Groete uit die Alpe: Die werklikheid van emigrasie in Innsbruck

25/03/2026
| Deur AfriForum Wêreldwyd
Groete uit die Alpe: Die werklikheid van emigrasie in Innsbruck

Surette van Standen deel haar ervaring

Wanneer jy jouself oorsee vestig, neem jy meer as net tasse saam. Jy neem jou taal, jou herinneringe en manier van leef saam. Met AfriForum Wêreldwyd se “Groete uit …”-reeks gee ons ’n stem aan ons mense reg oor die wêreld wat hul in nuwe lande tuis gemaak het – maar steeds hul wortels onthou.

Hierdie keer neem Surette van Standen ons saam na Innsbruck in Oostenryk, ’n stad tussen die Alpe waar elke seisoen sy eie skoonheid bring en waar emigrasie nuwe perspektief op lewe, kultuur en tuiswees gee.

Ek skryf vir julle uit Innsbruck in Oostenryk om ’n klein stukkie van ons ervaring as emigrante te deel. Innsbruck is die hoofstad van Tirol – sekerlik een van die mooiste dele van die Oostenrykse Alpe. Anders as ’n groot metropolitaanse stad soos Wene, voel Innsbruck klein genoeg om amper soos ’n dorp te wees, maar tog groot genoeg om alles te bied wat ’n stad nodig het.

Ons woon in ’n dorpie sowat 15 km buite Innsbruck en word omring deur berge – berge en nog berge. Om ’n horison te sien is hier amper ’n luukse. Elke seisoen bring sy eie skoonheid: die lente wanneer alles blom, die herfs met sy warm skakerings van oranje, rooi en bruin, en die winter wanneer alles stil word onder ’n kombers van sneeu. Somers is kort, maar warm, en dan benut mense elke oomblik om buite te wees – stap in die berge, fietsry of net rustig in die natuur sit.

My man en ek het in November 2022 in Innsbruck aangekom. Wanneer ek nou daaraan terugdink, besef ek hoe naïef ons soms was. Dalk is dit ook maar goed – as ’n mens presies weet waarvoor jy jou inlaat, sou baie mense dalk nooit die stap neem om te emigreer nie. Die aanpassing was moeilik, maar met tyd begin mens ’n nuwe ritme vind. Wat eers vreemd voel, word stadigaan weer normaal.

Ek werk by die Universiteit van Innsbruck nadat ek reeds in 2020 oor ’n moontlike pos genader is. My man is ’n passer en draaier en het gelukkig ook hier werk in sy veld gekry. Hy werk tans as ’n opleidingsbeampte vir ’n maatskappy wat CNC-masjiene bou en installeer. Wat vir ons opvallend is, is hoe groot premie Oostenrykers op lewenskwaliteit plaas. Die balans tussen werk en persoonlike tyd is nie onderhandelbaar nie. Oortyd, naweekwerk en onnodige werkstres word grootliks vermy. Daarom is winkels ook op Sondae gesluit – die filosofie is eenvoudig dat almal ’n rusdag moet hê om tyd saam met familie en geliefdes te spandeer.

Ons het nie kinders nie, en ek het al gewonder of kinders so ’n emigrasiereis makliker of moeiliker sou maak. Dalk makliker, omdat ’n skoolgemeenskap mens vinniger help inskakel by ander mense. Vir ons was dit aanvanklik een van die moeiliker dinge. Oostenrykers is baie gawe en vriendelike mense, maar nie noodwendig spontaan of uitbundig hartlik nie. Hulle nooi jou byvoorbeeld nie sommer na hul huise om te kuier nie, en buitelanders word aanvanklik met ’n mate van agterdog bejeën – wie is jy en wat maak jy hier?

Maar sodra mense jou leer ken, ontdek jy dat Oostenrykers lojaal en betroubaar is. Jy kan staatmaak op hul vriendskap en hulpvaardigheid. Ons klein Suid-Afrikaanse gemeenskap in Innsbruck het daarom vir ons ’n belangrike ondersteuningsnetwerk geword. Dit is die mense met wie ons kuier en saam leer om in Oostenryk te integreer.

Integrasie is noodsaaklik. ’n Mens kan nie probeer om hier ’n “mini-Suid-Afrika” vir jouself te bou nie. Om regtig tuis te voel, moet jy die seisoene, plaaslike feeste, vakansiedae en die alledaagse manier van doen omarm.

Die grootste uitdaging bly natuurlik taal. Van immigrante word verwag om Duits te praat, maar die Tiroolse dialek wat in Innsbruck gepraat word, klink dikwels glad nie soos die Duits wat jy leer nie. Soms moet ons mense vra om asseblief “Standaardduits” te praat sodat ons hulle kan verstaan. Gelukkig verstaan almal dit, want dit is die taal wat op skool geleer word en waarin geskryf word.

Ouer mense praat dikwels ’n sterk dialek en verstaan nie altyd Engels nie, maar jonger mense praat meestal Engels – al sukkel hulle soms daarmee. Ironies genoeg besef ons dikwels hoe veeltalig Suid-Afrikaners is. Die meeste van ons praat reeds twee of meer tale voordat ons hier nóg een moet aanleer.

Oostenryk is ook ’n land met hoë belasting, maar ’n mens sien duidelik waarheen die geld gaan. Mediese dienste en ambulansvervoer is grootliks gratis, en staatshospitale is op dieselfde vlak van netheid, infrastruktuur en doeltreffendheid as private hospitale in Suid-Afrika. Skiërs moet wel ekstra versekering hê, omdat ’n reddingsvlug per helikopter baie duur kan wees.

Openbare vervoer is betroubaar en gerieflik, en werknemers van staats- of semistaatsinstellings kry dikwels subsidies vir hul vervoerkoste. Die nakoming van reëls word beloon met verskeie afslag en voordele. Maar nie-nakoming bring gevolge, en daarom kan Oostenryk soms baie burokraties wees – administrasie kan soms ’n ware nagmerrie wees.

Wat veiligheid betref, is dit ’n wêreld van verskil. Misdaad en geweld is eenvoudig nie deel van die alledaagse gesprek nie. ’n Geval van e-fietsdiefstal kan selfs nuuswaardig wees. Ons huis het byvoorbeeld nie eens ’n sleutel nie – al is dit nie noodwendig die norm in die middestad nie. Mens beweeg hier vry en veilig rond sonder om voortdurend oor jou besittings of persoonlike veiligheid bekommerd te wees. Selfs openbare vervoer laat in die nag voel veilig.

Wat kos betref, bly Suid-Afrikaanse kos maar moeilik om te klop. Tog pas mens vinnig aan by die plaaslike dieet. Tradisionele geregte soos schnitzel, gröstl, tafelspitz en knödel is heerlik. Ons eet ook baie minder vleis as voorheen. Wanneer die verlange na bekende smake egter te sterk raak, maak Suid-Afrikaners planne – daar is altyd iewers biltong, en ’n groep van ons maak gereeld boerewors saam.

Oostenrykse koeke en soetgoed bevat ook baie minder suiker. Al word sachertorte deur baie as ’n hemel op aarde beskou, kan dit nog steeds nie heeltemal by ’n goeie ou Cremora-tert met kondensmelk kers vashou nie.

Mense by die huis sê soms dat emigrante wegvlug. Ek kan eerlik sê dat dit nie vir ons so voel nie. Ons wens vir Suid-Afrika se mense presies dieselfde veiligheid, vooruitgang en lewenskwaliteit toe. Maar selfs al sou al die probleme van Suid-Afrika oornag verdwyn, sou ek waarskynlik nie noodwendig terugkeer nie.

Oostenryk gee my die geleentheid om verder te droom – hier in die hart van Europa, omring deur ’n ander soort skoonheid as dié van Afrika. En op sy eie manier maak dit van my ’n ryker mens.

’n Groete uit die Alpe

Surette se verhaal herinner ons dat emigrasie nie net oor ’n nuwe adres gaan nie, maar oor aanpassing, ontdekking en die bou van ’n nuwe ritme van lewe. Suid-Afrikaners reg oor die wêreld bou nuwe gemeenskappe, maar dra steeds hul taal, kultuur en herinneringe saam.

AfriForum Wêreldwyd se missie is juis om hierdie gemeenskappe met mekaar te verbind.

Deel jou storie met AfriForum Wêreldwyd

Woon jy ook oorsee? Ons hoor graag jou storie.

Vertel vir ons:
waar in die wêreld jy woon;
wat jou die meeste verras het van jou nuwe land; en
wat jy die meeste van Suid-Afrika mis.

Jou ervaring kan ander bemoedig wat dieselfde pad stap.
Stuur jou storie aan wereldwyd@afriforum.co.za

Deel op

"*" indicates required fields

This field is for validation purposes and should be left unchanged.
Watter taal praat jy by die huis?
Naam en van
This field is hidden when viewing the form

Nuutste artikels