi storie met feite bederf nie …
Vir Portugese bly Da Gama ’n held uit die glorietyd van hulle land en sy afbeelding duik oral op – van op die Ontdekkersmonument en op ’n fasade bo die Praça do Comércio in Lissabon, tot ’n loodglasvenster by Pena Paleis in Sintra. Die Portugese vloot het selfs ’n klas fregatte na hom vernoem.
Plaaslik is ’n monument in die vorm van ’n padrão by Kaappunt waar hy in 1497 aangedoen het, ter ere van hom opgerig.

’n Soortgelyke padrão is in 1939 ter ere van Da Gama by Nazaré in Portugal opgerig. Volgens legende het hy voor hy op sy eerste tog na Indië vertrek het, hier as pelgrim aangedoen om om die beskerming van Onse Vrou van Nazaré te bid. Hy het ’n kosbare goue ketting vir krale van dié heilige verruil. By Kaap die Goeie Hoop het ’n storm gedreig om die ekspedisie se skepe te vernietig, maar Da Gama het die krale in die see gegooi en die storm het bedaar. Na sy terugkeer na Portugal het hy weer na Nazaré gegaan om dank te betuig. Die padrão van 1939 herdenk sy pelgrimstogte na dié dorp.

Wat ook al feit of fiksie mag wees, Vasco da Gama en sy reise bied stof waaruit legendes kan ontstaan en hy het onteenseglik bygedra om die wêreld te help vorm waarin ons vandag leef.
Foto’s: Alana Bailey