Uit en tuis is ’n rubriek waar ons gesels met mense wat tans oorsee woon, of wat vroeër daar gebly en gewerk het. Hierdie week gesels ons met Juanita Smith, wat in Australië woon.
Hallo Juanita, dit is baie lekker om met jou te gesels!
Van waar in Suid-Afrika is julle en waarom het julle besluit om in Australië te gaan woon?
Ek is van Pretoria en my man is van die Nelspruit-omgewing. Ek het in 2012 saam met my ouers en broer na Australië verhuis. Ek en my man, Francois, het mekaar in 2013 in Adelaide, Suid-Australië, ontmoet en in September 2014 getrou.
Ons het ’n seuntjie, Luke, wat hier gebore is en dus ’n regte “Aussie” is – hy is nou 10 jaar oud en die lig in ons lewe! Ons het aanvanklik in Adelaide gewoon en was 12 jaar in Suid-Australië voordat ons in Oktober 2024 na Brisbane, Queensland, verhuis het. Ons is baie gelukkig hier.

Vertel ons meer van jou gesin.
Ek en my man is in 2014 in Suid-Australië getroud. Ons seun, Luke, is in November 2015 gebore. My man is ’n IT-bestuurder by Bretts in Brisbane. Ek is ’n fotograaf, en ons doen ook tuisonderrig vir Luke, wat nou in jaar 5 is.
Hoe het jy die emigrasieproses na Australië ervaar?
Ek dink dit verskil vir elkeen. Vir my persoonlik was die eerste twee jaar rof. Dit het tyd geneem om aan te pas – veral met die taal, kultuur en kos. Ná twee jaar het dit soos huis begin voel. Ek sê altyd: dit is wat jy daarvan maak.
Mens verlang na jou geboorteland en jy mis jou mense, familie en vriende, maar hier is baie meer geleenthede. Dit is veilig, skoon en ongelooflik mooi. Jy kan dinge doen wat nie altyd moontlik was in Suid-Afrika nie. Ons as gesin is baie gelukkig hier – 14 jaar later tel ons nog steeds ons seëninge!
Vertel ons ’n bietjie meer oor jou werk. Hoe verloop ’n tipiese dag? Is die lewe rustiger daar en het jy meer tyd om te ontspan of te reis?
Ek is ’n fotograaf (Joy Filled Photography) en ek geniet dit ongelooflik baie. Ek is nou al ses en ’n half jaar in die bedryf en werk met sowel (Suid-)Afrikaanse as Australiese kliënte.
Ek geniet dit om vir myself te werk, want dit gee my buigsaamheid as tuismamma en ook om saam met my man te reis vir sy werk. Ek help my seun gedurende die week met sy skoolwerk – hy doen afstandsonderrig sedert ons na Brisbane verhuis het, en hy vorder mooi.
Ek doen meestal oor naweke fotografie – onder andere troues, “elopements” en gesinsfoto’s. Die lewe is rustiger. Mens kan naweke see toe gaan, die dieretuin besoek, by vriende kuier of net ontspan by die huis. Ons hou daarvan om buite te wees – krieket te speel, te stap, te kamp, see toe te gaan of sommer ’n daguitstappie of langer ritte te doen.
Het julle maklik nuwe vriende gemaak en by die gemeenskap ingeskakel?
Ja, ek het maklik vriende gemaak. Dit help om deel te word van Afrikaanse groepe en kerke, en deur my fotografie ontmoet ek ook baie nuwe mense. Dit help ook dat my ouers en broer hier is.
Wat was vir julle die vreemdste om aan gewoond te raak? Wat was die grootste aanpassing vir jou?
Alles was aanvanklik vreemd, maar mens raak gewoond daaraan. Daar is nie een spesifieke ding wat uitstaan nie. Neem dit een dag op ’n slag en onthou hoekom jy hierdie besluit geneem het. Maak die beste van elke dag – dit is ’n seën wat nie baie mense ervaar nie.
Watter interessanthede het jy ontdek van die land waar jy woon wat jy nie vantevore geweet het nie?
Daar is so baie! Die strande is ongelooflik mooi en die Outback is ’n móét vir mense wat hou van kamp en reis. Australië is enorm groot – dit was vir my ’n groot skok om te sien hoe ver en verspreid alles is.
Watter lesse het julle as gesin geleer sedert julle verhuis het?
Steun op mekaar en moenie bang wees om hulp te vra nie. Wees nederig genoeg om te sê: “Kan jy my help?” Hou jou hart beskerm, maar wees ook bereid om te gee waar jy kan.
Marketplace is ook ’n goeie plek om winskopies te kry as jy nuut is en nog nie alles het nie. Maak die beste van jou nuwe lewe – dit word beter!
Wat beteken jou Afrikanererfenis vir jou?
Ons koop Suid-Afrikaanse produkte by Saffa-winkels wanneer ons kan. Ons bak gereeld iets Suid-Afrikaans, praat Afrikaans by die huis, braai en kuier in Afrikaans en luister steeds Afrikaanse musiek.
Wat mis jy die meeste van Suid-Afrika?
Ek mis die mense – en ek mis Wimpy en Spur!
Wat sal jy jou emigrasiehoofstuk noem?
“Geniet die nuwe avontuur en kyk vorentoe.” Die beste lê nog voor. Geniet elke oomblik – leef en verken!
Wat is die grootste verandering in jouself sedert julle geëmigreer het?
Mens groei. Ek het eers op 28 my lisensie in Australië gekry omdat ek bang was om te ry – maar nou geniet ek dit! Emigrasie dwing jou ook om uit jou gemaksone te beweeg.

Is daar enige raad vir ander wat oorweeg om te emigreer?
Doen dit! Mens kan dit laat werk. Onthou hoekom jy dit doen en kyk vorentoe. Ons is al 14 jaar hier en was nog nie een dag spyt nie.
Jy gaan self moet skoonmaak, was en na jou kinders omsien as jy nie hulp het nie, maar daar is soveel meer positiewe as negatiewe dinge. Mens pas aan, groei en leer. Jy kan nie ’n prys op vryheid en veiligheid sit nie – dit is die moeite werd.
Kom skryf julle eie storie hier in Australië!
Deel jou storie met ons
Elke ervaring is uniek – of dit oor werk, aanpassing, kultuur, familie of net jou alledaagse leefwêreld gaan.
AfriForum Wêreldwyd bied ’n ruimte waar jou perspektief sin maak vir ander wat dalk soortgelyke paaie loop.
Stuur ‘n e-pos na wereldwyd@afriforum.co.za en ons stuur vir jou vrae om te beantwoord.
Lees ook: Uit en tuis: ’n e-pos uit Australië – AfriForum Wêreldwyd


























