Afrikaans oorsee: Hoe een gesin hul moedertaal trots bewaar het
Taal is meer as net woorde – dit is die manier waarop ons dink, voel en behoort. Vir Suid-Afrikaners wat oorsee woon, is die behoud van Afrikaans nie altyd eenvoudig nie. Nuwe kulturele invloede, druk om in te pas en kinders wat vinnig aanpas by ’n Engelse skoolstelsel, maak dit soms uitdagend om die moedertaal lewendig te hou. Tog is daar gesinne wat doelbewus kies om Afrikaans te beskerm, nie uit nostalgie nie, maar uit trots.
Charles en Maritha Keyser, wat al jare in Australië woon, deel hul praktiese wenke en ervaring oor hoe hulle as familie daarin geslaag het om Afrikaans nie net te behou nie, maar dit deel te maak van hul kinders se identiteit.
“Die behoefte om in te pas en deel te wees rig ons optredes en besluite,” verduidelik hulle. “Dit is veral erg vir kinders wat met landverhuising plotseling vanuit een milieu geruk en na ’n ander gepluk word.”
In ’n land soos Australië, waar Engels oorheers, kan kinders soms huiwerig raak om Afrikaans te praat. Hulle wil nie as “anders” bestempel word nie, en dikwels ervaar hulle dat die gebruik van hul moedertaal hulle vreemd laat voel tussen maats. Maar volgens die Keysers is daar maniere om hierdie uitdaging te oorkom en dit begin by ouers wat doelbewus volhou.
Een gesig, een taal
Die eerste metode, sê hulle, is eenvoudig maar doeltreffend: “een gesig, een taal.” Dit beteken dat elke ouer konsekwent net hul eie moedertaal met die kind gebruik, veral in die vroeë jare. “As jy met jou kind praat, doen dit net in Afrikaans en so suiwer as wat jy kan,” verduidelik Maritha. “As jou wederhelfte ’n ander moedertaal het, volg dieselfde beginsel.”
Hulle dogter en haar nie-Afrikaanssprekende man het hierdie metode toegepas, en hul tweejarige dogtertjie is nou gemaklik in beide haar ouers se tale – Engels het natuurlik later gekom. “Dis ’n feit soos ’n koei,” sê Charles, “jy hoef nie met jou jong kinders Engels te praat om hulle Engels te leer nie, die skool en kleuterskool doen dit sommer vanself.”

Praat Afrikaans – selfs voor ander
Die tweede metode, sê die Keysers, is nou verwant aan die eerste – maar dit is by verre die moeilikste. Dit vra van ouers om doelbewus die sosiale druk te weerstaan om met hul kinders Engels te praat in die teenwoordigheid van ander mense.
“In Australië is Afrikaners dikwels geneig om, uit beleefdheid of oorweging vir ander, oor te slaan na Engels wanneer hulle met hul kinders praat,” verduidelik hulle. “Maar juis daardie oomblikke is belangrik om konsekwent Afrikaans te bly gebruik.”
Vir kinders voel dit aanvanklik vreemd – soms selfs ’n verleentheid. Tog is dit presies hierdie situasies wat hulle leer dat hul moedertaal iets is om op trots te wees.
“Ons het as gesin besluit om bewustelik Afrikaans te praat, maak nie saak wie saam met ons is nie,” vertel Maritha. “As ons dogter byvoorbeeld maats oor het, sê ons in Afrikaans: ‘Vat jou maats saam en gaan koop vir julle roomys by die kafee om die hoek.’ Sy vertaal dit self vir haar maats – en so leer sy dat dit normaal en aanvaarbaar is om in haar moedertaal te praat.”
Deur hierdie praktyk word kinders se selfvertroue versterk. Hulle leer dat hulle nie hoef skaam te wees oor wie hulle is of watter taal hulle praat nie. Dit plaas hulle in beheer en help dat ander dit as iets natuurlik en positief begin sien.
Die Keysers sê dat so ’n besluit maklik konflik of spanning in ’n gesin kan veroorsaak, veral in die beginfase van aanpassing in ’n nuwe land. Daarom is dit noodsaaklik om vooraf as gesin te besluit dat Afrikaans vir julle belangrik is en om dit sonder verskoning aan vriende en kennisse te kommunikeer.
“Dis nie onbeleefd nie, dis integriteit,” sê Charles. “As jy vir ander sê dat dit vir jou belangrik is om jou kinders hul moedertaal te laat behou, wys jy trots en eerbied vir jou herkoms. En dit word selde met iets anders as respek ontvang.”

Waarom die moeite doen?
Na twintig jaar in die buiteland sê die Keysers dat dit die moeite werd was. Hul kinders praat vandag trots Afrikaans – nie omdat dit van hulle verwag is nie, maar omdat hulle verstaan waar hulle vandaan kom.
“Die erfenis van ’n moedertaal verryk jou siel,” sê Charles. “Afrikaans, met sy eie ritme en uitdrukkings, gee aan jou identiteit kleur en karakter. En as dit nog nie genoeg rede is nie,” voeg hy by, “mens braai eenvoudig lekkerder in Afrikaans.”

’n Taal om vas te hou
Die Keysers se verhaal herinner ons daaraan dat taal nie net ’n kommunikasie-instrument is nie, dit is die draer van herinneringe, humor en erfenis. Deur doelbewus Afrikaans te praat, selfs wanneer dit vreemd voel of teen die stroom ingaan, gee ouers aan hul kinders ’n onskatbare geskenk: die vermoë om hul wortels te verstaan en hul eie stem in hul moedertaal te vind.

Lees ook: Die ander kant van emigrasie: Hoop en hulp teen eensaamheid



















