AfriForum dien kommentaar teen grondonteiening by parlement in

16/01/2020
| Deur AfriForum Wêreldwyd
qrf

AfriForum het vandag kommentaar per hand by die parlement ingedien teen die 18de Wysigingswetsontwerp van die Grondwet (artikel 25-wysiging). Hierdie wetsontwerp beoog om artikel 25 van die Grondwet (wat oor eiendomsreg handel) te wysig sodat privaat eiendom sonder vergoeding onteien kan word. Die sluitingsdatum vir die indien van kommentaar is 31 Januarie 2020.

AfriForum se kommentaar is opgestel deur die konstitusioneleregskenner adv. Mark Oppenheimer, lid van die Johannesburgse balieraad.

Die ad hoc-komitee om  wetgewing te inisieer en bekend te stel vir die wysiging van artikel 25 van die Grondwet is getaak met die implementering van die wysigingswetsontwerp. AfriForum wys in sy kommentaar daarop dat die voorgestelde wysiging die bestek van die komitee se voorstelle oorskry en daarom onwettig is.

“Die komitee het die publiek uitgenooi om voorleggings in te dien rakende die onteiening van grond sonder vergoeding en die komitee se voorstelle verwys ook spesifiek na grond, terwyl die wysigingswet verder as dit gaan deur nie net na grond te verwys nie, maar ook na verbeteringe wat op die grond aangebring is,” sê Ernst Roets, AfriForum se hoof van beleid en aksie.

Inaggenome dat artikel 39(1)(b) van die Grondwet vereis dat wanneer die Handves van Regte geïnterpreteer word, ’n hof, tribunaal of forum internasionale reg moet oorweeg, voer AfriForum aan dat die wysiging sal lei tot ’n skending van internasionale reg. Die Resolusie op Permanente Soewereiniteit oor Natuurlike Hulpbronne 1803 (XVII) van 1963 (van die Verenigde Nasies, waarvan Suid-Afrika sedert 1945 ’n stigterslid is), asook artikel 2(2)(c) van die Handves van Ekonomiese Regte en Verpligtinge van State Resolusie 3281 (XXIX) van 1974 bepaal dat eienaars toepaslike vergoeding betaal moet word as ’n staat hul eiendom onteien.

Die Europese Hof vir Menseregte het verder in 2002 bepaal dat onteiening sonder markverwante vergoeding teenstrydig sal wees met internasionale menseregtestandaarde. Die hof het ook bevind dat die gepaste balans van regte en belange oor die algemeen bereik is wanneer die vergoeding wat betaal is aan die persoon wie se eiendom onteien is, redelikerwys verwant was aan die markwaarde daarvan soos bepaal ten tyde van die onteiening. ’n 2012-studie van staatspraktyk deur die Verenigde Nasies se Konferensie oor Handel en Ontwikkeling het die volgende bepaal oor die vereistes van internasionale reg: “’n Staat se versuim om enige vergoeding te betaal vir ’n direkte onteiening sal sodanige onteiening onwettig maak …”

AfriForum het ook sy kommer uitgespreek dat die wysiging sal lei tot die uitsluit van Suid-Afrika uit die Verenigde State Handel Wet – die Wet op Groei en Geleenthede in Afrika (Agoa). Suid-Afrika sal in aanmerking bly om by Agoa te baat mits dit die volgende markgebaseerde ekonomie reeds gevestig het of voortdurend vordering maak met die vestiging daarvan, wat privaat eiendomsreg beskerm, ’n oop reëlgebaseerde handelstelsel insluit en die regering se inmenging in die ekonomie tot ’n minimum beperk deur maatreëls soos prysbeheer, subsidies en regeringsbesit van ekonomiese bates.

“Die bemagtiging van die staat om privaat eiendom sonder vergoeding te onteien kom neer op ’n skending van hierdie artikel van Agoa, wat negatiewe gevolge vir die Suid-Afrikaanse ekonomie kan inhou. As ’n begunstigde van Agoa het Suid-Afrika in 2018 meer as R100 miljard se goedere na die VSA uitgevoer,” sê Roets.

AfriForum beskou ook die wysiging as ’n skending van artikel 2 van die Grondwet, aangesien artikel 2 bepaal dat die Grondwet die oppergesag van die Republiek is en dat enige wet of optrede wat daarmee strydig is, ongeldig is. Dít terwyl die wysiging in effek mag van die Grondwet af wegneem en dit vir die parlement gee deur die omstandighede wat in artikel 25 van die Grondwet uiteengesit word te omseil, wat oorweeg moet word wanneer daar bepaal moet word hoeveel vergoeding betaal moet word wanneer grond onteien word en hierdie faktore te verwys na nasionale wetgewing om te bepaal wanneer vergoeding nie betaalbaar sal wees nie Die Grondwet sal dus ondergeskik gestel word aan nasionale wetgewing as gevolg van hierdie wysiging.

“Die wysigingswetsontwerp is misleidend in die sin dat meningspeilings herhaaldelik wys dat die oorgrote meerderheid van mense in Suid-Afrika die verspreiding van grond as ’n lae prioriteit beskou en dat meer as 1,8 miljoen individue reeds vergoed is vir historiese ongeregtighede met betrekking tot die eienaarskap van grond. Van hierdie begunstigdes het meer as 90% finansiële vergoeding bó grond verkies,” sê Roets.

“Dit blyk dat die regerende party wetgewing as ’n wapen wil gebruik om sy politieke doelwitte te bevorder en dat die implementering van die wysiging van die Grondwet vernietigende gevolge vir die Suid-Afrikaanse ekonomie kan inhou.”

AfriForum het daarom ook aansoek gedoen vir ’n hofbevel dat die grondwetlikehersieningskomitee se verslag – wat aanbeveel dat die Grondwet gewysig moet word om onteiening sonder vergoeding moontlik te maak – tersyde gestel moet word as gevolg van verskeie ongerymdhede met die opstel van die verslag. Die aansoek sal vanjaar aangehoor word. AfriForum sal binnekort verdere stappe aankondig oor sy veldtog teen onteiening sonder vergoeding en regsaksies wat daaruit sal voortspruit.

Deel op

Nuutste artikels