AfriForum vra op Internasionale Moedertaaldag: “Werk saam aan Afrikaans se toekoms”
Ter viering van Internasionale Moedertaaldag moedig AfriForum Afrikaanse moedertaalsprekers aan om vandag te vier deur aan die toekoms van hul taal te werk.
Volgens Alana Bailey, AfriForum se hoof van Kultuursake, is Afrikaans beide onder druk van politici se ideologiese aanslae en van Engels as sterker internasionale taal, maar tog bly dit sterk en lewenskragtig. “Gegewe die druk waaronder Afrikaans verkeer, moet ons eerder aanmoedig om dit te ondersteun en altyd waar moontlik te gebruik. Dit vra nie eens ingewikkelde aksies nie – elke keer wanneer iemand ’n Afrikaanse boek koop of Afrikaanse diensverskaffer ondersteun, is hulle klaar besig om dit te doen,” verduidelik sy.
In 2025 is die eeufees van Afrikaans as amptelike landstaal gevier. Bailey noem dat AfriForum en AfriForumTV toe ondersoek ingestel het na verskeie nuwe ontwikkelinge in dié taal omdat hulle ook oor die volgende honderd jaar daarvan wou praat. Dit het gelei tot die vervaardiging van die reeks Toekomstaal, wat tans op AfriForumTV beskikbaar is.
Bailey noem dat dit opwindend was om te sien hoeveel opsies in Afrikaans bestaan waarvan ons ’n dekade of twee gelede nie eens sou kon droom nie. Dit sluit kennisbronne soos WEET en die Afrikaanse Wikipedia in, asook Afrikaans.com se AI (die akroniem vir Afrikaanse Intelligensie). Verder fokus die reeks ook op die toekoms van stromingsdienste soos AfriForumTV, radio en aanlyn nuusbronne. Noodsaaklike advies is verder verleen om die publiek teen bedrieërs wat Afrikaans vir hulle slenters inspan, te waarsku. Daar is deeglik ondersoek hoe nuwe ontwikkelinge dit moontlik maak om die geskiedenis van Afrikaans meer effektief te bewaar.
Die slotsom waartoe die vervaardigers aan die einde van die reeks gekom het, is dat Afrikaans steeds meer dinamies groei, danksy mense wat moeite doen om dit te ontwikkel en te ondersteun. Op Internasionale Moedertaaldag dra AfriForum opregte dank aan hierdie pioniers oor en wens alle ander taalgemeenskappe in die land voorspoed met die bevordering van hulle tale toe.
Die sewe episodes van Toekomstaal is beskikbaar onder die Aktueel-kategorie by www.afriforumtv.co.za.

Deel op
"*" indicates required fields
Nuutste artikels



















