Erfenisjuwele 1 – Mostert se Meule maal weer

30/04/2024
| Deur Alana Bailey
14258151_1072482962847245_7831461233179138386_o

Alana Bailey

Erfenisjuwele is ’n nuwe reeks waarin AfriForum die lig werp op erfenisbakens in die land waar gemeenskappe self inspring om ons unieke kultuurhistoriese nalatenskap te bewaar.

 Daar is baie negatiewe berigte oor erfenis – dink maar aan die nasionale parlementsgebou wat na die brand van 2 Januarie 2022, steeds nie herstel is nie, asook vele terreine wat van verwaarlosing en vandalisme spreek.

Gelukkig is dit nie die somtotaal van wat op erfenisgebied in die land plaasvind nie. Daar is talle terreine waar toegewyde personeel, vrywilligers en gemeenskapslede hande vat en wonderwerke verrig om te bewaar, kennis oor te dra en vir toeriste unieke ervarings aan te bied.

Hopelik sal hierdie reeks dien om mense nie net bewus te maak van plekke wat ’n besoek werd is nie, maar hulle ook inspireer om self by een of ander erfenisbaken of terrein betrokke te raak. Dit is ’n verrykende ervaring waaruit ’n mens baie kan leer, wat bevrediging kan bring omdat jy ’n tasbare verskil maak, en les bes, jou kan help om nuwe vriende te maak. Soms kan hierdie vriendskappe selfs oor landsgrense heen strek, soos ons eerste erfenisjuweel getuig.

Hierdie eerste aflewering fokus op Mostert se Meule in Kaapstad, wat letterlik uit die as herrys het! Dit is op 20 April 2024 heropen – presies drie jaar na dit feitlik in ’n weghol veldbrand vernietig is.

Ons gesels met John Hammer, die voorsitter van Vriende van Mostert se Meule, die vrywilligersorganisasie aan wie die merkwaardige verhaal van herstel en heropening te danke is.

Alana:    Dankie dat jy bereid is om met ons te gesels oor julle verbintenis met die meule en die afgelope drie jaar se avonture, John. My eerste vraag namens mense wat nie die meule ken nie, wanneer is dit opgerig?

John:     In ongeveer 1796 is die klein windaangedrewe Mostert se Meule op Welgelegen, die plaas van Gysbert van Reenen opgerig as ’n klein plaasmeule om in sy eie behoeftes te voorsien.

Alana:    Wanneer het julle vriende-organisasie tot stand gekom en wat is die doel daarvan?

John:     Die Vriende van Mostert se Meule is in 1993 gestig tydens ’n vergadering in Mowbray se stadsaal. Dit was ’n uitvloeisel van die Vernacular Architectural Society, waarvan drie lede die visie gehad het om Mostert se Meule weer tot ’n werkende toestand te herstel. Die Vriende se doelwitte is om die meule in stand te hou en aan die gang te hou as die laaste oorblywende werkende windmeul in Afrika; om lede van die publiek wat ons doelstellings deel, toe te laat om as lede aan te sluit en te kom aanskou hoe ’n 220 jaar-oue windmeul koring tot volkoringmeel maal deur die krag van die wind in te span; en om ’n jonger geslag meulenaars en vrywilligers op te lei om die voortgesette bewaring van die meule te verseker.

Alana:    Dit bring my by die tragiese gebeure van 18 April 2021. Hoe het dit gebeur dat die gebou so erg in die brand beskadig is?

John:     ’n Klein brand het vroeg dié Sondagoggend teen die laer noordelike hange van Duiwelspiek ontstaan. Dit het gou versprei en is deur ’n westewind na bome aan die westekant van die M3-snelweg gedryf. ’n Gloeiende kooltjie het van daar af oor die snelweg gewaai en in die grasdak van die meule beland. Dit het vinnig aan die brand geslaan en binne ses ure was al die binnewerke van die meule (wat alles van hout gemaak is) net ’n hoop kole en as. Al wat oorgebly het, was die gedeeltes van  smeeyster, waarvan sommige stukke gemaak is toe die meule in 1796 gebou is en die wieke, wat aan die buitekant op die grond neergestort het.

Alana: Julle het feitlik terwyl die ruïne nog gesmeul het, ingespring om met die restourasieproses te begin. Vertel ons asseblief kortliks van die afgelope drie jaar se hoogte- en laagtepunte?

John:     Die dag ná die brand was ek besig om die metaal gedeeltes uit die as te red, terwyl ek mense wat by die hek staan en na die uitgebrande meule kyk, gerusgestel het dat die Feniks uit die as sou opstaan. Ek het kontak gemaak met John Wilson-Harris van Fagan’s Architects (wat by die 1995-restourasie van die meule betrokke was) en Andy Selfe (wat my gehelp het met meulmaakwerk aan die meule voor die brand). John Wilson-Harris is in beheer van die restourasie van die gemesselde toring geplaas. Andy Selfe is in beheer van die hervervaardiging van die masjinerie geplaas. Ons tesourier, Clive Thorpe, het my daarop gewys dat ons die finansiering van die projek sal moet beheer en hy het aangebied om dit vrywillig te doen. Saam met my in my hoedanigheid as voorsitter van die Vriende vir die afgelope agt jaar, het ons dus ’n restourasiespan van vier gevorm. Ons het dadelik begin om fondse in te samel (geen hulp is deur korporatiewe ondernemings of die regering, hetsy nasionaal, provinsiaal of plaaslik, aangebied nie). Skarebefondsing is in Europa afgeskop. Ons het meer as R200 000 plaaslik en €5 500 in Europa ingesamel. Die Rupert-familie het ingegryp en aangebied om die grootste gedeelte van die R3,5- miljoen begroting te finansier. Die projek het geen laagtepunte gehad nie. Almal wat aan die meule gewerk het, hetsy vrywilligers of betaalde vakmanne, het dit gedoen met ’n gewillige hart uit liefde vir die meule: Dit is dus waarlik ’n “Meule van die Mense”. Lewenslange vriendskappe is in die proses gesluit.

Alana:    Jy het ’n interessante feit genoem oor die rol van die internet in julle restourasieproses. Vertel ons bietjie meer daaroor asseblief?

John:     Feitlik alle aspekte van die projek is deur WhatsApp, e-posse, YouTube en blogs gehelp. WhatsApp-boodskappe is heen en weer tussen Andy en die onderskeie vakmanne wat die komponente van die masjinerie vervaardig het, gestuur. Al die ooreenkomste wat nodig was sodat sekere fases voortgesit kon word, is per e-pos tussen die vier lede van die restourasiespan gemaak en al die uitreiking en betaling van deposito’s en finale betalings aan die vakmanne deur die kantoor van die Historiese Huise Stigting van die Rupert-familie. Die remwiel en lanternrondsel (ook bekend as die tandrat, maar hierdie een het nie “tande” nie) is vervaardig gebaseer op ’n YouTube-video wat Nederlandse meulmakers vervaardig het toe hulle dit daar gedoen het. Andy Selfe het belangstellendes op hoogte van ons vordering gehou met sy gereelde Facebook-plasings en ’n gedetailleerde blog van die hele herstelproses.

Alana:    Hoeveel soorte hout het julle uiteindelik gebruik om die meule tot sy eertydse glorie te herstel?

John:     Daar is 25 verskillende soorte hout wat in die restourasie van die masjinerie gebruik is. Andy het ’n bord gemaak met stukke van al 25 soorte, wat in die meule gehang sal word.

Alana:    Veels geluk ook met die toekenning wat julle van die Stad Kaapstad ontvang het. Dit is ’n besondere eer wat julle deur en deur verdien!

John:     Ons is deur die Burgemeester se kantoor genooi om op 6 Desember 2023 ’n funksie by te woon waar die stad se eerbewyse aan die burgerlike ontvangers daarvan oorhandig is. Daar is verskeie ander toekennings op die dag uitgedeel. Die burgemeester het ’n medalje aan die vier lede van die restourasiespan oorhandig as erkenning van ons gemeenskapsdiens. Hy het ons daarna persoonlik bedank.

Foto (Van links na regs): John Wilson-Harris, Andy Selfe, burgemeester Geordin Hill-Lewis, John Hammer, Clive Thorpe

Alana:    Die amptelike heropening van die meule het op Saterdag 20 April 2024 plaasgevind. Beteken dit dat die meule nou weer ten volle in werking is?

John:     Ja. Die meule sal een keer per maand oop wees vir lede van die Vriende, soos dit voor die brand die geval was. Jy kan ons webwerf, mostertsmill.co.za, besoek om te sien hoe om as lid aan te sluit, of op ’n opedag by die hek aanmeld om ingeskryf te word. Ons beplan om op die derde Saterdag van elke maand oop te maak, as die weer dit toelaat en as daar genoeg meulenaars en vrywilligers beskikbaar is om die meule veilig te bedryf.

Alana:    ’n Voorlaaste vraag voor ons by julle kontakbesonderhede kom – Wat is die betekenis van die Skotse terriër wat ons op die meule sien?

John:     Voor die brand was daar ’n hoenderhaan op die punt van die vangstok. Dit was die simbool van Dunning-Bremer, die Nederlandse meulmakersmaatskappy wat die meule in 1995 gerestoureer het. Hulle het geen bydrae tot die huidige restourasieprojek gelewer nie, daarom is besluit om die haan met ’n Skottie te vervang, aangesien ek altyd ’n Skottie op my hakke gehad het sedert ek in 1995 ’n meulenaar geword het: eers was daar Hamish, toe Maggie, gevolg deur Angus en nou Jamie, wat 3 weke na die brand gebore is.

Alana:    Wat is jou advies aan enigeen wat ’n erfenisbaken of -terrein wil aanneem, soos wat julle gedoen het?

John:     Dit help nie om vir “hulle” te wag om iets te doen nie. Laat “ons” eerder iets doen. Vorm ’n groep vrywilligers en spring aan die werk. Dit bied baie persoonlike bevrediging as jy dit doen. Verrig die werk altyd met ’n gewillige hart en nooit met ’n wrok of gevoel dat jy geregtig is daarop om aanspraak te maak op enigiets nie.

Alana:    Ten slotte, hoe kan mense betrokke raak om die toekomstige bewaring van Mostert se Meule te verseker?

John:     Deur by Vriende van Mostert se Meule aan te sluit en aan te bied om as vrywilligers op te tree by opedae of wanneer onderhoudswerk gedoen moet word.

Alana:    Baie dankie John en jou span, vir die fantastiese werk wat julle gedoen het en steeds doen om te verseker dat hierdie unieke en geliefde erfenisbaken vir die komende jare sal staande bly. AfriForum sal graag steeds skenkings maak waar moontlik. Ons moedig lede van die publiek aan om dieselfde te doen en om meer te lees oor die meule, julle aktiwiteite en die restourasieproses by www.mostertsmill.co.za.

Foto: Friends of Mosterts Mill Facebook

Deel op

Watter taal praat jy by die huis?
Naam en van
This field is hidden when viewing the form
This field is for validation purposes and should be left unchanged.

Nuutste artikels