AfriForum se waarskuwings oor onteiening sonder vergoeding bevestig deur Mashatile se kommentaar in parlement

12/11/2025
| Deur AfriForum Wêreldwyd
AfriForum se waarskuwings oor onteiening sonder vergoeding bevestig deur Mashatile se kommentaar in parlement

Ernst van Zyl (Afrikaans)

Die ANC bly toegewyd tot sy doelwit om onteiening sonder vergoeding te bewaarheid en ondersteun hierdie beleid ten sterkste – iets wat die burgerregteorganisasie AfriForum vir jare lank al oor waarsku. Gedurende ’n parlementêre vraag-en-antwoord-sessie Dinsdag het adjunkpresident Paul Mashatile beklemtoon dat die ANC nie sy resolusie oor grondonteiening sonder vergoeding, wat die party op sy konferensie in 2017 aanvaar het, laat vaar het nie en dat die party steeds onteiening sonder vergoeding ondersteun. Op ’n vraag deur die EFF het Mashatile geantwoord dat die ANC ten gunste van onteiening sonder vergoeding is en dat die party “nog nooit daarvan afgewyk het nie”.

Op Brian Molefe, MK-party (MKP)-LP se vraag oor of die ANC sy standpunt oor grondonteiening sonder vergoeding verander het, het Mashatile ook geantwoord: “Toe ons na die parlement gekom het om dié resolusie na te streef, moes ons met al die ander partye praat. Toe dit by die wysiging van artikel 25 [van die Grondwet] kom, het ons nie daarin geslaag om dit in die parlement goed te keur nie. Ons het verder gegaan om te verseker dat ons ’n manier het waarop ons kan voortgaan om grond te onteien”. Mashatile het verder bevestig dat die Onteieningswet juis deur pres. Cyril Ramaphosa onderteken is om te verseker dat die regering met onteiening sonder vergoeding kan voortgaan, nadat die ANC misluk het in hul poging om artikel 25 van die Grondwet te laat wysig. “Ons druk veel vinniger om grond te onteien,” het Mashatile verder gesê.

Volgens Ernst van Zyl, hoof van Openbare Betrekkinge by AfriForum, is dit skokkend dat, ten spyte van die ANC se erkenning keer op keer dat hulle privaat eiendom deur middel van die Onteieningswet, wil en gaan onteien sonder vergoeding, is daar steeds diegene wat dit ontken. “Die ANC se eie verklarings weerspreek die teenwerping van diegene wie aanhou vir hulle ’n rookskerm gooi,” se Van Zyl.

“AfriForum sal aanhou verseker dat mense binne en buite Suid-Afrika ingelig is oor hoe privaat eiendomsreg  bedreig word. Ons gaan ook die Onteieningswet in 2026 in die hof beveg,” sluit Van Zyl af.

Deel op

Nuutste artikels