Dubbele burgerskap: Wat Suid-Afrikaners in die buiteland nou moet weet

19/03/2026
| Deur Sue-Ann de Wet
Dubbele burgerskap: Wat Suid-Afrikaners in die buiteland nou moet weet

Deur Sue-Ann de Wet

Vir baie Suid-Afrikaners wat oorsee woon, bring emigrasie nuwe geleenthede, maar ook belangrike besluite oor identiteit, dokumentasie en burgerskap. Een van die vrae wat gereeld opduik, is of ’n mens dubbele burgerskap moet oorweeg en wat dit vir jou bande met Suid-Afrika beteken.

Vir jare was daar onsekerheid oor die regsposisie van Suid-Afrikaners wat ’n tweede burgerskap verkry. Baie mense het selfs hul Suid-Afrikaanse burgerskap verloor omdat hulle nie vooraf by die Suid-Afrikaanse regering toestemming gevra het om hul Suid-Afrikaanse burgerskap te behou voordat hulle dié nuwe burgerskap aanvaar het nie. ’n Onlangse hofuitspraak het dié situasie egter ingrypend verander.

Die bepaling in die Wet op Suid-Afrikaanse Burgerskap 88 van 1995 dat mense hul burgerskap outomaties verloor wanneer hulle ’n ander land se burgerskap opneem, is onlangs deur die Konstitusionele Hof ongrondwetlik verklaar. Dié uitspraak beteken dus dat Suid-Afrikaners nie meer outomaties hul Suid-Afrikaanse burgerskap verloor wanneer hulle ’n tweede burgerskap verkry nie. Die hof het ook beslis dat die bepaling terugwerkend ongeldig is, wat beteken dat mense wat hul burgerskap onder die vorige reëls verloor het, weer as Suid-Afrikaanse burgers erken moet word.

Hierdie uitspraak bring groot verligting vir baie Suid-Afrikaners reg oor die wêreld wat hul band met Suid-Afrika wil behou, selfs al woon en werk hulle in ander lande.

Dubbele burgerskap beteken dat ’n persoon ingevolge Suid-Afrikaanse wetgewing burgerskap van twee lande mag hê. In baie lande waarin Suid-Afrikaners woon – soos Australië, Kanada, die Verenigde Koninkryk en Nieu-Seeland – word dubbele burgerskap toegelaat.

Dit gee mense die voordeel dat hulle ten volle in hul nuwe land kan assimileer, terwyl hulle steeds hul oorspronklike burgerskap behou. Vir baie Suid-Afrikaners in die buiteland is dit ’n belangrike balans: om nuwe geleenthede te benut, maar steeds ’n formele en emosionele band met Suid-Afrika te behou.

Selfs wanneer mense permanent oorsee gevestig raak, kies baie doelbewus om hul Suid-Afrikaanse burgerskap te behou.

Een rede is prakties van aard. Burgerskap maak dit makliker om na Suid-Afrika terug te keer vir werk of familieverpligtinge, of moontlike permanente terugkeer. Dit kan ook administratiewe prosesse vereenvoudig, soos eiendomsbesit of die bestuur van sakebelange in Suid-Afrika.

Vir baie mense gaan dit egter oor meer as net praktiese voordele. Burgerskap dra ook simboliese betekenis. Dit verteenwoordig jou herkoms, jou taal, jou kultuur en die plek waar jou lewensverhaal begin het. Vir Suid-Afrikaanse gesinne oorsee speel dit ook ’n rol in hoe kinders hul identiteit vorm. Deur hul burgerskap te behou, hou ouers die deur oop vir die volgende generasie om steeds ’n band met Suid-Afrika te hê.

Hoewel die hofuitspraak groot verandering gebring het, bly daar steeds sekere praktiese sake wat Suid-Afrikaners in die buiteland moet onthou.

Suid-Afrikaanse burgers moet byvoorbeeld steeds Suid-Afrika met ’n geldige Suid-Afrikaanse paspoort binnekom en verlaat. Dit bly dus belangrik om seker te maak dat jou paspoort altyd geldig is. Dit is ook wys om op hoogte te bly van veranderinge in immigrasie- en burgerskapwette, sowel in Suid-Afrika as in die land waar jy woon.

Verder is dit altyd raadsaam om deeglike navorsing te doen voordat jy belangrike besluite oor burgerskap neem, veral omdat verskillende lande verskillende vereistes het wat elkeen ander implikasies kan hê.

Vir baie Suid-Afrikaners oorsee gaan burgerskap oor meer as net ’n administratiewe status. Dit gaan oor ’n gevoel van tuishoort.

Wanneer mense emigreer, verander baie dinge: werk, taalomgewings, skole en kulturele gewoontes. Jou geskiedenis en jou identiteit bly egter deel van jou, ongeag van waar in die wêreld jy woon.

Die onlangse hofuitspraak bevestig iets wat baie Suid-Afrikaners lankal voel: dat jy nie sommer jou burgerskap hoef prys te gee wanneer jou lewe oor grense heen beweeg nie.

Bly aan jou herkoms verbind

AfriForum Wêreldwyd werk daagliks saam met Suid-Afrikaners van reg oor die wêreld om hulle te help om verbind te bly aan hul taal, kultuur en gemeenskap. Of jy nou onlangs geëmigreer het of al jare oorsee woon, jou band met Suid-Afrika kan steeds deel van jou storie bly.

Besoek  www.wereldwyd.co.za vir praktiese inligting, artikels en hulpbronne vir Suid-Afrikaners in die buiteland.

Deel op

Nuutste artikels