Gou Brugge toe vir ʼn verwenkoffie

28/06/2018
| Deur Pieter de Lange
P1010791

Juniemaand in die Noordelike Halfrond se lang dae en lekker weer – wel, die meeste van die tyd – maak ʼn mens lus om rond te ry en ander plekke te besoek. Dis maklik vir ons wat in Kent bly om vinnig Brugge toe te gaan vir die dag met die motor deur die Channel Tunnel of met die Eurostar van Ebbsfleet International af. Ons goeie vriende van Potchefstroom, Piet en Julita Erwee, het onlangs by ons gekuier en ons het sommer lus gekry om die pad te vat Europa toe. Ek en Piet het saam geswot en hulle het vroeër jare in Bicester naby Oxford gebly, waar een van die bekendste en geliefdste radio-omroepers in die VK een van Piet se pasiënte was. Ons vier het vroeg in die pad geval deur die tonnel en net ʼn uur of so nadat ons in Calais aangekom het, was ons al in die buitewyke van Brugge. Op pad soontoe deur die noorde van Frankryk het ons alreeds die kleurvolle Vlaamse plekname begin oplet en geniet. Die paar wat ons opgeval het, was Duinekerken, wat meer bekend is as Dunkirk, oftewel Dunkerque in Frans, en Diksmuide, wat ʼn samestelling is van die woorde “dyk” en “riviermonding”.

In Brugge aangekom, is ons eerste prioriteit ʼn tydsame koffie buite onder ʼn kleurvolle sambreel waar ons vir die verbygaande mense kan sit en kyk. Dis net baie stiller en rustiger in die dele waar net voetgangers toegelaat word.

Daarna stap ons na die pragtige stadsplein toe, wat ʼn Wêrelderfenisgebied is, en let sommer op al die Vlaamse name en uitdrukkings, soos “Gentse Strop” of “Straffe Hendrik” (wat blykbaar “sterk Hendrik” beteken) vir bier. Ons besluit sommer vinnig om die stadstoer te doen, en die gids gesels breedvoerig oor die geskiedenis van Brugge, wat reeds in die negende eeu deur die Vikings gevestig is. Die naam “Brugge” is afgelei van die ou Skandinawiese woord “Brygga” wat “hawe” of “vasmeerplek” beteken. Die historiese hart van die stad is ʼn Wêrelderfenisgebied. Brugge, wat ook bekend staan as die Venesië van die Noorde, was altyd ʼn welvarende streek weens die handel in tekstiele. Baie van die wol het van Engeland gekom. Die vaardigheid van Brugge se wewers was ongeëwenaard, en die kwaliteit van Vlaamse tekstiele het legendaries geword. Die toenemende rykdom het in 1302 gelei tot ʼn botsing tussen die regering en geskoolde vakmanne wat geweier het om verhoogde belastings te betaal. Die rebelle, onder aanvoering van die “Dean of the Weaver’s Guild” en die “Dean of the Butchers’ Guild” het vroeg die oggend van 18 Mei in die dorp ingesluip en almal vermoor wat nie die Vlaamse uitdrukking “schild en vriend” behoorlik kon uitspreek nie.

Die 14de eeu was besonder bedrywig vir Brugge wat toe deel was van ʼn florerende assosiasie van Noord-Europese handelstede, en Venesië, Florence en Genoa het handelshuise daar gebou.

Na ons stadstoer het ek en Piet die martelmuseum genaamd Foltermuseum De Oude Steen besoek. Dit was dalk nie so ʼn goeie idee net voor ete nie! Dis gehuisves in die oudste klipgebou in Brugge en die meer as honderd martel- en teregstellingsinstrumente laat ʼn mens baie diep nadink oor hoe ontsaglik wreed die strawwe eeue lank was en oor hoeveel moeite gedoen is om nuwe en meer grusame martelmetodes uit te dink. Die een wat in my kop vasgesteek het, was ʼn hok met rotte wat bo-op die slagoffer se bors vasgebind is en die verhongerde rotte moes dan deur die ribbekas vreet om uit te kom.

Na dié “ligte” vermaak het ons gaan eet in een van die vele klein, besige straatjies. ʼn Donderstorm het die stad getref, en terwyl ons lekker buite sit het dit skielik begin stortreen. Toe ons die middag terugry, was die temperatuur nog steeds 28 °C. Dit was ʼn heerlike dag ver weg van ons gewone roetine.

 

 

Ander artikel: 100 lande wat Suid-Afrikaners sonder ‘n visum kan besoek

Deel op

Hoe lank woon jy al in die buiteland?
Naam en van
This field is hidden when viewing the form
This field is for validation purposes and should be left unchanged.

Nuutste artikels