Marisa Haasbroek
’n Rooikophoutkapper het aanhoudend geroep-roep terwyl my ma se kis in die graf afgesak het. Heel gepas, want my ma was self ’n rooikop en ’n sanger, wat tot haar dood die sang vir die oggendgodsdiens gelei het in die aftreeoord waar sy gebly het.
Op 5 Julie 2021 om ongeveer halfses die oggend (my tyd) het ek daardie houtkapper op ’n TV-skerm in my sitkamer in Amerika gehoor. En die kis het ek danksy ’n videograaf se werk in die aarde sien neersak.
Ek was nie op my ma se begrafnis nie. My enigste suster, wat in Australië bly, was ook nie daar nie.
Tog het ek in my gemoed algehele vrede dat nie een van my weduwee-ma se kinders haar begrafnis in persoon kon bywoon nie.
Toe ons gesin sewe jaar gelede Amerika toe verhuis het, het ek gou besef ek sal baie goed na my geestesgesondheid moet omsien. As jy emigreer, raak jy maklik los van jou wortels, ’n drywende vreemdeling wat nêrens meer inpas nie.
Vir beter geestesgesondheid, dit het ek gou genoeg ingesien, is twee dinge nodig. Rig jou gedagtes op die regte dinge. Bestuur jou emosies goed.
Uiteindelik het ek formeel gekwalifiseer as ’n lewensafrigter of life coach, een van die beste besluite wat ek ooit in my lewe geneem het.
Met my ma se afsterwe het ek my lewensafrigtingvaardighede nodiger as ooit gehad.
Die laaste dag was die ergste. Sy was toe al ’n week in die hospitaal. En ja, dit was COVID-19. Haar dokter wou haar bitter graag laat opneem in ’n hoësorgsaal, maar daar was nie plek nie. Suid-Afrika en Gauteng spesifiek was toe platgetrek deur ’n nuwe vlaag koronavirusgevalle.
Toe ek daardie laaste oggend in Amerika opstaan, was daar ’n boodskap van my suster uit Australië.
“Bel my sodra jy wakker is.”
Die soort boodskap wat mens se bloed dadelik yskoud laat word.
As dit baie slegte nuus was, so het ek myself getroos, sou my suster my al gebel het. Sy het geweet dat ek daardie laaste week nie meer my foon in die nag op die vliegtuigstelling sit nie.
My suster se nuus was dat die hospitaal waarin my ma in Pretoria gelê het, ’n gewone saal in ʼn hoësorgsaal omskep het en haar daarheen oorgeskuif het.
Die verpleegsuster in die hoësorgsaal het een van ons familielede daardie laaste dag omtrent elke halfuur gebel. Nooit met goeie nuus nie.
My ma se suurstofvlakke het bly daal.
Sy het in ’n koma verval.
Halftwaalf die oggend, drie minute ná haar dood, het my suster my gebel.
“Sy’s weg,” het sy gebroke gefluister.
Oor al daardie duisende kilometers het ons saam oor die foon gehuil.
Teen daardie tyd het ek en my sus mekaar al ’n paar keer afgevra of ons moes teruggaan Suid-Afrika toe om my ma by te staan.
Die implikasies vir my suster was erger as vir my. Sy sou spesiale toestemming moes kry om Australië te verlaat en as sy dit regkry sou sy vir drie maande nie kon terugkeer nie. Vir twaalf weke lank sou sy sonder ’n inkomste wees, ver van haar man en haar kinders en kleinkinders. En altyd met die gevaar dat sy COVID-19 kan kry.
Vir my was die probleem ook dat ek COVID-19 sou aansteek, nie toegelaat sou word om te terug te vlieg na my man en my kinders toe nie, en op familie in Suid-Afrika sou moes staatmaak vir verblyf en verpleging.
Buitendien, ek was ’n paar weke vantevore in Suid-Afrika vir my skoonma se begrafnis. Haar onverwagse afsterwe het niks met COVID-19 te doene gehad nie. Maar tydens daardie drie weke lange besoek kon ek hope tyd saam met my eie ma deurbring. Selfs Moedersdag.
Ek kon haar kamer vir haar regpak en organiseer, ’n hele paar keer saam met haar gaan uiteet, weer en weer vir haar sê hoe lief ek vir haar is en ure en ure met haar gesels. Soete genadetyd.
Die hospitaal se beleid van geen besoekers nie, het my en my suster oortuig dis nie die moeite werd om inderhaas Suid-Afrika toe te vlieg nie. Ons sou ons ma buitendien nie kon sien nie.
Ná haar afsterwe moes ons opnuut besluit: gaan ons Suid-Afrika toe vir die begrafnis?
’n Suid-Afrikaanse vriendin wat tans in Nederland woon, het my gewaarsku ek gaan sukkel om afsluiting te kry as ek nie gaan nie. Sy het vriende gehad wat verlede jaar nie ’n familielid se verassing en roudiens bygewoon het nie. Die reëlings was ’n groot gemors en hulle verwyt hulleself nog steeds daaroor.
Toe ek dit hoor, het ek besluit om elke greintjie lewensafrigteropleiding te benut om in hierdie tyd doelgerig ’n beter verhouding met myself, my suster en my familie in Suid-Afrika te bou. En ek sou myself bly herinner hoe sterk my band met my ma was, al het ek so ver van haar af gebly.
As ek nou terugdink, is daar veral drie dinge wat ek enige emigrant sal aanraai om te doen.
Hou gereeld kontak
In die eerste plek: hou gereeld kontak met jou ouers en liefs op ’n vasgestelde tyd. Vir amper sewe jaar het ek my ma elke Saterdagoggend gebel. Daardie kuiertjies het baie vir haar beteken. Een keer het haar selfoon die gees gegee en sy het strompel-strompel amper ’n kilometer ver gestap om ’n nuwe een te gaan koop net om met my te kon praat.
Wees op die uitkyk vir tegnologie wat kan help
Tweedens moet jy die gerief van tegnologie om jou verhoudings met jou mense in Suid-Afrika gesond te hou, nie miskyk nie. Uit Amerika uit het ek byvoorbeeld my ma se banksake vir haar behartig, oorbetalings gemaak indien nodig en vir haar data op haar selfoon gesit. Dit was ’n klein en maklike liefdesdiens wat haar geliefd en geborge laat voel het.
Benut die voordeel van jou sterker geldeenheid
Die laaste punt is om nie die feit mis te kyk nie dat om geld in ’n sterker geldeenheid te verdien, groot voordeel inhou.
My ma het ’n huurwoonstel gehad en was afhanklik van die huurinkomste om vir haar verblyf by die aftreeoord te help betaal. Sy moes gedurig dinge by die woonstel laat regmaak en was permanent gekwel dat huurders die woonstel sal verniel of sou dros sonder om betaal. Of dat die heffings net opgaan en opgaan.
Maar sy was bang om die woonstel in die mark te sit. Sê nou maar hy verkoop nie dadelik nie? Waar kry sy dan geld om te betaal vir haar verblyf?
Eers nadat ek haar verseker het dat die huurbedrag vir my en my man kleingeld is in dollar, het sy die moed gehad om hom in die mark te sit. Binne ’n maand het hy verkoop en sy kon die geld vasbelê en die rente trek. Ek is dankbaar vir die gemoedsrus wat ek haar hiermee kon gee.
So van ver af het ek en my suster vir my ma die mooiste begrafnis gereël. My suster het die leeue-aandeel daarin gehad. Fantastiese familielede in Suid-Afrika het ons al die pad gehelp. Die singende rooikophoutkapper was ’n bonus van die Here af.
Natuurlik voel ek steeds ellendig oor my ma. ’n Skerp pyn van verlies en verlange laat my nog steeds huil en rou. Maar my treurtyd is onvertroebel deur skuldgevoelens en spyt. Ek het my ma onvoorwaardelik liefgehad en ek kon dit vir haar sê en wys.
Drie weke voor haar dood het sy vir my hierdie teksboodskap gestuur:
“My liefste meisiekind ek wil net weer dankie sê vir ALLES wat jy vir my gedoen het. My kamer so mooi gemaak, klere gekoop. As ek die kaste oopmaak sien ek liefde. Die liefde van Marisa. Jy het soveel moeite gedoen. Ek kan maar net dankie sê. Jy is ’n kosbare kind. Jy is goud werd. Mag die HERE Jesus jou seën. DANKIE. Wees geseënd. Lief jou. Ek het jou so BAIE lief, my kind. Alles wat mooi is vir jou.”
Seker die mooiste totsiens wat enige dogter, ver of naby, kon kry.
LEES OOK: Hoe verwerk jy die verlies van ’n geliefde as jy nie by was nie?
Marisa Haasbroek, wat in Amerika bly, is ’n skryfster, tuisskoolbegeleier vir ma’s in Suid-Afrika en ook ’n lewensafrigter . Volg haar op Instagram by @risa4coaching.