Deur Pieter de Lange
’n Voorskou
Ek is nie regtig ’n aanhanger van die koninklike familie nie, maar dit was moeilik om die vrolike feestelikheid wat heers te weerstaan en nie gefassineer te word deur die blote omvang en kompleksiteit van die gebeurtenis nie. Daarom het ek die Vrydag in die kar gespring en na Ebbsfleet International gery, ’n spoorwegstasie sowat 40 minute van my blyplek af. Op pad luister ek na die BBC terwyl hulle die belangrikheid van die koning se salwing bespreek, iets waaraan ek nooit eens gedink het nie. Volgens hulle is dit die heiligste deel van die seremonie omdat dit gebaseer is op die Bybelse koning Salomo se salwing. Hulle sê die olie vir die seremonie kom direk van die Olyfberg buite Jerusalem af en is volgens ’n geheime, eeue oue resep voorberei. Hulle bespiegel of die salwing op televisie gewys sal word omdat die koning se kop, hande en hart gesalf word as simbool daarvan dat hy die Heilige Gees ontvang om hom gedurende sy koningskap te inspireer en lei.
By Ebbsfleet aangekom, huiwer ek eers, want ek ly aan plantar fasciitis (ontsteking in die hak) in my een voet, maar toe besluit ek om deur te druk en op die trein te klim. Die treine is gewoonlik laat soggens half leeg, maar dit is so propvol opgewonde besoekers dat ek net staanplek kan kry. “Goeie hemel, hoe gaan dit môre lyk?” wonder ek. Die feestelike stemming is reeds tasbaar.
Ek vorder darem tot by Green Park naby Buckingham-paleis, maar oral is daar sulke hoë groen skerms dat jy nie eens die paleis kan sien nie. Natuurlik begin dit reën en ek deel ’n droë plekkie met ’n vriendelike Sweedse paartjie tot ek uiteindelik in die pad val na The Mall. Ek wil die geharde aanhangers wat al dae vooruit toustaan en uitkamp met my eie oë sien. En sowaar, daar sit hulle op kampstoele agter die versperrings wat hulle van The Mall skei met hulle deurweekte slaapsakke en opgevoude plastiektente oral om hulle. Party drink koffie en ander sluk iets sterkers weg “om die koue uit te hou”. Iemand met ’n wasige kyk prewel: “Mal honde en Engelse.” ’n Lang gids in ’n donker baadjie verduidelik die kroningsproses met ’n bulderende stem aan ’n klomp geduldige maar effens nat toeriste.
Ek beweeg saam na Trafalgar Square terwyl ek die hele tyd met die vrolike aanhangers van die koninklikes gesels. Daar is ’n hele paar Amerikaners ook. ’n Baie opgewonde groep vooraanstaande dames uit Texas kan nie wag om die “sprokieskoets met die koning en koningin” te sien nie. Daar is ook ’n Italiaanse televisiespan met ’n vroulike verslaggewer wat die hele toneel gejaagd aan haar kykers verduidelik. Oral is daar amptenare en polisie, en hulle is net so opgewonde en lus vir gesels. Toe ek naby Trafalgar Square kom, sien ek ’n rumoer. Daar staan ’n polisiewa en iemand verduidelik woedend vir die polisie wat gebeur het. Seker ’n poging tot roof, dink ek. Teen dié tyd dwing my kloppende hakskeen my om terug te gaan. Maar ek is bly ek kon die uitgebreide voorbereidings sien en deel in die afwagting van dié baie spesiale gebeurtenis.
Kroningskouspel
Toe koningin Elizabeth II in 1953 gekroon is, het twintig televisiekameras die geleentheid gedek. Hierdie keer is die kroning deur 126 televisiekameras gebeeldsend. In 1953 was daar ongeveer twee miljoen televisiestelle in die Verenigde Koninkryk, hoofsaaklik in die groot stede soos Londen, Manchester, Birmingham, Cardiff en Glasgow; tans is daar 28 miljoen. In 1953 was die radio nog prominent en ten minste 11 miljoen mense het ingeskakel om na die kroningsplegtigheid te luister.
Verbasend genoeg is baie meer mense na koningin Elizabeth II se kroning genooi na as na koning Charles III s’n. In 1953 het 8 250 mense die plegtigheid by Westminster Abbey bygewoon, terwyl slegs 2 000 uitnodigings in 2023 aan familie en vriende van die koning en koningin, politici, wêreldleiers en ander bekendes uitgestuur is.
Miljoene kykers het op die reënerige dag in Mei ingeskakel om te kyk na die skouspelagtige geleentheid wat onberispelik ingeoefen is. Die koerant The Guardian beskryf dit as ‟’n mengsel van praal, optogte, musiek en misterie, met baie private oomblikke om te geniet.”
Dit was ’n roerende oomblik toe Charles, geklee in ’n wit tuniek en omring met reliëfskerms, voor die aartsbiskop van Kantelberg kniel om met die heilige olie gesalf te word.
Teen die einde van die seremonie het Charles en Camilla al twee moeg gelyk. Hy is immers al 74, in skrille kontras met Elizabeth wat op 27 gekroon is.
Michael Billington het dit briljant opgesom in sy artikel in The Guardian:
‟Dit was ’n plegtige oomblik wat my daaraan herinner het dat ons as ’n nasie veel beter vaar met openbare skouspele as met die regering van die land.”
Ongelukkig het ’n see van rommel soos kampstoele, slaapsakke, Union Jack-vlae, plastiese bekers, leë bierbottels en kartonne afbreuk gedoen aan die waardigheid van die seremonie. Dit toon ’n duidelike gebrek aan respek vir die omgewing en die arme amptenare wat die onbenydenswaardige taak gehad het om op te ruim.
Deel op
Nuutste artikels