Groot onsekerheid rondom belasting op aftreebesparings met emigrasie
Deur Amanda Visser
’n Rits veranderings en voorgestelde veranderings in die belasting op aftreespaargeld het, heel verstaanbaar, baie vrees en onsekerheid veroorsaak by Suid-Afrikaners wat in die buiteland woon of op die punt staan om te vertrek.
Die jongste voorstel in die Wysigingswetsontwerp op die Konsepbelastingwette het ten doel om belastingregte vir Suid-Afrika op betalings uit aftreefondse in alle gevalle te verseker. Die land sal nou sy “laaste hap van die kersie” kry, selfs al het die land waarin die Suid-Afrikaner ‘n belastingburger is ingevolge ’n dubbelbelastingsooreenkoms die enigste belastingreg op betalings uit aftreefondse.
Die voorgestelde veranderinge sal vanaf Maart volgende jaar in werking tree.
Joon Chong, ’n vennoot by Webber Wentzel, sê daar bestaan groot kommer in die aftredebedryf omdat die datum van inwerkingstelling 1 Maart 2022 is terwyl daar baie praktiese implementeringskwessies is wat steeds nie uitgesorteer is nie.
Chong waarsku ook dat dieselfde aftree-inkomste in sommige gevalle onderworpe kan wees aan dubbele belasting. Verskeie lande het enkelbelastingreg in hul dubbelbelastingooreenkomste met Suid-Afrika.
Dit sluit die Verenigde Koninkryk, Australië, Nieu-Seeland, China, Hong Kong, Denemarke, Duitsland, Italië, Portugal en Spanje in. Volgens die nuwe veranderinge sal die aftreespaargeld en rente ook onderworpe wees aan belasting in Suid-Afrika.
Gavin Duffy, vennoot by PwC, sê die Organisasie vir Ekonomiese Samewerking en Ontwikkeling skryf in die Modelbelastingkonvensie voor dat betalings uit aftreefondse slegs belasbaar is in die land waar die individu ‘n belastingburger is. Suid-Afrika het met hierdie lande onderhandel sodat hulle die alleenbelastingregte het.
Die nasionale tesourie dink dat die Suid-Afrikaner die belastingaftrekking op bydraes tot aftreefondse geniet, maar ’n ander land kry belasting op die inkomste uit die aftreefonds.
Vandaar die voorgestelde verandering.
Om belastingregte vir Suid-Afrika te verseker, het die tesourie voorgestel dat die belastingbetaler “geag word onttrek” te wees uit alle Suid-Afrikaanse aftreefondse, op die dag voordat die individu ophou om ’n Suid -Afrikaanse belastingburger te wees.
Maar vanaf 1 Maart vanjaar moet Suid-Afrikaners vir drie aaneenlopende jare belastingvry wees as die aftree-annuïteitsfonds en bewaringsfonds (waar die enigste verkiesing vir onttrekking plaasgevind het) onttrekkings moontlik maak. Dit beteken dat ’n belasting op ’n geagte onttrekking ontstaan, maar geen betaling is ontvang nie.
Gegewe die geweldige kontantvloeigevolge van hierdie tydsberekening, het die tesourie die geagte belastingaanspraak uitgestel totdat die belastingbetaler werklik uit die fonds betaling ontvang het. Gedurende die drie-jaar-wag sal die Suid -Afrikaanse Inkomstediens toegelaat word om rente op die uitgestelde skuld te hef teen ’n (huidige) koers van 7%.
Die internasionale belastingsfirma Regan van Rooy het vroeër gesê Suid-Afrikaners wat emigreer bevind hulle in die “bisarre situasie” dat rente op ‘n uitstaande belastingaanspreeklikheid opgelê word gedurende ’n tydperk waarin persone nie toegang tot hul aftreefondse het nie en die aanspreeklikheid kan vereffen nie.
Duffy is baie krities oor die voorstel en sê dit wil voorkom asof die nasionale tesourie dit aanvaar het met die veronderstelling dat alle Suid-Afrikaners wat die land verlaat, nooit weer sal terugkeer nie. Hy sê daar is baie gevalle waar Suid-Afrikaners die land verlaat met opdragte in die buiteland en belastingburgers word terwyl hulle in die buiteland werk. As hulle belastingburgers in die gasheerland word, sal die geagte onttrekking van krag wees en hulle sal ’n belastingaanspreeklikheid met rente hê, selfs al het hulle beplan om terug te keer na Suid-Afrika ná voltooiing van hul werksopdragte.
Hugo van Zyl, belasting- en valutabeheerspesialis, het vroeër ook opgemerk dat die voorstel nie voorsiening maak vir “mislukte emigrante” nie. Hy sê daar is mense wat moontlik gedwing sal word om na Suid-Afrika terug te keer as hulle hul werk in die buiteland verloor weens die impak van COVID-19.
“Iemand was dalk van plan om in die buiteland te bly, maar omstandighede het hulle gedwing om terug te keer. Wat gebeur as hulle terugkeer voor die drie jaar wanneer hulle toegang tot hul aftreespaargeld het? Hulle het nou die aftreefondsbelasting om die nek.”
Welvaartskeppers sê mense wat emigrasie oorweeg, kan ’n enkele onttrekking uit hul bewaringsfondse oorweeg voordat hulle emigreer. Hulle kan die volledige bedrag onttrek en word belas teen die belastingonttrekkingstariewe, maar daarna is hulle veilig. Dieselfde geld pensioen- of voorsorgfondse. Mense mag onttrek voordat hulle emigreer, maar weer sal die boete vir onttrekkingsbelasting van toepassing wees.
Mense wat bydra tot uittree-annuïteitsfondse sal eers ná drie jaar toegang tot hul spaargeld hê as hulle belastingburgers is. Die geagte onttrekking kan op hulle van toepassing wees.
Deel op
Nuutste artikels