AfriForum en SAPD span kragte saam om misdaad te bekamp
AfriForum se 177 buurt- en plaaswagte het die afgelope naweek voortgegaan om hul samewerking met wetstoepassers op voetsoolvlak te versterk. AfriForum-strukture in die Oos-Rand het op Menseregtedag, tydens operasie Mashakane, kragte saamgesnoer met die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD). Altesaam 117 lede, insluitend verteenwoordigers van private sekuriteitsmaatskappye, het aan hierdie grootskaalse massapatrollie deelgeneem om veiligheid en sigbaarheid in die gebied te verbeter.
AfriForum se hoofwoordvoerder vir Gemeenskapsveiligheid, Jacques Broodryk, sê hierdie soort deurlopende samewerking het in die verlede talle suksesvolle misdaadbekampingsoperasies tot gevolg gehad. Dit het ook opnuut die belangrikheid van gemeenskapsbetrokkenheid by misdaadvoorkoming beklemtoon.
“Die stryd teen misdaad kan nie in isolasie gewen word nie. Dit is slegs deur samewerking tussen gemeenskapslede, private sekuriteitsmaatskappye en wetstoepassers dat ons veiliger woonbuurte kan skep. Dit is ook deur hierdie proaktiewe optrede dat ons gemeenskappe uit die kloue van kriminele elemente kan hou.”
Benewens die bedrywighede in die Oos-Rand, het AfriForum se buurtwagte in Klerksdorp ook die afgelope naweek massapatrollies saam met die SAPD gehou om misdadigheid in hul omgewings hok te slaan. Hierdie gesamentlike pogings het ten doel om misdaad te verminder en die veiligheid van plaaslike inwoners te verseker.
Verder gaan Klerksdorp se woonbuurte eerskomende Saterdag nog ’n massapatrollie hou. Die inisiatief sal ’n gesamentlike poging wees wat die SAPD, die verkeersdepartement, private sekuriteitsmaatskappye en AfriForum se buurtwaglede betrek.
AfriForum doen ’n beroep op gemeenskapslede om aan hierdie misdaadvoorkoming deel te neem. Deur saam te staan, kan daar weer vrede in gemeenskappe herstel word.
Word ’n internasionale lid van Afriforum
Jou ondersteuning kan ons help om voort te gaan met die stryd vir veiliger gemeenskappe in Suid-Afrika. Jou bydrae maak ’n werklike verskil in die veiligheid van geliefdes in Suid-Afrika.
Sluit aan