Hierdie lewe

05/11/2025
| Deur AfriForum Wêreldwyd
Hierdie lewe

Deur Mignon du Plessis

Daar is, en was al, baie dae wat ek met my kop in my hande sit, denkend, wonderend: Gaan dit ooit makliker raak …?

Ek sien mense van ons ouderdom en jonger, en ek dink: Gaan ons ooit só ’n huis besit? Gaan ons ooit só ’n motor ry? Gaan ons ooit daardie reis maak? Want die meeste dae voel dit net buite ons bereik. Ek sien en hoor van dinge wat dalk ons s’n kon wees of waarvan ons dalk deel kon wees, en ek wonder: Was dit die opoffering werd? Die verhoudings; die besittings; die geriewe? Ek dink aan die verspeelde geleenthede; die “Wat as ons gebly het?”-oomblikke.

En dan gebeur ’n mylpaal soos hierdie – dié mylpaal van die immigrantegemeenskap! Hierdie mylpaal word nie beloon met goue trofeë nie, daar is geen tekenbonus nie en dit word beslis nie deur jou ouers vir jou gegee nie (tensy jy die gelukkige kind is wie se ouers die kans in jou beste belang gewaag het). Hierdie mylpaal is ’n stadige proses; iets waarvoor jy werk en elke besluit beïnvloed wat jy neem. Om hierdie mylpaal te bereik het jy waarskynlik tien stappe teruggeneem in terme van jou loopbaan en vyf jaar in geval van ’n lewe bou. En dis op daardie oomblik dat ek myself knyp, my uit daardie put van selfvertwyfeling trek en bereken wat ons wél die afgelope vyf jaar bereik het.

Ons het lande verruil — 14 000 km weg van waar ons ’n lewe gehad het, en familie, kultuur en bekendheid. Ons het ongeskoolde werk gedoen net om ’n voet in die deur te kry. Ons het onsself vertroud gemaak met splinternuwe gewoontes; ons het nuwe bestuurslisensies verwerf omdat ons aan die ander kant van die pad en in die sneeu moet ry; ons het taaleksamens geskryf, vaktoetse afgelê, ons seun in ’n derde taal skool toe gestuur, nuwe vriende gemaak en met ’n klein onderneming begin. Ons het selfs Kanadese babas gehad. Ons het besluit ons wil meer uit hierdie ervaring hê as net bloot gemaklik raak met waar ons is. Toe koop ons ’n sleepwa en reis vir tien weke lank met ’n sesjarige en ’n agt maande oue baba op soek na ons perfekte plekkie (iets wat nie moontlik sou wees sonder Kanada se betaalde ouerskapverlof nie). Ons het nuwe mense ontmoet, items van ons moet-doen-lys afgemerk, ’n eiland ontdek en verlief geraak op daardie eiland. Op die eiland het ons op ’n vallei afgekom en op daardie vallei verlief geraak. Ons het besluit om ons in daardie vallei te vestig: die Comox-vallei! Ons het 3 000 km geskuif van waar ons voorheen was. En van daar af het ons hierdie lewe weer van voor af begin bou – sonder meubels, sonder vriende, sonder familie en – om alles te kroon – sonder werk. Deur dit alles heen het ons daarin bly glo om ons harte te volg, maar met ons koppe!

Ons het ’n piepklein woonstel gekry, by ’n nuwe skool begin en werk gekry. Ons het ’n nuwe onderneming begin, deel van die gemeenskap geword en vriende gemaak. Ons moes nóg vaktoetse geskryf, na ’n groter huis trek, en werk en gesinslewe probeer balanseer met ’n agt- en tweejarige en geen familie om te help nie. Deur dit alles: papierwerk op papierwerk op papierwerk vir werkspermitte, permanente verblyf en uiteindelik burgerskap – maar nie voordat ons aansoek gedoen het om ons Suid-Afrikaanse burgerskap te behou nie.

En dis op ’n dag soos vandag dat ons trane in ons oë het van bloot suiwer verligting. Met tye voel dit asof dit vir die eerste keer in vyf jaar is dat ons regtig kan asemhaal! Want al was hierdie reis ongelooflik (en ons sou dit nie anders wou hê nie), was dit glad nie maklik nie. Die ergste van alles: Dit is eensaam.

Maar uiteindelik is ons trots om onsself Suid-Afrikaans-gebore Kanadese te noem! Ons is dankbaar dat ons kinders Suid-Afrikaanse wortels het, maar met Kanadese paspoorte wat vir hulle meer toegang tot die wêreld gee, of hulle nou hier bly of nie. Ons is lief vir ons aangenome land weens die veiligheid en sekuriteit wat dit bied, die natuurlike skoonheid wat ons kan beleef en die geleenthede wat dit vir ons kinders skep. Terselfdertyd is ons trots op die waardes en norme wat ons geliefde geboorteland in ons geplant het — en ons sal dit aan ons kinders en hul kinders oordra.

Ons is bevoorreg om hard te werk om hier ’n droom te bou en ons kinders die beste moontlike toekoms te gee. Want dit is immers die enigste rede waarom ons dit gedoen het: ter wille van ons kinders.

Ons wens elkeen wat nog op hierdie reis is of dit pas aanpak alle sterkte toe. Hou jou oog op die wáárom en besef dat tyd vinnig verbygaan. Voor jy jou oë uitvee, sal jy ook daardie sug van verligting slaak! En terloops: Dit is alles die moeite werd!

Groete
Die Du Plessis’s

Deel jou ervaring met ons, ’n gedig, ’n storie, of net ’n paar woorde uit jou hart.

Stuur dit aan ons by wereldwyd@afriforum.co.za.

Deel op

Nuutste artikels