Die Krismis-“blues”

06/01/2026
| Deur AfriForum Wêreldwyd
Die Krismis-“blues”

Deur Mignon du Plessis

Hierdie jaar is ons sewende Kersfees in Kanada, en sonder twyfel is dit die moeilikste een nog.

Miskien is dit die “seven-year itch” – ek weet nie. Maar hierdie jaar, om families op sosiale media saam te sien om lang tafels, vol mense, geraas en gedeelde geskiedenis, terwyl ons by ons klein Kersfeestafel sit as ’n gesin van vyf … is dit swaar.

Dit het my laat wonder: Hoekom nou? Hoekom sewe jaar? Hoekom voel dit juis hierdie jaar soveel moeiliker?

En hier is my teorie.

Hierdie jaar is die eerste keer wat dit voel asof ons alles gedoen het waarvoor ons gekom het.

Ons het die werk gekry.

Ons het die werkvisums hernu.

Ons het vir permanente verblyf aansoek gedoen.

Ons het ’n tweede baba gehad.

Ons het PR gekry.

Ons het verhuis na die provinsie en dorp waar ons nog altyd wou bly.

Ons het ’n onderneming begin.

Ons het nuwe werke begin.

Ons het vir burgerskap aansoek gedoen.

Ons het burgerskap ontvang.

Ons het ’n derde baba gehad.

Ons het ’n jaar oorleef van voltyds werk, ’n onderneming voltyds bestuur en kinders voltyds grootmaak. Die meeste van ons familie het al kom kuier – party een keer, party meer as een keer.

En nou … is dit klaar.

Dit is nou ons lewe.

Dit is waar ons voortbou.

En skielik is dit stil.

Die storm het gaan lê, en wat oorbly voel vreemd rustig.

Ek dink dit is soos ’n huwelik – daardie sewejaarfase waar die nuutheid verdwyn. Jy is gevestig. Dit is nie meer die “nuwe land” of die “tydelike huis” nie. Dit is die plek waar ons die langste gebly het in die afgelope 15 jaar. Dit is waar die lewe gebeur – dag in en dag uit.

En al is hierdie lewe goed, kom daar ’n besef saam met dit:

Hierdie lewe sluit nie óns mense in nie.

Geen niggies en neefs nie.

Geen tannies nie.

Geen ooms nie.

Geen oumas of oupas nie.

Geen vriende wat stories uit jou kindertyd ken nie.

Net nuwe vriende – en die mense wat ons gekies het.

En al is daardie mense ongelooflik, het hulle meestal húlle mense hier. Hulle sit om hul vol tafels, gevul met jare se gedeelde geskiedenis en ou tradisies. In die meeste gevalle – soos dit vir ons in Suid-Afrika sou wees – is hierdie geleenthede amper heilig. Jy nooi nie sommer buitestaanders in by daardie tradisies nie.

So hulle voel nie die eensaamheid wat ons hierdie tyd van die jaar voel nie.

Dus soek ons ander Suid-Afrikaners wat ook ’n bietjie alleen voel – en ons is gelukkig om hulle altyd te vind. Ons kuier heerlik en smul aan kos wat proe soos huis. Maar dit is steeds nie dieselfde as daardie groot, besige, lawaaierige tafel nie.

Hierdie jaar het my hele familie op die plaas in Limpopo bymekaargekom. Al is my pa nie meer daar nie, al het ooms gesterf, al het die kinders grootgeword en sommige is al ver weg vir Kersfees – is die meeste steeds daar. Om die Bosveldvuur, drankies in die hand, want niemand hoef te bestuur nie; almal slaap sommer daar.

En vir die eerste keer het ek gewens ek was daar, eerder as hier.

Ek wens my kinders kon dit ervaar vir Kersfees.

Ek wens hulle kon net normaal praat – soos my vierjarige sê wanneer sy uiteindelik ’n kans kry om net Afrikaans te praat.

Ek wens ons kon net wees in dit wat vir ons bekend is.

Wat dit soms ekstra moeilik maak, is dat mense hierdie oomblikke van verlange interpreteer as “ongeluk” of “maar dis die lewe wat jy gekies het”. En so leer mens maar om te “suffer in silence”.

Maar vanaand ruk ek myself weer reg.

Ek kou aan die wortel.

Ek doop die “Santa”-koekie.

Ek maak ’n gemors.

Ek sit die geskenke uit.

En ek maak dit die beste Kersfees wat ek moontlik kan vir ons drie kinders en ons klein gesin.

En ek bid – met alles in my – dat hulle mekaar nooit hoef agter te laat in die soeke na ’n beter lewe nie. Ek bid dat hulle altyd naby aan mekaar sal wees, naby aan ons, saam om dieselfde tafel met Kersfees.

Miskien voel jy ook alleen hierdie jaar.

Miskien verlang jy na die Bosveld, die strand, die son, die somerreën – na dinge wat stadiger raak. Na ’n Somerkersfees.

Ek bid dat hierdie gevoel kortstondig is.

Dat die nuwe jaar nuwe dryfkrag, nuwe energie en hernude liefde bring vir waar jy is – of beter nog, dat daar dalk ’n kuiertjie Suid-Afrika toe op die horison vir jou wag.

Maar weet: Jy is nie alleen nie. Verlange tref ons almal, van tyd tot tyd.

Liefdegroete

Mignon

Deel jou ervaring met ons, ’n gedig, ’n storie, of net ’n paar woorde uit jou hart.

Stuur dit aan ons by wereldwyd@afriforum.co.za.

Deel op

Nuutste artikels