AfriForum-verslag toon ANC-regering gebruik ras om eie probleme toe te smeer

30/08/2023
| Deur AfriForum Wêreldwyd
3J2A9616-2048x1365-1

Deur Marthinus Koekemoer

Suid-Afrika gaan gebuk onder verskeie probleme waarvan die oorgrote meerderheid aan die ANC-regering se wanbestuur, korrupsie en kaderontplooiing toegeskryf kan word. AfriForum het vandag ’n verslag bekendgestel wat die rasbeheptheid van die ANC-regering onder die loep neem, asook hoe die raskaart en verwysings na die verlede telkens aangewend word om ekonomiese, sosiale en ander probleme te probeer verberg.

Johan van der Merwe, ’n prokureur by Haasbroek & Boezaart Prokureurs, het die verslag Racialised Legislation in South Africa opgestel en het tydens sy navorsing verskeie skokkende bevindings gemaak. Hy het byvoorbeeld gevind daar was sedert 1910 sowat 313 raswette in Suid-Afrika ingestel waarvan nagenoeg 37% sedert die ANC in 1994 die regerende party geword het, geskep is.

“Hierdie wette word gewoonlik geskep met die edelste bedoelings soos om armoede te verminder en die ongelykhede wat in die verlede geskep is, uit te wis. Navorsing het egter bewys dat regstellende aksie nie hierdie doelstellings bereik nie. Dit bevoordeel gewoonlik die mense wat die wette uitdink en dus sal hulle dit nie maklik laat vaar nie,” sê Van der Merwe.

Johan van der Merwe

Alhoewel regstellende aksie ook in ander lande gebruik word, sê Van der Merwe dit is omtrent orals aan die afneem. Suid-Afrika is ook een van die min lande waar regstellende aksie gebruik word om ’n meerderheidsgroep te beskerm en eintlik poog om ’n minderheidsgroep by die ekonomie uit te sluit.

Vir hierdie verslag is enige wet wat na ras verwys ondersoek. Baie van hierdie wette is natuurlik goed en is daargestel juis om diskriminasie te probeer uitskakel. Van der Merwe het vir die doeleindes van die verslag hierdie soort wette in ’n eerste kategorie ingedeel. In ’n tweede kategorie sluit hy wette soos Swart Ekonomiese Bemagtiging (BEE) en die Wet op Gelyke Indiensneming in wat van nature rasgedrewe is. Hierdie wette is geskep met die veronderstelling om ongelykhede van die verlede uit te skakel. ’n Derde kategorie is wette wat eintlik nie direk met ras te doen het nie, maar wel steeds ras noem.

Laasgenoemde wette is problematies en verwys gewoonlik na verteenwoordiging. Hierdie wette verwys dan gewoonlik na hoe ’n raad of die bestuur van ’n maatskappy se lede verteenwoordigend van die demografie van die land moet wees. Alhoewel enkele individue uit voorkeurgroepe voordeel uit hierdie wetgewing trek doen dit min om die oorgrote meerderheid voorheen benadeelde Suid-Afrikaners op te hef.

Enige onderneming met meer as 50 werknemers of wat ’n sekere voorgeskrewe industrie-omsetkerf oorskry, moet volgens wetgewing wat in Mei vanjaar aangekondig is binne vyf jaar sekere rasteikens bereik of die risiko loop om reuseboetes van soveel as R2,7 miljoen of 10% van die onderneming se omset opgelê te word. Verskeie belanghebbendes insluitend die DA en Solidariteit het teen hierdie wetgewing kapsie gemaak. Solidariteit het ook ’n ooreenkoms met die regering onderteken wat die impak van wat die regering probeer vermag het met rasteikens grootliks ongedaan gemaak het.

“Waarop dit neerkom is dat ’n onderneming op grond van ras moet diskrimineer of die risiko loop om gepenaliseer te word. Daar is ook vlakke vir die wyse waarop BEE by ’n onderneming in plek is. Hierdie vlakke speel ’n groot rol wanneer staatskontrakte toegeken word,” sê Van der Merwe.

Staatskontrakte word dikwels gekenmerk deur grootskaalse korrupsie waar projekte halfhartig of glad nie aangepak word nie en die belastingbetaler se geld in ’n kader se agtersak beland bloot omdat sy of haar onderneming voorkeur geniet bo een wat op ’n laer BEE-vlak is, maar wel die werk sal kan doen.

Ernst van Zyl, veldtogbeampte vir strategie en inhoud by AfriForum, meen dis hoog tyd dat rassediskriminasie deur middel van wetgewing beëindig moet word. “Regstellende aksie is eintlik net ’n versagtende term wat gebruik word vir rassisme. Die gevolg is dat ’n mens die soort rassisme sien soos wat Dischem verlede jaar wou toepas en mense dink dit is aan die orde van die dag. Die eintlike probleem in die land is dat die regering nie krisisse kan oplos nie en deurgaans die aandag van hul foute na iemand anders probeer verskuif.”

Lees die volledige verslag hier.


Die artikel is oorspronklik geskryf vir Forum Nuus.

Deel op

Hoe lank woon jy al in die buiteland?
Naam en van
This field is hidden when viewing the form
This field is for validation purposes and should be left unchanged.

Nuutste artikels