Afrikaans 100 – Taalheld 9 – Petrus Nienaber, die “vader” van ons taalerfenis

05/11/2025
| Deur Alana Bailey
Afrikaans 100 – Taalheld 9 – Petrus Nienaber, die “vader” van ons taalerfenis

Met die vieringe van Afrikaans se honderd jaar as amptelike taal van Suid-Afrika en die 150 jaar sedert die totstandkoming van die Genootskap vir Regte Afrikaners (GRA), is die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum (NALN) in Bloemfontein een van ons grootste kultuurskatte wat die ontwikkelingspad van die taal tot hier toe karteer en bewaar. Dit is in 1973 deur die Vrystaatse provinsiale regering gestig en word in die Ou Vrystaatse Regeringsgebou gehuisves.

Die merkwaardige man wat as die vader van NALN en van ander belangrike versamelings oor Afrikaans beskou kan word, is prof. Petrus Johannes Nienaber.

P.J. Nienaber

Hy is op 1 Oktober 1910 in die Fauresmith-distrik gebore as derde seun van die gesin van vyf kinders. Twee van sy broers, Gabriël Stephanus (Gawie) en Christoffel Johannes Michael, sou soos Petrus ook letterkundiges word. Dit is nogal merkwaardig as in gedagte gehou word dat hulle op die Vrystaatse platteland grootgeword het en eers toe hulle begin studeer het in aanraking met die groter wêreld gekom het.

Petrus het van jongs af ’n onversadigbare leeslus gehad en toe hy as jong seun met verhale vir tydskrifte begin geld verdien, het hy hom aan die koop van boeke begin toewy.

Hy was aanvanklik nie ’n suksesvolle skolier nie, maar teen matriek het hy só goed gevaar dat die Thomas Robertson-beurs vir verdere studie aan hom toegeken is. Dit was net vir matrikulante wat die beste in matriek vaar, beskore.

Hy is ná skool na die Grey-universiteitskollege (vandag die Universiteit van die Vrystaat) waar hy ten spyte van finansiële uitdagings in 1932 ’n BA-graad met Latyn en Nederlands as hoofvakke behaal het. Benewens sy studies het hy onder meer ook vir die kollege se tweede en derde spanne rugby gespeel. In sy tweede jaar is hy tot die verteenwoordigende studenteraad verkies en in 1933 is hy met ’n oorweldigende meerderheid tot voorsitter van dié raad verkies. Hy was een van die stigterslede en ’n komiteelid van die Afrikaanse Studentebond, sekretaris van die Letterkundige Vereniging (1933); voorsitter van die CSV-bestuur (1932–1933); sekretaris van die sosiale komitee (1932); voorsitter van die Klassieke Vereniging en huiskomiteelid van Abraham Fischer-koshuis. Aanvanklik wou hy ’n predikant word, maar prof. C.M. van den Heever het hom oorreed om eerder vir ’n MA-graad in Afrikaans in te skryf – wat hy dan ook met lof behaal het.

Hierna het Petrus op 4 Desember 1933 na Nederland vertrek om daar verder met ’n studiebeurs van die Nederlandse regering te studeer. Pas daar aangekom, het hy die slegte nuus ontvang dat sy verloofde die verlowing met hom verbreek het. Hy was aanvanklik eensaam en bedroef, maar het gou vriende gemaak en aangepas. In dié tyd het hy die roman Die gebou teen die bult geskryf – die eerste Afrikaanse roman studentelewe. Sy vakansies het hy meestal daaraan gewy om bekende skrywers en groot boekerye te besoek. In 1936 het hy die doktorale eksamen afgelê, teruggekeer na Suid-Afrika en in 1938 weer na Nederland gereis om daar te promoveer met ’n proefskrif getiteld “Die Afrikaanse romantematologie”.

Tientalle boeke het uit P.J. Nienaber se pen voortgevloei.

Hierna het ’n lang en roemryke loopbaan as akademikus tot professorraatvlak gevolg. Sy studente onthou sy menslikheid en droë sin vir humor met groot deernis. Hy het ook heelwat geskryf – van letterkunde tot boeke oor bewaring en die geskiedenis van Afrikaans. Sommige van die boeke is onder skuilname, insluitend I.R. van Niekerk, Ryno de Villiers en Jac J. Rousseau, gepubliseer.

Die belangrikste waarvoor ons hom egter hier eer, is sy versameling Afrikaanse publikasies. Hoewel hy van jongs af boeke en tydskrifte gebêre het, het die gogga hom eintlik gebyt toe hy en sy broer Gawie besluit het om ’n boek te skryf oor die geskiedenis van die Afrikaanse letterkunde van die beginjare af. Tot hulle skok het hulle egter gevind dat geen biblioteek in die noorde van die land Afrikaanse boeke gehad het wat voor 1900 verskyn het nie. Die volgende stap was om na die Boland te reis en deur huise, solders en motorhuise te snuffel om bymekaar te maak wat hulle kon kry. Hulle was gelukkig genoeg om bykans al 92 boeke wat voor 1900 verskyn het, asook ’n feitlik volledige stel van Die Afrikaanse Patriot en volledige stelle van Ons Klyntji en Ons Taal in die hande te kry, plus vele ander tydskrifte en manuskripte van vroeë skrywers en Bybelvertalers. Die Nienaber-versameling het uiteindelik gegroei tot 15 000 bande en 14 000 boeke.

Sy eggenoot en kinders moes deur die jare verlief neem daarmee dat wanneer ander mense by vakansie-oorde uitspan of nuwe klere kry, hulle daarsonder moes klaarkom omdat boeke al die beskikbare geld ingesluk het. ’n Kennis vertel dat sy vrou soms moeilik kon raak oor al die aankope en dan het hy van die boeke weggesteek vir haar. In 1947 het hy selfs ’n huis met ’n spesiale kelder vir sy boeke laat bou. Die huis is Libricellae (“boekkluis”) genoem. Toe sy vrou ernstig siek word en versorging benodig, moes hy noodgedwonge sy versameling aan die Kaaplandse Provinsiale Biblioteek te verkoop. ’n Deel hiervan het later by NALN beland en nog ander by die Afrikaanse Taalmuseum.

Die verkoop van die boeke het sy hart gebreek, maar nie sy spoed nie. Ná net tien jaar het hy reeds weer 20 000 boeke en 10 000 tydskrifte in besit gehad. Soms het hy hele versamelings boeke opgekoop, ander kere het boekhandelaars hom laat weet wanneer iets skaars te koop was. Vriende het gewaarsku jy moet hom altyd ’n stewige druk gee as julle groet, sodat jy kan seker maak dat een van jou boeke nie dalk in sy baadjiesak beland het nie …

Met die totstandkoming van NALN is hy as eerste kurator aangestel. Deur die jare is hy met verskeie toekennings vir sy redding van die taal se vroegste en kosbaarste publikasies bekroon. Die hoogste burgerlike toekenning, die Dekorasie vir Voortreflike Diens (Goud), is onder meer in 1982 aan hom toegeken. Verskeie biografieë het ook al oor hom verskyn.

Petrus (of Nien, soos vriende hom ook genoem het) is op 24 Mei 1995 in Bloemfontein oorlede. Hierdie unieke baanbrekerversamelaar van Afrikaanse publikasies het diep spore gelaat wat moeilik gevul sal kan word – ook in die harte van dié wat hom geken het.

Deel op

"*" indicates required fields

This field is for validation purposes and should be left unchanged.
Watter taal praat jy by die huis?
Naam en van
This field is hidden when viewing the form

Nuutste artikels